Resensie: Het Ben du Toit as dominee toe uiteindelik gekies vir die slang?

Deur prof. Kobus Kok

God – Is daar ʼn ander antwoord? word deur LAPA Uitgewers uitgegee.

As ek aan dr. Ben du Toit dink, dink ek aan ’n dinamiese, intellektuele dominee en kerkleier wat op die moderamen van die NG Kerk ’n leidende rol gespeel het. Soos Johannes en Jakobus pilare van die vroeë kerk was, was Du Toit een van die pilare van die NG Kerk. Daarom is sy jongste boek God: Is daar ’n ander antwoord? so ʼn bietjie van ’n skok vir my.

ʼn Mens moet met deernis luister na iemand soos Ben du Toit en die diep, seer en traumatiese reis wat hy by wyse van spreke deur James Hollis se Through the Dark Wood ondergaan het, probeer begryp. Ook moet ʼn mens respek hê vir die wyse waarop hy tans die moed het om sy huidige oortuigings op die tafel te plaas. Hy doen dit egter lank nadat hy op pensioen gegaan het. Daar was ander wat dit voor pensioen gedoen het en die prys moes betaal.

Die boek se insigte gaan die meeste mense ontstel en selfs teleurstel. Daar gaan wel ’n klein minderheid wees wat nuwe taal, nuwe raamwerke en nuwe metafore gaan ontvang waarin hulle die woorde gaan kry om hulle eie sterwende belewenis met die kerk en God mee te kan beskryf. Ek dink dat die boek baie gevaarlik vir sommige mense kan wees in die sin dat dit die woorde en gedagtes gee wat mens net een pad gaan vat – en dit is om tot ongeloof en ontnugtering te kom. As dit die trajek is waarheen jou reis gaan, gaan hierdie boek soos met ʼn waterval jou afvoer oor die kruin en jou laat neerplons in die woelige water daar onder. Daarna sal jy waarskynlik nooit weer bo op die waterval kan kom nie omdat dit ʼn “matriks” waterskeidingsmoment vir jou gaan behels.

In ’n verhelderende toespraak tussen Ben du Toit en Jean Oosthuizen verduidelik Du Toit sy reis. Maar aan die einde van die gesprek antwoord hy self dat hy homself vandag as ateïsties beskou. Tog vind hy die term problematies en verkies post-teïsties. Du Toit vertel hoe bevrydend dit vir hom is om ontslae te wees van ʼn konseptuele raamwerk waarvolgens God sy lot sou bepaal. Nou dat ʼn persoonlike God vir hom nie meer bestaan nie, en geen effek op hom het nie, voel dit vir hom of hy voluit kan lewe. Tog sien ek in sy oë en die lyne van sy mond ʼn gestroopte realisme, ʼn bitter sinisme. En persoonlik het ek juis dit by ander gesien wat deur hierdie proses is. Gestroopte realisme en inherente skeptisisme.

Baie mense sal sê dat Ben du Toit moet erken dat sy ganse reis hom uitgebring het by die waarheid van die slang. Die slang was die heeltyd reg. Die lewe is beter sonder God se beperkende onderdrukking.

In “Treaty”, een van Leonard Cohen se liedere in sy album You Want it Darker, beskryf hy sy ontnugtering en wegbeweeg van God. Tog was Cohen tot en met sy dood in sy liedere altyd besig met God wanneer dit ten diepste saak maak. Miskien omdat dit so diep in sy DNS sit. In sy lied “Treaty”, ʼn twee vlak narratief (oor romantiese liefde en oor God), skryf hy die volgende: “Ek is altyd moeg en kwaad” en “Ek is jammer vir die spook wat ek jou (of U) gemaak het, want al wat regtig was, was ek”. Dis die aard van die ontnugtering as ʼn mens besef jou projeksies was net projeksies en al wat oorbly is jý. Maar daardie ontdekking laat ʼn mens soms voel soos die slang in die paradys, skryf Cohen. In ʼn pragtige metafoor skryf hy dat die slang op ʼn dag sy sonde besef het. Toe besluit die slang om eerder te vervel, maar in die proses ontdek hy die ware slang aan die binnekant. In sy vervelling besef hy hy is nuut gebore, maar dié keer sonder die vel en nou drup die gif oral uit en vergiftig alles. Dit is die ding, die ontnugtering is nie altyd antropologies bevrydend en hoopvol vir alle mense nie. Maar miskien is dit nie almal se belewenis nie, maar die belewenis van diegene wat nie hulle proses van genesing uit trauma voltooi het nie en worstel met die ou reste van die ou dualistiese antropologie.

