Boekresensie: In die tyd van die gif

In die tyd van die gif deur Dana Snyman word deur Tafelberg Uitgewers uitgegee.

Vir bewonderaars van Dana Snyman se skryfwerk wag daar ’n heerlike leesfees in dié bundel wat 75 stories en 272 bladsye beslaan. Snyman is bekend vir sy fyn waarneming en die besondere manier waarop hy na die wêreld en sy mense kyk. Hy het die vermoë om stories te vertel wat lesers in die karakters se leefwêreld insuig. Mens voel byna jy wil in jou motor klim en die mense waaroor hy skryf gaan opsoek. Sy waarnemings en belewenisse raak iets dieps in ’n mens se siel aan – miskien omdat hy ’n fyn balans handhaaf tussen pyn en verlies en ook geloof en hoop. En altyd is daar die skeut humor wat soos ’n knippie sout die hele dis smaakvol geur.

Die bekende resensent Jonathan Amid skryf die volgende oor die bundel op die agterblad: “Elegies, vol diepte en menslikheid. Terwyl verlies en verganklikheid dreig om ons te verswelg, vind hoop en deernis dikwels in die mees onverwagse plekke neerslag. In die tyd van die gif is ’n tydsdokument vol uitstekende, rou, eerlike vertellings – van Dana Snyman se beste werk nog.”

Ek stem volkome hiermee saam. Enige skrywer wat oor die pandemietydperk (’n jaar en ’n half in stories) kan skryf sonder dat dit ontaard in ’n treurmare het my bewondering. Baie skrywers sal ook Snyman se vermoë begeer om eg-menslik en betekenisvol gelaaide taferele met min woorde op te tower. Hy skryf byvoorbeeld op bladsy 124: “By die cash loans-plek sit ’n jong vrou op die trappie met ’n baba in haar arms, by haar voete is ’n inkopiesak met ’n sakkie hoenderpote en ’n pak Always- sanitêre doekies in. Ek woon in twee lande, besef ek weer.”

Ek het myself belowe dat ek slegs een storie op ’n aand sou lees, maar my voorneme het die eerste aand al gesneuwel. Die eerste skrywe is getiteld “Trigger warning” en handel oor Snyman se familie wat hy in die Kaapse argief gaan navors het. Hy skryf: “Ja, die heel eerste Snyman was nie wit nie. Christoffel Snijman was ’n bruin man. Groot Catrijn was donker van gelaat, ’n vrou van Indiese afkoms” (11) en vervolg op bladsy 12: “And now you want to tell me I’m a European and Afrikaans is not an indigenous language. Daar is nie slegs een Afrikaans nie, soos op ’n Slegs Blankes-bordjie op ’n hortjiesbank op Kerkplein in Pretoria in 1969. Afrikaans is geweerskote in Sharpeville in 1960 en in Soweto in 1976. Maar Afrikaans is ook Madiba wat Ingrid Jonker se ‘Die Kind’ in die parlement voorlees en die Belydenis van Belhar en ’n Hertzogprys vir Adam Small, al was dit jare te laat. Afrikaans is Kaaps en Garieps, Vrystaats, Pretôriaans en die gebalk van ’n donkie laatmiddag in Prieska se dorpskamp. ’n Taal is nie net vir praat en skryf nie. ‘Afrikaans is gesmee en gelouter tot ’n omvormingstaal,’ soos Breyten sê.”

Nou kyk, só ’n bek moet mos jêm kry.

Ek hou baie van foto’s en sal selfs die albums van wildvreemde mense wat soms in tweedehandse- of antiekwinkels opduik, deurblaai. In die tyd van die gif bevat heelwat swart-en-wit foto’s en dit neem die trefkrag van die teks na selfs hoër hoogtes.

Meer oor die outeur: Dana Snyman is ’n bekroonde skrywer met ’n paar topverkopers agter sy naam. Sy TV-reeks, Op pad met Dana, is baie gewild. Hy het meer as 57 000 volgelinge op sy Dana Snyman Skrywer-groep op Facebook.

Kry jou kopie van In die tyd van die gif by toonaangewende boekhandelaars of bestel dit hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vrijburger ·

Naaa, ek het genoeg gehad van Snyman se gewroeg oor die verlede en skuldgevoel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.