Kinderfiksie te kies en te keur

Jong boekwurms kan na hartelus kies en keur tussen die wye verskeidenheid nuwe titels wat tans by LAPA Uitgewers beskikbaar is.

Izak de Vries, bestuurder: bemarking en kommunikasie, sê: “Ons by LAPA het nog altyd geglo dat ’n lekker storie die beste ambassadeur is vir lees. Dit geld vir kinders van 6 maande tot 106 jaar!” Hier volg ’n kort beskrywing van agt van die lekkerlees titels wat nou te koop is:

Dierehotel Omnibus

(Kate Finch) 7+ jaar, 160 bladsye

Dierelefhebbers sal hulle verlustig in hierdie drie stertswaai-lekker stories, naamlik: ‘Alle diere welkom’, ‘’n Groot verrassing’ en ‘Snuf in die neus’. Die tweeling Liela en Dirkie gaan woon in hulle tante se afgeleefde hotel en besluit om dit voortaan as ’n dierehotel te bedryf – beslis nie ’n maklike taak nie! Hulle gaste sluit in hope troeteldiere soos katte, honde, konyne, marmotte en voëls – selfs ’n afgetrede polisiehond genaamd Watson! Die hotel is vol ou kamers, ’n daktuin en ’n hysbak en Watson snuffel net moeilikheid uit. Hierdie opwindende dierestories is prettig, baie snaaks en propvol avontuur.

Uittreksel: “In die gang is Liela besig om ’n skinkbord vol bakke na die kamer te dra wat soos ’n woud geverf is. Boelie die bokser, Daisy die Hoogland-terriër en Frikkie die worshond is gereed vir hulle ontbyt.”

Koop die boek by Graffiti Boeke vir R124-00

Professor Fungus en die onsigbare skurk

(Jaco Jacobs), 7+ jaar, 56 bladsye

Die wonderlike nuwe uitvinding waaraan Professor Fungus in sy laboratorium werk, kan jou wraggieswaar onsigbaar maak. Dit word die Vloeibare-Energie-Reduserende Dubbel-Weerkaatsende Ydelheid-Neutraliseerder genoem oftewel V.E.R.D.W.Y.N. Die professor se eksperimente sorg altyd vir vet pret. Bennie en Jenny kan nie wag om hul ma se neef se nuutste uitvinding uit te toets nie. Maar o wee, ’n skelm steel die onsigbaarheidsformule om speperduur juwele by die juweelskou te gaps! Bennie en Jenny moet nou alles in hulle vermoë doen die juwele terug te kry. Die Professor Fungus-reeks is ideale leesstof vir jong wetenskapliefhebbers. Daar is boonop in elke boek ’n eksperiment wat die leser tuis kan doen. Die fantastiese karakters en prettige, humoristiese stories sal kinders ure lank vermaak.

Uittreksel: “Ek glo dit nie!” prewel Jenny. Professor Fungus se bene het verdwyn! Net sy bolyf hang in die lug. Argon gee ’n verskrikte blaf en snuffel-snuffel rond waar professor Fungus se bene moet wees.”

Koop die boek by Graffiti Boeke vir R92-00

Professor Fungus en die gekloonde konyn

(Jaco Jacobs), 7+ jaar, 56 bladsye

Die nimlike professor Fungus se heel nuutste uitvinding wil nie werk nie! Die Dupliserende Infrarooi Trippel-Turbo-Omsetter oftewel D.I.T.T.O moet dinge kloon, maar doen niks nie. Edison die robot, Bennie en Jenny neem die professor na neef Naas se plaas sodat hy ’n blaaskans kan kry. Hier loop dinge sommer gou vreeslik skeef en Argon die konyn blyk die oorsaak te wees, want daar is skielik orals konyne wat nes Argon lyk. Professor Fungus moet blitsvinnig ’n plan maak voordat die konyne al neef Naas se wortels opeet. Wetenskapliefhebbers sal hierdie boek vreeslik baie geniet. Daar is ook ’n eksperiment in wat die leser by die huis kan beproef.

Uittreksel: “Doen iets, Fungus!” bulder neef Haas. “Jou ellendige gekloonde konyne is besig om my hele wortel-oes op te vreet!”

