Luister: Vyf wenke vir ʼn ligter lewensreis

Jaco Strydom is die leier van die Echo-jeuggemeenskap en deeltydse predikant in Villieria. Sy jongste boek, ‘Leef lig’, het pas verskyn. (Foto: Verskaf)

Hoe dikwels hoor ons nie dat ʼn mens meer moet besit of doen om suksesvol of gelukkig te wees nie? Om nie eens te praat van die druk om klokslag jou beste oomblik, uitrusting of gesondste ete op Facebook en ander sosialemediaplatforms te deel nie.

As jy daagliks ook deur hierdie maalstroom van gedagtes meegesleur word, dan behoort Jaco Strydom se jongste boek, Leef lig, vir jou ʼn tikkie gemoedsrus te bied.

Strydom keer die denkwyse dat om meer te hê beter is behoorlik op sy kop. Trouens, hy moedig lesers aan om ligter te lewe deur na gewoontes van die vroeë kerk te verwys.

“Die boek ondersoek juis die vraag: Wanneer het ʼn mens dan nou genoeg? En dit ondersoek die idee dat ʼn mens eintlik dikwels iets moet laat gaan as jy jou lewe meer betekenisvol wil hê.”

Hy identifiseer vyf gewoontes wat telkens in die vier Evangelies (Matteus, Markus, Lukas en Johannes) nagevolg word. Jesus het sy dissipels se aandag gereeld hierop gevestig en gemaan dat hulle hul lewe op dieselfde wyse inrig.

Strydom neem dan die gewoontes van die vroeë kerk en maak dit van toepassing op ons eie lewe. Hy stel dié vyf gewoontes voor vir ʼn ligter lewe:

  1. Sonder tyd in gebed af en fokus daarop om stil te word.
  2. Leef in eenheid met ander (wees ʼn eenheid wat innooi eerder as om uit te sluit).
  3. Reis lig (om baie te doen met die bietjie wat jy het).
  4. Wees goed vir jou vyand.
  5. Gee om vir die wêreld.

“Dit is nie maklik om daagliks hierdie gewoontes na te streef nie,” erken Strydom. “Maar dit is wat God van ons as Christene en sy volgelinge verwag. Slegs deur die navolging van hierdie gewoontes kan ons werklik op ʼn plek kom waar God ten volle verheerlik word.”

Leef lig is deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, uitgegee. Klik hier om die boek aanlyn te koop.

  • Maroela Media het met Jaco Strydom, leier van die Echo-jeuggemeenskap en deeltydse predikant in Villieria, gesels. In sy jongste boek, Leef lig, motiveer hy Christene om vyf gewoontes van die vroeë kerk aan te leer. Luister boaan die berig na die volledige onderhoud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.