Saamleeswenke vir ouers

baba-lees-pappa

Argieffoto (Foto: Picsea/Unsplash)

Lees is ʼn noodsaaklike vaardigheid wat vroeg in ʼn kind se lewe al ontwikkel moet word. Vir ouers wat die eerste keer saam met kinders lees kan dit ʼn intimiderende taak wees wat soos ʼn grootoogmonster van die boekrak af na jou loer.

Die organisasie, Nalibali (Nal’ibali in Xhosa vir “hier’s die storie”) deel dié wenke met ouers om die saamleeservaring meer opwindend te maak.

Maak beurte om boeke te kies

Betrek jou kinders by die kies van boeke en laat hulle toe om te sê watter stories hulle verkies. Ander kere kan julle saam besluit en jy kan dit afwissel deur ʼn paar voorstelle te maak van wat jy dink hulle belangstelling sal prikkel.

Hou dit kort en kragtig

Die tyd wat jy en jou kinders per dag saam lees hoef nie ellelank te wees nie. Hou die sessies kort en stop wanneer jou kroos kriewelrig raak. Dit is veral vir jonger kinders moeilik om lank te konsentreer. Hou eerder op met lees en probeer later of die volgende dag weer.

Begin by die omslag

Kweek by jou kind die ingesteldheid dat regte mense, oftewel die skrywers, stories skep. Begin by die omslag en lees die titel, naam van die skrywer en illustreerder. Laat hulle speurder speel met die nuwe boek en die leidrade op die omslag gebruik om te raai waaroor die boek gaan.

Moedig deelname aan

Jou jonger kind sal daarvan hou om gedeeltes van die storie, veral as dit rymwoorde of ʼn frase wat herhaal is, hardop te sê. Soos wat kinders ouer word, meer vertroud raak met die storie en hul leesvaardighede ontwikkel, kan jy vir hulle vra om jou te help om die storie te lees. Lees saam met ouer kinders deur na die woorde te wys terwyl jy lees.

Moenie ophou nie

Saamlees is nie net vir jonger kinders nie. Jy hoef nie op te hou om vir hulle te lees sodra hulle self kan lees nie! Kies moeiliker en meer komplekse boeke as dié wat hulle op hul eie kan lees.

Die gebrek aan lees-, skryf- en kommunikasievaardighede hou groot nadele vir die kind se lewenslange leerproses en menslike vermoëns in. Duisende behoeftige kinders in Suid-Afrika het nie toegang tot die nodige hulpbronne om hierdie vaardighede te ontwikkel nie.

Jy kan die kinders in jou gebied ondersteun deur Helpende Hand se webwerf te besoek en die vorm in te vul. Een tassie se waarde is R250. Met die Tiekies vir ʼn Tassie-veldtog doen Helpende Hand ʼn beroep op die publiek om saam met hulle hande te vat en te verseker dat minstens 4 000 tassies land wyd uitgedeel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wielspore ·

Ons kinders en huidiglik ons klein kinders word groot met stories lees uit boeke volgens ouderdom. Wat ons wel van die begin af gedoen het was om die kind te vertel of die storie die waarheid is en of dit opgemaak is. My seun is tans amper 30 jaar oud en ons gebruik nou sy boeke om vanuit te lees vir die kleinkinders. Van die boeke wys hulle jare en dit is ‘n bewys dat hulle gebruik is, die datums wat ons in die boeke ingeskryf het bring goeie herinneringe terug. Die oudste kleinkind van 9 jaar kry nou nog elke aand sy voorlesing uit ‘n boek. Ek dink dat om uit boeke te lees maak kinders kreatief en verbeeldingryk, hulle leer om te ontspan met ‘n boek.
Lekker lees…. saam die kinders!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.