Madri Victor dolgelukkig in haar boekewêreld

Madri Victor, besturende redakteur by Lapa Uitgewers se fiksieafdeling. (Foto: Verskaf)

Toe Madri Victor, besturende redakteur by Lapa Uitgewers se fiksieafdeling, destyds moes kies wat sy wou studeer, was Afrikaans en Nederlands die een en enigste oorweging.

Die plan was om ʼn dosent te word, maar binne die eerste semester het ʼn nuwe behoefte ontstaan: sy wou in die uitgewersbedryf werk.

Vandag kyk Madri terug op 10 jaar wat sy al in die plaaslike boekbedryf doenig is. Wanneer sy oor stories, boeke en skrywers begin gesels, kom jy gou agter dat sy totaal versot op haar werk is.

Maroela Media het met Madri gesels oor haar loopbaan, mentorskap aan skrywers en die Skryf ʼn liefdesverhaal-kursus wat sy vir Skryfnet ontwikkel het.

Boeke en stories by dosyne

“Ek werk al bykans ʼn dekade in die plaaslike boekbedryf en ek kan nie aan enigiets anders dink wat ek eerder sal wil doen nie,” vertel sy laggend.

Voor Madri by Lapa, ʼn druknaam van Penguin Random House, aangesluit het, was sy as redakteur verantwoordelik vir die liefdesverhale wat by NB-Uitgewers verskyn het. Sy bied steeds tussendeur skryfwerkswinkels aan, doen vryskutmanuskripontwikkeling en mentor jong, ontluikende skrywers.

“Wat ek die meeste van my werk en betrokkenheid by die bedryf geniet, is die verhoudings wat ek met skrywers, medewerkers en ander mense opbou,” sê sy.

Madri het voorheen as aflosdosent Afrikaanse letterkunde by die Universiteit van Kaapstad onderrig. “Ek hou daarvan om klas te gee en dit is fantasties as ek geleenthede kry om opleiding te doen.”

Sy was ook die koördineerder van die US Woordfees se skrywersfees, en sy het dié fees se jaarlikse kortverhaalkompetisie op die been gebring en as samesteller daarvan opgetree.

Madri Victor geniet ‘n goeie koppie koffie terwyl sy werk. (Foto: Verskaf)

“Ek is geweldig trots op die kortverhaalbundel,” vertel Madri. “Dit is wonderlik om te sien hoe die projek nog elke jaar aangaan sonder my.”

Daar is ʼn effense stilte toe die vraag oor hoogtepunte opkom. “Daar is soveel uitsonderlike gebeurtenisse: Elke boek wat voltooi word, is uniek; elke dag wat ek kan opstaan en met skrywers werk, is ʼn voorreg; en elke persoon wat ek kan help om ʼn skryftegniek te bemeester, is vervullend.”

Madri is self ook ʼn skrywer. Haar eie kortverhale is opgeneem in Break the spell/Spreek die woord, Kleur van die liefde en Die perfekte brander.

Daarom, meen sy, kan sy empatie met skrywers hê wanneer hulle uitdagings of probleme in hulle skryfwerk teëkom.

“Ek het begrip vir skrywers en die dinge waarmee hulle sukkel. Om ʼn storie te skep vat tyd, dit verg hope aandag en energie en ʼn mens onderskat die emosionele uitwerking wat dit het.”

Kom skryf ʼn liefdesverhaal

Met Skryfnet se Skryf ʼn liefdesverhaal-kursus wat op 19 September afskop, wil Madri deelnemers toerus met kennis van die belangrikste elemente van romans.

“Ek dink die belangrikste element van ʼn liefdesverhaal is dat dit die leser moet meevoer. Wanneer jy dit lees, moet jy in daardie oomblik kan glo dat so iets met jou kan gebeur.”

Deelnemers aan hierdie kursus sal onder meer leer hoe om oortuigende karakters te skep en hulle drome en motiverings gebruik om die plot woema te gee en spanning te bou.

skryfnet-roman-facebook-5-sept-01-002.jpgDaar word boonop gefokus op die vroulike perspektief en hoe ʼn skrywer in ʼn heldin se lyf kan klim. Die kursus maak deelnemers ook touwys hoe om liefdesverhale vir publikasie voor te lê.

Madri sê enigeen kan kom saamskryf. “Die kursus is nie net vir mense wat ʼn boek wil skryf nie. Enigiemand wat die behoefte het om hulle skryfwerk te verbeter, kan inskryf. Jy kan dit regtig ook net doen vir die lekkerte.”

Besoek Skryfnet se webwerf om jou plek te bespreek. Sodra die registrasieproses afgehandel is, sal daar ʼn e-pos met verdere inligting deurgegee word om toegang tot die leerplatform te kry.

Deelnemers wat die kursus voltooi, ontvang ʼn sertifikaat van Akademia. Inskrywings sluit op 15 September 2022. Koste beloop R2 100 per persoon.

Vir meer inligting oor die kursus, besoek ook Skryfnet se webwerf, stuur ʼn e-pos na [email protected] of volg ons op Facebook en Instagram.

Skryfnet is ’n projek deur Maroela Media en Akademia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.