’n Voltooide sirkel in Distrik Ses

Grizelda Grootboom (Foto: Facebook/ Grizelda Grootboom)

Deur Wendy Maartens

Om ʼn sirkel te voltooi was nog altyd vir my spesiaal. Dit gebeur gereeld wanneer ek ʼn storie skryf. En as ek baie gelukkig is, smee ʼn verhaal en die ondermaanse ʼn vennootskap wat deure oopmaak, grense afbreek en ons help om met nuwe oë na ander en onsself te kyk.

Dit het kort na Vrouedag met my gebeur toe ek so bevoorreg was om Grizelda Grootboom, ʼn slagoffer van mensehandel, se uitsonderlike oorlewingsverhaal terug Distrik Ses toe te neem na waar alles drie dekades gelede begin het. Saam met my in Otto Stigting Suid-Afrika se splinternuwe Protea Biblioteek, was ʼn groep graad 7-meisies wat eers grootoog geluister en toe entoesiasties deelgeneem het.

In Grizelda se eie woorde: “’n Meisie word binne twee tot drie uur opgespoor, ontvoer en verkoop nadat sy op sosiale media in die strik van ʼn mensehandelaar getrap het. Dis maklik, want op sosiale media verklap ʼn mens alles oor jouself sonder om twee keer te dink.”

Grizelda weet presies waarvan sy praat. Dit bekommer haar dat kinders nie weet wat mensehandel is nie en dat volwassenes dink dit is iets wat net in flieks gebeur.

Vandag is sy ʼn ambassadeur vir die Verenigde Nasies en reis sy die wêreld plat om mense teen dié gruwel te waarsku.

Grizelda wéét sy het oorleef om ʼn rede.

Haar merkwaardige verhaal van oorlewing begin saam met haar pa, oupa en ouma in Distrik Ses, Kaapstad. Alles het goed gegaan totdat die apartheidsregering die huis waarin hulle gebly het platgestoot het. Grizelda was toe 8 jaar oud. Haar oupa en ouma is kort daarna, binne twee weke uit mekaar, oorlede. Grizelda se pa, wat na haar moes kyk, het begin drink en nie die vergaderings bygewoon waar ʼn mens ʼn huis op die Kaapse Vlakte kon kry nie.

Kort voor lank het hulle van een skuiling na die volgende getrek of onder die brug naby die hawe gebly. Dwarsdeur alles het Grizelda se pa nooit vergeet om haar te vertel hoe lief hy haar het nie.

Terwyl hulle slaapplek gesoek het, het hy haar hoog op sy skouers gedra en vir haar gesing. Uiteindelik is hy op straat doodgesteek.

Op ʼn dag loop sy haar oom raak. Hy vertel Grizelda dat haar ma weer getroud is en in Khayalitsha bly. Grizelda skraap al haar moed bymekaar en soek haar ma op. Die ontvangs is kil. Sy word ingenooi en as haar ma se susterskind voorgestel. Kort voor lank is sy haar ma se nuwe gesin se huishulp.

Een aand, terwyl sy en ʼn maat by ʼn gemeenskaplike kraan gaan water haal, dreig vier seuns die meisies met ʼn mes en verkrag hulle in ʼn leë hut.

Een van die bure, wat die meisies saam met die seuns gesien het, gaan sê vir Grizelda se ma. Toe Grizelda by die huis kom, is die gort gaar.

Die volgende dag keer die 9-jarige Grizelda terug na die brug by die hawe – sonder om enigiemand te sê.

Die lewe op straat is gewelddadig. Grizelda sluit by ʼn bende aan wat haar laat voel asof sy familie is. Hulle leer haar om te oorleef – ook in die polisieselle as hulle gevang word.

Na ʼn paar jaar kry sy blyplek in ʼn skuiling vir straatkinders. Toe sy agtien word, is sy te oud om daar te bly. Weer keer Grizelda terug na die brug by die hawe – koud, honger en moedeloos.

Op ʼn dag ontmoet sy ʼn ryk meisie wat haar ʼn beter lewe in Johannesburg belowe. Dit is die begin van ʼn nagmerrie wat twaalf jaar sou duur.

Toe hulle by die vriendin se woonstel aankom, is dit leeg. Sy het Grizelda gerusgestel dat die meubels nog moet kom. Daarna het sy iets vir hulle gaan koop om te eet en nooit weer teruggekom nie.

Die volgende oggend daag drie mans op. Hulle pluk Grizelda se klere af en bind haar hande en voete vas. Stadig maar seker dring dit tot haar deur: sy is verkoop om haar vriendin se studiegeld te dek.

Die volgende twee weke word sy in ʼn donker kamer aangehou. Om seker te maak sy veg nie terug nie, word sy uitgehonger en met dwelms ingespuit. Na twee weke bring Grizelda se ontvoerders ʼn nuwe meisie en gooi haar in die middel van die nag op straat uit. Sy is te bang om polisie toe te gaan. Hulle sou dink sy is net nog ʼn dwelmverslaafde.

Die jare kom en gaan.

Op ʼn dag sê ʼn vrou wat gereeld vir pasiënte kom bid aan Grizelda: “Jy beter uitvind hoekom jy nog leef. Niemand se hart kan aanhou klop met al die dwelms wat in jou liggaam was nie”.

Hierdie woorde tref Grizelda diep.

Sy wil ʼn lewe lei waar haar verkragters en die mense wat haar verraai het nie meer in beheer is nie.

***************

Op 35-jarige ouderdom gaan sit Grizelda en skryf haar eerste boek, Exit!. In die proses verskaf Grizelda inligting oor mensehandel in Suid-Afrika wat mense wêreldwyd laat regop sit.

Vir die eerste keer praat ʼn vrou wat die gruwels self beleef het. Sy praat namens al die meisie wat nie uit die houvas van hul “pimps” kan ontsnap nie. Al die meisies wat verdwyn het en wie se name ons nooit sal ken nie. Al die meisies wat nog iewers toegesluit is.

Stadig maar seker tel sy die stukkies van haar lewe op en begin veg vir die regte van slagoffers. Sy werk ook hard sodat veilig blyplek vir hulle geskep kan word.

Uiteindelik word Grizelda genooi om in die parlement oor die seksslaaf-industrie in Suid-Afrika te getuig.

Toe sy opkyk, kyk sy vas in die gesigte van sommige van haar vorige klante wat duidelik geskok is dat sy nog leef.

Grizelda huiwer nie ʼn oomblik nie.

Sy haal diep asem en kyk hulle vas in die oë.

Sy is geslaan, verkoop, verkrag en vir dood agtergelaat, maar sy is terug vir goed.

Sy is Grizelda Grootboom van Distrik Ses.

Nou, meer as ooit!

 Toe ek groet, beloof ek om Grizelda en die Otto Stigting in verbinding te bring. Kort daarna laat Grizelda weet: “When would you like me to visit? God Bless.”

Wat meer kan ek sê oor hierdie voltooide sirkel in Distrik Ses?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maryna ·

Sjoe, wat ‘n inspirasie is jy nie! Jy is deur so baie, van so jong ouderdom, en tog is jy nog so positief!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.