Die boek en gesprek laat my ontnugter, sinies, koud, leeg en gestroop voel. Miskien sê dit meer van my as van Du Toit. Maar dit is ook hoe Wilhelm Jordaan, wat ook ʼn kritiese en ingeligte denker is, oor die boek voel. Ander kap na Jordaan en sê hy onderskat Du Toit se ontdekking van verwondering in die proses. Maar my vraag is of ʼn mens ware verwondering eers ontdek as God weg is? Ek twyfel.

Wat vir my egter so ironies is, is dat Du Toit aan die einde van sy loopbaan moet erken dat die ongelowige mense wat hy sy hele lewe lank probeer evangeliseer het toe al die tyd heeltemal korrek was. Die lewe is baie meer sinvol en bevrydend sonder God.

In België waar ons woon is die meeste mense met wie ons in kontak kom ongelowig. Die Belgiese psigiater prof. Dirk de Wachter, wat self ongelowig is, vind aan die einde van sy akademiese loopbaan dat die verlies aan ʼn Godsbegrip en dit wat daarmee saamhang mense in die Weste gelaat het met ʼn eksistensiële gevoel van leegheid, sinloosheid en eensaamheid – in kort, sonder hoop en betekenis. Wil ons regtig daardie watervalpad van Du Toit stap?

Kobus Kok is professor van Nuwe Testament en mededirekteur van RCEC aan die Evangelies Teologiese Fakulteit Leuven in België.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chris

Ek sal graag die boek wil lees. Dit sal interressant wees wat die man te skrywe het. Om die Lewende God te dien is maklik. Moet Hom net nie aftrek na jou vlak toe nie. Moet Hom nie voorskryf wat jy wil laat gebeur of hoe jy wil lewe nie. Hy is nie ‘n kulkunstenaar nie. As jy ‘n bevrydingsteoloog of mensregte aktivis is, hou ook maar verby. Moenie God probeer verpersoonlik om aan jou nukke en griewe toe te gewe nie. Jy gaan baie terleurgesteld wees.

Jakes

Ek het nie “sonder hoop en betekenis” uit godsdiens beweeg nie. Dis juis omdat godsdiens se antwoorde onbevredigend was dat ek al hoe meer vrae begin vrae het. Dit het my 5+ jaar gevat om te aanvaar dat daar op grootskaal vir ons gejok word oor die bestaan van god. Godsdiens is deel van taal en kultuur wat jou hele lewe lank ingeprent word. Vir my het n berg van wonder en vrae oopgegaan. Ek wou verstaan hoekom soveel biljoene mense goed glo wat onwaar is. Neuro-wetenskap verduidelik hoe die brein se geheu-meganisme werk, en hoe maklik die brein onwaar… Lees meer »

Ferryman

Ek is tans besig om die boek te lees. Ek kan in ‘n mate met Du Toit vereenselwig. Die Afrikaanse Kerk en veral die NG Kerk se groot fout was om by politiek betrokke te raak en selfs aan die politieke leiers van daardie tyd voor te skryf. Dit het die NG Kerk van vandag totaal van enige legitimiteit ontneem wat duidelik sigbaar is in die baie mense wat die kerk verlaat.

Piet Snot

Ben het homself oopgemaak vir aanvalle vd Bose – dit was jare gelede reeds duidelik uit uitsprake soos: “Ek sê vir julle, die Satan bestaan nie”.
Nou het hy bloot die logiese eindpunt bereik van daardie oopmaak: totale verwerping van die lewende God.

Tomas

Dit was ook bevrydend vir Adam en Eva om vry te kom van God se beperkende voorskrif. Dit is lekker om jou eie ding te kan doen. Sonde is lekker. Gehoorsaamheid kos jou. Enigste probleem is om sonder God alleen te sterf. Meeste ateïste klou aan die lewe vas en sukkel om in vrede te sterf. So die finale toets wag.