Boekresensie: Die wolkversamelaars

Die Wolkversamelaars deur Nadia de Kock word uitgegee deur Kwela

Dis altyd lekker om ’n splinternuwe Afrikaanse roman onder oë te kry. Ek het Nadia de Kock se Die wolkversamelaars baie geniet. Die storie speel meestal in die winter in die yskoue sneeulandskap van die Glencoe-vallei in Skotland af. Ek was dus baie bly toe die weer hier in Jeffreysbaai saamspeel en ek die boek tydens ’n perfekte grys, reënerige en koue naweek kon lees. Ek het hoendervleiswekkende doedelsakmusiek saggies in die agtergrond aangesit en my knus onder ’n duvet toegewikkel. Kort voor lank het Talla, die hoofkarakter, se storie my meegesleur en kon ek nie die boek neersit nie.

Anschen Troskie beskryf Die wolkversamelaars op die voorblad as “’n Roerende, lieflike leeservaring”. Ek stem volkome hiermee saam. Die dik (302 ble.) sagtebandboek handel oor Talla wat vir drie maande na Skotland gaan omdat haar oorlede vriendin, Theresa, dit in haar testament versoek en ook vir die vliegkaartjies gesorg het.

Talla gaan tuis by Munro’s, ’n herberg vir bergklimmers wat Ben Nevis trotseer. Sy het haar wolkboekie (dis haar stokperdjie om seldsame wolke te identifiseer en daarin aan te teken) en Theresa se as in ’n roomysbak saamgebring. Sy hoop om met ’n tradisionele tartanwewer te gesels oor die maak en ontwerp van tartans, want sy is op byna vyf-en-veertig eers gereed om haar droom om te ontwerp na te jaag. Deel van die boek se trefkrag is dan ook die feit dat Talla net ’n gewone vrou is. Sy rook, moet haar sente omdraai, het heelwat foute gemaak in haar lewe, en daar is ’n hele paar spoke wat haar jaag. Sy is lief vir gedigte en haal dan ook gereeld die werk aan van onder meer Breyten Breytenbach en William Butler Yeats.

Gedurende die drie maande leer Talla interessante mense ken en raak sy by hulle lief en leed betrokke. Daar is Mikey, die kort grootpadridder en klopdanser met die grys, gevlegte hare wat ná twee dekades steeds na sy verlore geliefde soek. Ook Connor, die doedelsakspelende dokter wat ’n vrywilliger is by Glencoe Mountain Reserve. Verder is daar Neil en Teodor en Maggie en Ailsa … ook Astian, ’n mede-wolkversamelaar en Talla se eerste liefde wat nou in Shetland woon.

Talla se storie werk juis vir my omdat die karakters so suksesvol op die leser groei. Hulle wel en wee het my bygebly lank nadat ek die boek terug op my boekrak geplaas het. Ek is spyt dat ek nie iewers kan gaan loer hoe dit nou met sus of so gaan nie! En al rook ek nie self nie, kon ek elke keer dat Talla in die yskoue op haar rookklip gaan sit het om ’n dampie te maak, voel dat ek daar langs haar sit en bewe. In haar outeursnota noem De Kock die Tim Parry Jonathan Ball Peace Foundation. “Die organisasie verskaf onder meer ondersteuning aan slagoffers van terrorisme.” De Kock vervleg die hartseer verhaal van ’n driejarige seuntjie wat in 1993 deur ’n IRL-bom in Warrington, Engeland, dood is, meesterlik met Die wolkversamelaars se storielyn.

Hier en daar het die taalgebruik in die boek my effens gepla. Om ’n voorbeeld te noem: ’n Afrikaanse woord soos “snellermalman” op bl. 124 word onnodig geforseer (dis ’n tongknoper – probeer dit gerus vinnig sê) terwyl ’n volbloed Engelse woord soos “time-lapse-video’s” op bl. 289 wel die paal haal. Die wolkversamelaars is egter wonderlike leesstof en ek is baie bly oor my kopie wat ’n ereplek op my boekrak het.

Uittreksel: “Daar is ’n foto van die seuntjie op die webwerf. Iemand hou sy hand vas, maar die persoon is nie in die foto nie. Wie was dit? Sy ma? Die kinderoppasser? Kortbroek, lang kouse, ronde wange en ’n stralende glimlag. IRA bomb claims child. Talla raak aan die appelwangetjies op die skerm, kyk na die vreugde in die kinderogies. Haar keel brand.”

Meer oor die skrywer: Nadia de Kock is ’n skrywer en gewese uitgewer. Sy reis graag. In 2009 verskyn haar roman, Heildronk op ’n gypsyromp. Sy woon in Johannesburg en is ’n IT-spesialis.

Bestel Die wolkversamelaars by Graffiti Boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.