Koop die boek by Graffiti Boeke vir R92-00

Superskurk

(Jaco Jacobs), 9+ jaar, 80 bladsye

Wessel moet vir twee weke lank by sy humeurige oupa in sy grillerige, stink huis buite die stad gaan bly terwyl sy ouers op ’n eilandvakansie gaan. Dit gaan die goorste vakansie van Wessel se lewe wees, want sy oupa haat kinders en sê sommer reguit dis nie ’n goeie idee dat Wessel by hom bly nie. Nie net is daar nie selfoonopvangs nie, maar Wessel moet ’n spul reëls gehoorsaam. Wessel vermoed gou dat alles nie pluis is nie. Oupa Zirk sluip saans alleen rond en soggens is hy vol blou kolle en skrape asof hy in ’n hengse geveg was. Boonop verbied hy Wessel om naby die geheimsinnige geboutjie in die tuin te kom. Wessel vind uit dat sy oupa die grootste superskurk in die hele wêreld is. Kort voor lank word Wessel gekonfronteer met allerhande agterbakse planne, ontploffings, superhelde, skurke, superkoel tegnologie en vlieg hy in ’n KnyperKopter. Hierdie boek is ’n pretrit van aksie en avontuur.

Uittreksel: “Ek sluk benoud. Gaan hy vanaand weer probeer om die uitsaaitoring plat te skiet? Of gaan hy weer tienduisend krappe in die gebou loslaat?”

Koop die boek by Graffiti Boeke vir R96-00

As die kat weg is

(Annette Herzog), 9+ jaar, 112 bladsye

Aristoteles is ’n silwergrys mannetjieskat met houding. Hy is ’n verwende huiskat in die fleur van sy lewe wat dink dat hy vreeslik mooi is. Hy reken ook dat dit Anna se plig is om sy pels te streel wanneer hy op haar skoot lê terwyl sy haar huiswerk doen. Maar dan vind Aristoteles uit dat Anna graag ’n hond vir haar verjaarsdag wil hê. Hy sien nie kans om Anna met ’n stink, irriterende en keffende dierasie te deel nie. Hy besluit om weg te loop sodat Anna na hom moet verlang en moet besef dat hy al troetedier vir haar is. Die lewe van ’n straatkat geval Aristoteles egter glad nie. Hy raak honger en verdwaal. As hy nie ’n kat was nie, het hy homself ’n ongeluksvoël genoem. Gelukkig sien hy ’n plakkaat met sy foto op. Anna soek sowaar na hom! Hy loop hom egter vas in skurke wat hom ’n vlooitaxi noem. Gaan Aristoteles ooit weer sy pad terugvind na Anna toe? Hierdie storie is skreeusnaaks en avontuurbelaaid en word uit die perspektief van Aristoteles die kat vertel. Kobus Geldenhuys het die boek uit die oorspronklike Duits vertaal.

Uittreksel: “Ek moet my man staan en daardie brak van die begin af laat verstaan wie die baas in hierdie huis is! Ek was voor hom hier – so ek maak die reëls.”

Koop die boek by Graffiti Boeke vir R120-00

Die swakste restaurant in die heelal en ander stories

(Jaco Jacobs), 9+ jaar, 126 bladsye

Wees gewaarsku: Hierdie heerlike versameling van 10 lekkerlees skaterlagstories is spesiaal geskryf om die jong leser se lagspiere te prikkel. Daar is nie ’n vervelige oomblik in die boek nie. Die skreeusnaakse en uiteenlopende kortverhale lok allerhande reaksies uit soos giggel, brul, skreeu, skater, proes, snork, en ja, jy kan selfs huil van die lag! Jaco Jacobs weet net hoe om jou tone te laat omkrul van al die jolige pret en plesier. ’n Nare boelie skrik hom simpel vir ’n krokodil in die skool se swembad. Hoe gemaak as jy ’n doodgewone seun is, maar almal verwar jou met ’n popster en wil jou handtekening hê? Elke jaar op sy verjaarsdag moet Altus vir tannie Breggie, wat ’n harige moesie op haar bolip het, soen. Hoe kan ’n restaurant blou kapokaartappels bedien saam met broccoli wat lyk soos iets wat ’n baie siek buffel uitgenies het? Skaf gerus hierdie snaakse boek aan om uit te vind watter ander wilde stories op jou wag.

