Selfkwarantyn van veteraanvegters, Deon Lamprecht vertel

WAARSKUWING: Die gesprek bevat inhoud wat nie geskik is vir kinders of sensitiewe lesers nie.

Deon Lamprecht se jongste boek, Die Brug: Na die hel en terug in Angola, is lank voor die uitbreking van die Covid-19-pandemie geskryf en was drukgereed toe die landwye staat van afsondering in Maart aangekondig is.

Lamprecht vertel dat dit uiters frustrerend was omdat ʼn mens so lank en hard aan ʼn boek werk en uitsien dat dit verskyn. Die reis na boekrakke is dus belemmer en dit het hom aan die oorlog van destyds herinner.

“Afsluiting en genesing is ʼn binnereis, maar ook ʼn emosionele reis,” vertel Lamprecht. “Sommige ouens kon nie daardie reis begin nie en is vandag steeds in ʼn emosionele selfkwarantyn vasgevang.”

Lamprecht verwys veral na die gebrek aan berading vir mans wat by die oorlog betrokke was, asook die stigma dat mans nie emosie mag wys nie. Hy voeg ook by dat die samehorigheidsgevoel wat jong dienspligtiges ervaar het deel van ʼn groot avontuur was.

Meer as 30 jaar ná die Bosoorlog in Angola vertel veteraandienspligtiges en hul geliefdes vir Lamprecht hoe hulle die oorlog ervaar het en vandag steeds onthou.

In sy jongste boek gee Lamprecht ook ʼn stem aan vroue en geliefdes wat saam “geveg” het.

“As ʼn mens praat van die eggo’s van 30 jaar gelede, beleef vroue dit saam met hul mans,” sê Lamprecht. “Vroue ervaar dit op maniere wat hulle nie verstaan nie of wat verhoudings skaad.”

Volgens Lamprecht se navorsing is daar weinig gesaghebbende bronne wat die emosionele welstand, meer spesifiek die statistieke van mans wat aan posttraumatiese stresversteuring lei, ondersoek.

“Vroue ervaar dikwels die pyn van hul mans se woede en in uiterste gevalle word vroue die teiken van daardie aggressie,” verduidelik hy.

Lamprecht se boek poog om ʼn platform te skep waar veterane hul stories kan vertel en só die brug van die verlede na die hede oorsteek.

  • Maroela Media het tydens ʼn Zoom-onderhoud met Deon Lamprecht, skrywer van Die Brug: Na die hel en terug in Angola, gesels oor die emosionele selfkwarantyn van veteraandienspligtiges, sy gesprekke met vroue en geliefdes van grensvegters, asook terugvoer wat hy van lesers ontvang. Luister na die volledige onderhoud boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Spook ·

Ek wens van harte almal moet ons oorlog uitlos. Ek het nie nodig om gedurig daaraan te herinner te word nie.
RIV Piet Liebenberg, Arthur Froneman en die tweeling.

Ou gees ·

Ek wens julle wil met jul geliefdes praat. Ek wonder nou of pappa altyd so kras en hard met ons is oor die oorlog binne in sy hart en brein. Hy het nog nooit daaroor gepraat.
Ek het gevlug sonder antwoorde want ek is te bang vir die woede wat daarmee saamloop.

Thelsa ·

Geskiedenis is onlosmakend van ons mens-wees. Ontkenning van gebeure wis nie die geskiedenis uit nie. Geskiedenis bevat negatiewe en positiewe komponente. Swyg oor die geskiedenis is nie die geskikste manier om die gepaardgaande trauma te verwerk en hanteer nie. Deal with it – don’t deny it.

lollapot ·

Net jammer dat hierdie boeke vir sommige van ons onbekostigbaar duur raak. Ek dink ook aan Veterane van die Bosoorlog wat net ‘n Staats pensioen ontvang. Hoe betaal jy dan tot R650 per boek?
Die manne moet bietjie aarde toe kom met die pryse. . .

Niklaas ·

Dis vir meeste van ons wat daar aan deel was , iets wat baie betekenisvol is. Dit het gebeur en dit kan nie weggewens word nie. Geskiedenis word nie maklik uitgewis nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.