‘Van vrees na vrede’: Dít is wat Madelein Rust geleer het

Madelein Rust (Foto: Verskaf)

Hier volg ʼn uittreksel uit Madelein Rust se boek, Van vrees na vrede.

Hier is ʼn paar goed wat ek raakgeloop het in my reis, dinge wat vir my werk met my kankerpad.

Die waarde van stil plekkies

Gaan soek vir jou ʼn stil plekkie waar jy kan gaan huil wanneer die hartseer of die vrees jou pak. Ongeag jou ouderdom of geslag. En ek is seker dit sal. Jy leef deur ontsaglike trauma en jy stap ʼn eensame pad. Skryf is ook ʼn wonderlike vorm van terapie. Niemand hoef dit ooit te sien nie; so, skryf uit jou hart uit hoe jy voel.

Jy en jou bloeddruk

Normale bloeddruk word beskou as 120/80 mm Hg. Bloeddruk laer as 90/60 mm Hg word as ʼn noodgeval beskou en dan is dit veiliger om ʼn ambulans te ontbied. Chemoterapiemiddels soos bleomisien of interleukien kan jou bloeddruk verlaag. Erge lae bloeddruk (hipotensie) kan ʼn mens so swak maak dat jy nie eens jou foon kan vashou nie. Dus, sorteer jou lae bloeddruk uit deur dadelik iets souterigs te eet of ʼn Bovrildrankie te drink. Ja, ʼn mens kan van hipotensie sterf. Wanneer jou bloeddruk baie laag is en jou vel is koud en klam, gepaardgaande met ʼn bleek vel, vinnige of vlak asemhaling, ʼn swak, vinnige polsslag en/of verwarring – kry dadelik mediese hulp. Dit kan jou lewe red.

Volgens die Nasionale Biblioteek van Medikasie (PMC PubMed Central®), ʼn sentrum vir biotegnologiese inligting, is hoë bloeddruk (hipertensie) ʼn algemene toestand in kankerpasiënte. Dit word toegeskryf aan dieselfde leefstylverwante risikofaktore as die faktore wat kanker veroorsaak. Maar dan is daar ook chemoterapiemedikasie wat kankerpasiënte se bloeddruk kan laat styg. As jou bloeddruk konstant in die omgewing van 140/90 bly, kan dit dui op hipertensie. As jou bloeddruk egter 140/120 mm Hg of hoër is, word dit beskou as ʼn noodgeval en dan moet jy mediese hulp kry. Ja, ʼn mens kan sterf van hipertensie ook. Dit kan weens ʼn hartaanval of ʼn iskemiese episode (beroerte) wees. Beroerte is die vernaamste oorsaak van gestremdheid asook permanente breinskade. Baie mense met hipertensie (die stille doder) ervaar vooraf geen simptome nie.

Skaf gerus ʼn goeie, betroubare bloeddrukmonitor aan. Neem af en toe jou monitor saam wanneer jou dokter jou bloeddruk toets en vergelyk die uitslag van jou monitor met syne. Maak seker dat jou monitor nog die korrekte lesings verskaf.

Chroniese pyn en jy

My psigiater het vir my vertel dat alle pyn van die brein af kom. Dis jou brein wat vir jou liggaam vertel waar om die pyn te voel. Chroniese pyn kan ʼn mens se brein en die werking daarvan verander. Die slim mense praat van neuroplastisiteit, die deurlopende vorming van neurologiese paaie in die brein weens ontwikkeling, die dinge wat jy leer en nuwe ervarings.

Ongelukkig kan chroniese pyn (pyn wat langer as drie maande duur) die neurologiese paadjies in jou brein verander. Sulke pyn veroorsaak dat jou pynreseptore sensitief, ooraktief en gedeïnhibeer word. Wanneer dit gebeur, word daardie reseptore baie makliker geaktiveer en kan jy steeds pyn voel selfs nadat ʼn besering of siekte genees is. ʼn Goeie voorbeeld is die pyn van die tumor wat in 2015 in my bors was. Maande ná die mastektomie het ek nog gereeld dieselfde steekpyn gekry op die plek waar die tumor eens was, al is dit saam met my regterbors verwyder. Dink so daaraan: jou brein is bedraad om jou liggaam te beskerm.

Ek sê geensins hier dat jou pyn nie bestaan nie. Nee, jou pyn bestaan en dit is beslis nie bloot verbeelde pyn nie.

Die voorblad van Madelein Rust se jongste boek getiteld “Van vrees na vrede”. (Foto verskaf)

Daar is talle verskillende maniere om pyn te beheer. Daar is hoofstroom-medikasie soos antikonvulsante, trisikliese antidepressante, kortikosteroïede, spierverslappers, anti-inflammatoriese middels, opioïede en kalmeermiddels om te help met slapeloosheid of die angs weens pyn. Ander mediese ingrepe behels bestraling, senuweeblokke, transkutane elektriese senuweestimulasie, neuroblasie en epidurale steroïedinspuitings. Dan is daar natuurlik ook alternatiewe metodes soos akupunktuur, mediesegraaddagga, reiki, meditasie, joga en hipnose, asook belowende navorsing oor maniere waarop ons met die hulp van ʼn kundige die brein se werking sodanig kan verander dat ons die pyn sonder medikasie beter hanteer of selfs heeltemal uitskakel, soos onder meer gegradeerde motoriese beeldskepping (graded motor imagery).

Ek self het al die meeste soorte hoofstroom-medisyne vir pyn gebruik. Sommige middels het gewerk, sommiges nie. Tans gebruik ek morfienplakkers omdat die fentanielplakkers se newe-effekte te erg is vir my. Dis aaklig om wakker te word omdat jy nie meer asemhaal nie. Die morfienplakkers het ook maar newe-effekte soos erge konstipasie, urinêre retensie en littekens waar die morfien die vel brand. Saam met die morfienplakkers gebruik ek oksikontin, nog ʼn opioïed, asook ʼn antiinflammatoriese middel en soms Mybulin (wat deur die lewer afgebreek word tot morfien) of morfienstroop vir deurbraakpyn.

Hierdie middels veroorsaak geen hallusinasies of euforie by my nie, nog minder dat ek heeldag soos ʼn dooie ding lê en slaap. Daarvoor is die dosisse te laag, vermoed ek. Dit het wel ’n effens sederende effek.

Uitputting, verminderde konsentrasievermoë en ’n verkorte aandagspan is die resultaat. Morfien en oksikontin is nogtans uiters verslawend, nie dat dit vir ʼn terminale pasiënt enigsins relevant is nie. Jou hoofdoel nou is om jou lewensgehalte so lank moontlik optimaal te hou sodat jy heerlike herinneringe saam met jou geliefdes kan bou.

Volgens my navorsing is morfien die korrekte benadering vir ernstige pyn wat nie verdoof word deur gewone pynstillers nie. Let wel, as die morfien jou laat voel asof jy narkose ingekry het en jy net wil slaap, is dit nie die korrekte dosis nie. Morfien is regtig duur, maar as jy ʼn mediese fonds het, móét die fonds daarvoor betaal mits jou onkoloog dit op sy behandelingsplan plaas. ʼn Motiveringsbrief van jou onkoloog word soms vereis.

Raad vir reis

Natuurlik kan ʼn terminale pasiënt reis! