Fantasieryke avontuurverhale

Protea Boekhuis publiseer Tonke Dragt, ’n miljoenverkoperskrywer van Duitsland, se Die brief vir die koning en Geheime van die Wilde Woud. Beide boeke is puik uit Nederlands vertaal deur ons eie Daniël Hugo.

As jy lief is vir fantasieryke avontuurverhale met ’n goeie skeut eer en hart in, sal jy ook baie lekker lees aan hierdie tydlose stories met ’n morele inslag wat vriendskap, lojaliteit, dapperheid, geregtigheid en die seëviering van die waarheid voorop stel. Die hoofkarakter, Tiuri, het nie net in elke boek ’n dringende sending om te voltooi nie, maar hy kom voor allerhande keuses en uitdagings te staan op sy reise. Daar is gevaar om elke hoek en draai en sy uithouvermoë word tot die uiterste getoets. Hy probeer hard om altyd die regte ding te doen maar moet soms uit sy foute leer en ook by ander kers opsteek en nie net op homself staatmaak nie.

Die hoofstukke is lekker kort en dus perfek vir voorlees. Oud en jonk sal die boeke geniet wat afspeel in ’n magiese Middeleeuse wêreld – daar is magtige riviere, hoë berge en donker, misterieuse woude. Daar is ook interessante karakters soos byvoorbeeld monnike, ridders, kasteelhere, rowers, bosgeeste en ’n kluisenaar wat die stories help voortdryf. Die brief vir die koning beslaan 472 bladsye en Geheime van die Wilde Woud 442 bladsye.

Die skrywer, Antonia “Tonke” Johanna Willemina Dragt, is op 12 November 1930 in (vandag se) Jakarta, Indonesië gebore. Volgens ’n artikel in The Guardian is sy as kind saam met haar ma en twee susters drie jaar lank in ’n Japannese oorlogsprisonierskamp aangehou, terwyl haar pa, ’n werknemer van die Duitse regering, in ’n ander kamp aangehou is. Daar, in die konsentrasiekamp, het sy geleer om stories vir haar vriende op te maak. Haar familie is later weer herenig en hulle het na Nederland verhuis waar sy aan die Royal Academy of Art studeer het.

Dragt maak, as kunsonderwyser aan ’n oorvol publieke skool, stories op om die adolessente in haar klas rustig te hou, en só word Die Brief vir die koning gebore. Die storie gaan oor ’n sestienjarige seun, Tiuri, wat daarvan droom om, ná ’n proeftydperk, een van koning Dagonaut se dapper ridders te word. Vir vier-en-twintig uur voor uitsoek jong manne tot ridder geslaan word, moet hulle in ’n kapel waak, nadink, niks eet of drink nie en ook nie luister na stemme uit die buitewêreld nie. Maar dan hoor Tiuri ’n stem, sag soos ’n asemstoot, wat sê: “In hemelsnaam, maak die deur oop!” En só word die tafel gedek vir ’n briljante storie wat mens nie wil neersit nie. In 1963 word die boek bekroon met die Nederlandse Prijs voor het Beste Kinderboek en met die Griffel der Griffels 1955-2004. Dragt palm die Staatsprijs voor Jeugdliteratuur in 1976 in.

Geheime van die Wilde Woud vervolg soomloos op Die brief vir die koning. Dit is eweneens ’n reisverhaal propvol verskuilde gevare en intrige. Dit bied aksie en ontvlugting uit die boonste rakke. Tiuri is nou ’n ridder en ry graag op sy swart perd, Ardanwen, op die modderige pad langs die Blou Rivier. Koning Dagonaut kon nie dadelik van sy dienste gebruik maak ná Tiuri tot ridder geslaan is nie en het hom beveel om met sy ouers na Kasteel Tehuri te gaan en eers uit te rus ná sy vele avonture. Maar Tiuri raak nou rusteloos. Hy wens om ’n Swerwende Ridder te wees wat meer van die wêreld kan sien. Wense kan soms onverwags waar word, en voordat Tiuri hom kon kry, moet hy die gevaarlike opdrag nakom om ’n vermiste ridder op te spoor.

Ek het heerlik aan hierdie boeke gelees en beveel dit graag aan. Dit herinner nogal aan die Lord of the Rings-reeks en plaaslik het dit my laat dink aan Carina Stander se Die Bergengel-reeks.

Beide boeke is by toonaangewende boekwinkels verkrygbaar of by Graffiti Boeke:

Hier is ’n voorskou van die reeks, The Letter for the King, wat op Netflix te sien is:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.