Uittreksel: “Gross, Felix!” kreun ek toe ons ná die atletiekoefening huis toe stap. “Is jy seker daar’s nie ’n rot in jou tekkies dood nie?”

Koop die boek by Graffiti Boeke vir R128-00

Keshia Davids, Superheld

(Alesha Dixon), 9+ jaar, 160 bladsye

Keshia, ’n doodgewone meisie, vind op ’n dag uit dat sy oor superkragte beskik wanneer daar ligstrale by haar vingerpunte uitskiet. Sy ontdek tot haar skok dat haar ma ’n dubbele lewe lei as geheime superheld terwyl haar pa tuis bly en na die kinders omsien. Keshia ondergaan superheld-opleiding om te keer dat sy nie ontplof nie en om uit te vind watse ander spesiale kragte sy nog het. Tussenin moet sy nog haar skoolwerk ook doen. Dan daag haar ma se bose tweelingsus op en die vonke spat behoorlik. Hierdie is ’n skreeusnaakse, aksiebelaaide avontuurverhaal wat spesiaal deur Lydia du Plessis vertaal en aangepas is sodat dit by Suid-Afrikaanse lesers sal aanklank vind.

Uittreksel: “Skielik voel ek weer die vreemde, tintelende gevoel in my arms. Dit voel asof my vingers aan die brand is. Kadwa! Strale skiet by my vingers uit en ligstrepe bars by my palms uit. Dit skroei oor die grasperk. Dit slaan die voëlbad om!”

Koop die boek by Graffiti Boeke vir R124-00

Die rustelose mummie

(Theresa van Baalen), 9+ jaar, 80 bladsye

Sanri droom daarvan om ’n superjoernalis te word. Sy stel ondersoek in toe ’n rondreisende uitstalling met interessante artefakte en ’n mummie uit antieke Egipte na Raaiselfontein se museum toe kom. Vanuit die staanspoor gebeur daar snaakse dinge wat haar oortuig dat alles nie pluis is met die mummie nie. Die ding loop dan rond, grom en lag hardop! Is hy gevaarlik? Waarna is hy so angstig op soek? Al is hierdie die agtste boek in die gewilde Sanri Steyn-reeks waarvan meer as 20 000 kopieë al verkoop is, kan die boek op sy eie gelees word. Seuns en meisies sal dol wees op die aweregse humor en grillerige tema. Johann Strauss se illustrasies dra by daartoe dat dié boek ook ’n treffer is.

Uittreksel: “Dit lyk of die mummie hom uitrek, net soos iemand sal maak as sy spiere styf is ná hy lank stilgestaan het. Die mummie lig sy een been hoog op en sit dit weer neer, dan lig hy sy ander been hoog op en sit dit neer. Toe gee hy ’n tree tot by sy masker wat op die staander langs hom is.”

Koop die boek by Graffiti Boeke vir R100-00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ouma van 6 ·

Die boek “Superskurk” behoort verban te word. Dit stel grootouers en veral oupas in ‘n baie slegte lig. Dit is uiters swak smaak van die skrywer om eers so iets uit te dink. Skaam julle Lapa Uitgewers om aan so ‘n boek te raak. ek sal seker maak dat niemand in my familie enige van die boeke deur julle uigegee koop nie!!

Heino du Plessis ·

Beste Ouma van 6

Dit spyt my dat mevrou so voel oor een van ons land se beste kinderboekskrywers. Tog is u bietjie vaag oor wat presies van die boek dit is wat u pla. Ons wil baie graag weet wat u kwel oor die boek. U is baie welkom om ‘n e-pos te stuur na [email protected] en te vertel waarom u so voel. Ons gee nie sommer boeke uit wat nie leersaam is nie, selfs in ‘n lekker fantasieverhaal soos ‘Superskurk’ is daar baie om te leer. Miskien kan ons meer duidelikheid kry as mevrou vir ons ‘n paar punte van kommentaar lewer.

Groete
Heino du Plessis
Bemarking en Kommunikasie
LAPA-Uitgewers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.