Kom skaterlag saam met David Walliams in SA

David Walliams word wêreldwyd as een van die invloedrykste kinderboekskrywers beskou.

Die kinderboekskrywer David Walliams is op pad na Suid-Afrika, en lesers kan van vandag af kaartjies vir dié boektoer bespreek wat in Mei plaasvind.

Jonathan Ball, wat Walliams se boeke onder die druknaam HarperCollins Children’s Books publiseer, het pas aangekondig dat boekbesprekings op Woensdag 14 Mei in Pretoria, op Donderdag 15 Mei in Johannesburg en op Vrydag 16 Mei in Kaapstad aangebied word. Walliams sal ook van 17 tot 19 Mei by die Franschhoek Literêre Fees aansluit.

Volgens die uitgewer kan aanhangers van Walliams se alomgewilde stories uitsien na gesprekke oor wat sy kreatiewe proses behels, die vreugde daarvan om stories te vertel en die eerstehandse ervaring van hierdie skrywer se humorsin.

Walliams is ewe opgewonde oor sy besoek aan Suid-Afrika, en hy sien daarna uit om soveel as moontlik lesers te ontmoet.

“Ek is dankbaar vir al die wonderlike dinge wat julle oor die jare vir my gedoen het en die manier waarop my werk deurentyd ondersteun word,” het hy in ʼn Instagram-video gesê.

Walliams word wêreldwyd as een van die invloedrykste kinderboekskrywers beskou. Sedert sy debuutboek, The Boy in the Dress, in 2008 verskyn het, is sy boeke in 55 tale vertaal, en daar is meer as 56 miljoen eksemplare van sy boeke verkoop.

Kodenaam Piesangs (Code Name Bananas), Die aardigste kinders op aarde (The World’s Worst Children), Mnr Stink (Mr Stink), Boudebiljoenêr (Billionaire Boy) en Oupa ontsnap (Grandpa’s Great Escape) is enkele van die Afrikaanse vertalings van Walliams se werk wat ouers en kinders gereeld tydens storietyd laat skater van die lag.

Besoek Webtickets om meer oor die verskillende boekgesprekke te wete te kom en om kaartjies te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.