’n Dr. Seuss-leesfees

Protea Boekhuis het onlangs vier vertaalde kinderboeke deur Dr. Seuss, ’n topverkoperskrywer en illustreerder, uitgegee. Die boeke se titels is: O, die dinke wat jy kan dink! (Oh, the Thinks You Can Think!), Daar’s ʼn grak in my sak (There’s a Wocket in my Pocket), Hier kom die kat (The Cat in the Hat) en Die kat kom terug (The Cat in the Hat Comes Back). Jaco Jacobs het die duursame hardebandboeke (285 x 210 mm) keurig in Afrikaans vertaal.

Theodor Seuss Geisel (1904-1991) het sowat 60 kinderboeke geskryf en geïllustreer. Daarvan is wêreldwyd 600 miljoen kopieë verkoop en in 30 tale vertaal. Hy is een van die mees bekende en geliefde kinderboekskrywers ooit. En dis geen wonder nie – sy boeke prikkel die verbeelding en laat kinders (jonk en oud) grootoog van verwondering oor hoe heerlik hy met taal speel. Moet jou nie laat flous deur die oënskynlike eenvoud van die teks nie. “Met die snaaksste stories, die dolste diere en die raarste rympies maak dr. Seuss lees lekker!” aldus die lokteks op die agterblad. Hiermee stem ek volkome saam.

O, die dinke wat jy kan dink!

Dis voorwaar ’n heuglike dag wanneer kinders hulle verbeeldingskrag ontdek en besef hulle kan hulle eie dinke dink, hulle eie wêreld inkleur en hulle eie karakters skep. Dis ook ’n groot lekkerte wanneer ’n skrywer self illustreer. Lesers kry dan ’n eersterangse blik op wat regtig in die skrywer se kop gebeur. In O, die dinke wat jy kan dink! word kinders aangemoedig om onder meer aan ’n flof, ’n snert, kalboene, bablortse en binks te dink.

Daar is so baie DINKE
wat ’n dinker kan dink.
Sal jy
’n tand trek
van ’n
RINK-RINKER-FINK?

Daar’s ’n grak in my sak

In hierdie boek gaan lesers saam met dr. Seuss op ’n onsinnige avontuur. Die lawwe woorde wil-wil bekend klink. Kinders wat soms letters of klanke van nuwe woorde omdraai of verkeerd kry, sal heerlik lag wanneer hulle besef dat hulle “foute” eintlik heel vermaaklik kan wees. Hulle lees byvoorbeeld van jappe op die trappe, die snafon teen die balkon, die zort in die stort en die jussing op die kussing. Natuurlik verteenwoordig elke vreemde woord ’n wonderlike dierasie.

Dink jy
ook soms
Daar’s ’n
GLIPPERJANTJIE
in jou SNIPPERMANDJIE?

Hier kom die kat

Dit sneeu buite. Sonja en haar boetie is alleen tuis en baie verveeld. Maar dan stap die kat met die hoed die huis binne. Hy wil allerhande prettige en onmoontlike toertjies doen en het boonop twee Dinge saamgebring. Sommer gou loop alles skeef. En o wee, Ma is amper tuis! Wat gaan hulle vir haar sê as sy vra: “Wat het julle vandag als gedoen?”

Ons vis sê: “Daai kat
mag beslis nie hier kom nie!
Sê vir daai kat
julle speel nie met hom nie.
Die kat met die hoed
hoort nie hier in ons huis nie.
Daardie kat moet gee pad,
want jul ma is nie tuis nie!”

Die kat kom terug

Sonja se ma gaan dorp toe en beveel haar en haar boetie om die sneeu in die erf weg te kry. Maar o wee, toe Sonja-hulle weer sien, stap die hoedkat by hulle voordeur in. Natuurlik veroorsaak die kat erge konsternasie en chaos. Maar toemaar, gelukkig het hy helpers gebring om alles op te ruim. Kinders leer die alfabet speel-speel ken.

“Ô-ô!” sê Sonja.
“Daai kat ken ek goed.
Bly weg van daai kat,
dis die kat met die hoed.
Moet nie met hom speel nie,
sê net jy weier.
Nare dinge gebeur
wanneer daai kat kom kuier!”

Al vier hierdie boeke is by toonaangewende boekhandelaars beskikbaar of kan aanlyn bestel word deur op die titels te klik: O, die dinke wat jy kan dink!, Daar’s ’n grak in my sak, Hier kom die kat en Die kat kom terug. Ek glo voorskoolse kinders sal veral baie van hierdie oulike en kleurvolle boeke hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marthinus W ·

Verelde jaar is ses van Dr Seuss se boeke in Amerika verban, omdat dit glo rassities is. Onder andere die heel eerste een, “To think I saw it on Mulberry street”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.