Eerste sooi vir skool se droombiblioteek gespit

Izelle Els, stigter van die Club 21-leersentrum, en haar seun, Jan-Herman, het die sooi vir dié skool se droombiblioteek gespit. (Foto: Maroela Media)

ʼn Atmosfeer van opwinding, dankbaarheid en verwondering het Maandagoggend tydens die amptelike sooispitseremonie van Club 21-leersentrum se Boekebos-leessentrum geheers.

Dit is aangebied met die oog op Wêreldboekedag, wat jaarliks op 23 April gevier word. Die boodskap wat telkens na vore gekom het, is dat hierdie projek te danke aan die gemeenskap se onvoorwaardelike ondersteuning verwesenlik word.

“Wat ʼn groot lekkerte om uiteindelik hier te staan. Die oomblik is groot en dit is ongelooflik dat die gemeenskap op soveel maniere saam met ons hande vat,” het Amanda Fourie, hoof van die Club 21-leersentrum in Doringkloof, Centurion, gesê.

Volgens Amanda is leesvaardighede een van die skool se hoekstene en dit is die grondslag wat gebruik word om geletterdheid te bevorder.

Amanda Fourie, hoof van die Club 21-leersentrum in Doringkloof, Centurion. (Foto: Maroela Media)

“Geen kind kan vorentoe beweeg as hulle nie die nodige woordeskat het nie, en hulle kennis kan ook nie uitgebrei word as daar nie begrip van hulle leefwêreld is nie. Boeke gaan dit vir ons kinders ontsluit.”

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, het vertel hoe die verhaal van Moses se staf wat in ʼn slang verander het en God wat vir Moses vra wat in sy hand is, toepaslik op hierdie projek is.

“Elke persoon wat hierby betrokke is, het ʼn staf in die hand wat gebruik kan word om die projek te laat realiseer.”

Verskeie rolspelers wat sedert Februarie stuk-stuk by dié projek betrokke geraak het, het ook die seremonie bygewoon. Maroela Media het vroeër berig dat verskeie skole, uitgewers en sakeondernemings van reg oor die land tans besig is om boek vir boek te bou aan Club 21-leersentrum se nuwe leessentrum – ʼn projek wat danksy drie mammas in Januarie vanjaar vlamgevat het.

Die hoofborge is Vibro Bricks, Big Box Containers, Atterbury Trust, Malcolm Wentzel en RMJ2 Services.

“Skole is die toekoms van die wêreld en daarom is dit een van ons groot fokusareas. Om in ʼn skool te kan belê, is regtig ʼn wonderlike geleentheid. Dit is natuurlik vir ons ook ʼn groot voorreg om deel van hierdie projek te vorm,” sê Ben Myburgh van Big Box Containers.

Mary-Ann Marais, Nicolette van Wyk, en Lisa du Plessis se seuns is leerders aan die Club 21-leersentrum. (Foto: Albert Bredenhann)

Volgens Danelle Strydom, bestuurder van studente en projekte by die Atterbury Trust, is dit juis die gemeenskapselement wat hulle laat besluit het om ʼn bydrae te lewer.

“Atterbury Trust se hart lê by die gemeenskap, en toe Maroela Media ons genader het en meer oor die hartklop van hierdie projek vertel, het ons onmiddellik gevoel dit is iets waarby ons betrokke kan raak.”

Schalk Strauss, hoof van Lig en Duisternis Uitgewers, sê die uitgewery se doelwit is om spreekwoordelik lig in duisternis na die wêreld te bring.

“Nie almal se duisternis lyk dieselfde nie. Party mense se duisternis het te doen met die uitdagings wat hulle moet oorkom.

“Kinders met downsindroom se uitdagings is baie groter en hulle duisternis is soms ook meer intens as ander mense sʼn. Dit is vir ons as uitgewer wonderlik om in sulke omstandighede ʼn stukkie lig in duisternis te bring.”

Danksy Afrit en Bidvest McCarthy Toyota Gezina is Club 21-leersentrum ‘n skoolbussie ryker. (Foto: Verskaf)

Maar ʼn biblioteek is slegs een van dié nie-winsgewende skool se behoeftes.

Uitdagings rondom vervoer is gelukkig nou danksy die hulp van Afrit en Bidvest McCarthy Toyota Gezina ook iets van die verlede met die skenking van ʼn splinternuwe skoolbussie.

Amanda vertel dat Afrit, ʼn maatskappy wat spesialiseer in die maak van sleepwaens en bakwerk vir vragmotors, nog altyd ʼn noue verbintenis met dié skool gehad het. Dit is boonop nie die eerste keer wat ʼn bussie deur Afrit aan hulle voorsien is nie.

“Hulle het absoluut ʼn hart vir leerders met downsindroom en ons is onsettend dankbaar vir dié massiewe skenking.”

Met die nuwe bussie kan die skool self sy leerders wat nie vervoer het nie, oplaai en hul boonop self na verskeie aktiwiteite, waaronder atletiek, swem en ysskaats neem.

“Ons begroting laat eenvoudig nie nou hierdie tipe aankope toe nie, maar ons is dankbaar dat lede van die gemeenskap bereid is om ons by te staan en ons te help om ons mandaat vir ons kinders uit te leef.”

Verskeie borge het die sooispitseremonie van die Club 21-leersentrum se Boekebos-leessentrum bygewoon. (Foto: Maroela Media)

Vragskiphouers, meer as 2 000 boeke, ʼn rekenaar, ʼn borgskap van R60 000 vir die isolering van die vragskiphouer, en ʼn borg vir die fondasie, is ook reeds geskenk.

Die projek benodig nog:

  • verf vir binne en buite
  • hout vir die bou van die boekrakke
  • ʼn mooi groot mat vir die leessentrum
  • meubels (insluitend stoeltjies, boontjiesakke en ʼn klein lessenaar)
  • dekor (vir die mooimaak van die leessentrum, byvoorbeeld kussings)
  • lugversorging
  • blindings

Stuur ʼn e-pos aan Eugene Lottering na [email protected] indien jy graag enige van hierdie items wil skenk. Tree eers met die projekspan in verbinding voordat enige aankope gedoen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.