Ma’s, gemeenskap span saam om leessentrum vir skool te bou

Club21 spesialiseer in die ontwikkeling van mense met Downsindroom. (Foto: Club21-leersentrum)

Een van die Club 21-leersentrum se hoofdoelwitte is om kinders en jongmense met Downsindroom selfstandig te maak om die wêreld daarbuite te betree.

Daarom het drie van dié skool se ma’s kragte met verskeie rolspelers, insluitend boekwinkels, uitgewers, skole en selfs ʼn bekende fotograaf saamgesnoer om hierdie doelwit met die krag van boeke te verwesenlik.

Nicolette van Wyk, Mary-Ann Marais en Lisa du Plessis se seuns is leerders aan die Club 21-leersentrum, ʼn uiters unieke nie-winsgewende skool wat sedert 2012 in die opvoeding en ontwikkeling van mense met Downsindroom spesialiseer.

Downsindroom is ‘n genetiese toestand wat deur ‘n ekstra kopie van chromosoom 21 veroorsaak word, vandaar die naam Club 21.

Hoewel sekere van dié skool se klaskamers reeds met leeshoekies toegerus is, wil die ma’s hul drie boekwurmseuns én hul ander Downsindroom-skoolmaats by die skool se Centurion-kampus nog verder bemagtig met die oprig van ʼn volwaardige biblioteek.

“Daar is ʼn groot wanpersepsie dat kinders of mense met Downsindroom swak of glad nie kan lees nie,” vertel Mary-Ann, wie se agtjarige seun, Tristan, opvoeding by Club 21 ontvang.

“Inteendeel, ek voel nou weer dat dit sy wêreld veel meer as ʼn selfoon of tablet verbreed. Vir ons is dit baie belangrik dat ons kinders daardie boek fisies moet vashou, sy taal kan ontwikkel, ʼn liefde vir lees kweek en beter met die buitewêreld kan kommunikeer.”

Club 21 kweek ‘n liefde vir lees by sy leerlinge. (Foto: Club 21 Learning Centre/Facebook)

Volgens Amanda Fourie, hoof van die Club 21-leersentrum, ondersteun navorsing die siening dat kinders met Downsindroom daarby baat om vanaf ‘n vroeë ouderdom leesonderrig te ontvang, aangesien dit hul gesproke taal én geheuevaardighede verbeter.

“Lees is die voorkennis van alle leer, so as jy kan lees kan jy leer. Kinders met Downsindroom leer lees op dieselfde manier as ander kinders, net teen ʼn ander pas,” verduidelik sy.

“Dit gaan ook vir ons daaroor om leesbegrip toe te pas en kinders te leer hoe om die storie se feite te verwerk en dit weer oor te kan vertel. Woordeskatuitbreiding is ook kernbelangrik omdat baie van ons leerders ʼn taalagterstand het, so lees is vir hulle ʼn belangrike kommunikasiemiddel, veral as hulle nog nie kan praat nie.”

Benewens die kognitiewe voordele, wil Club 21 hul kinders ook deur leesonderrig ingesluit laat voel.

“Ons wil hê dat ons kinders die wêreld moet verstaan en self ʼn resep kan volg of ʼn spyskaart lees. Lees is daardie konneksie wat hulle help om hul kommunikasiebrug te oorkom. Dit laat hulle ook deel voel en gee hul selfvertroue ʼn hupstoot.”

Benewens boeke, het die skool ʼn groot behoefte aan gemaklike meubels in die leessentrum om dit ʼn vriendelike plek vir die kinders te maak.

Volgens Amanda benodig hulle ook ʼn rekenaar vir ʼn uitleenstelsel wat deur oudleerlinge beman kan word en sodoende ook vir húlle werk skep.

Enige boeke, hetsy nuut of tweedehands, word verwelkom. “Ons leer ons kinders ook oor etiket, so selfs Tannie Emsie Schoeman se boeke word verwelkom,” voeg Amanda tergend by.

Albert Bredenhann (Foto: Verskaf)

Die fotograaf en skrywer, Albert Bredenhann, het ook sy gewig agter dié projek ingegooi nadat hy dié drie ma’s in ʼn boekwinkel daaroor hoor gesels het.

“Ek het kopieë van my een boek by die winkel gaan aflewer en hoor toe hoe hulle met die eienaar oor hulle biblioteek-idee gesels. Sonder om te dink het ek gesê dat ek graag sal wil help.”

Albert vertel dat hy sy sosialemediaplatforms, kennis en kontakte wou gebruik om die ma’s se droombiblioteek met 1 800 boeke te help bewaarheid, en dit blyk dat dít vinniger gaan gebeur as wat hulle besef het.

Die skool het reeds ʼn vraghouerklaskamer ontvang wat danksy die hulp van ʼn uitgewer, twee boekwinkels en twee skole tot barstens toe vol boeke gaan wees. Albert moedig egter steeds lede van die publiek aan om ʼn bydrae te lewer.

“Dade het meer krag as woorde, so ek daag mense uit om nie net bemoedigende boodskappe op sosiale media te deel nie, maar die moeite te doen om in hulle kar te klim en selfs net een boek af te laai om ʼn kind se dag te maak.”

  • Kontak Amanda Fourie by [email protected] om uit te vind hoe jy tot hierdie projek kan bydra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.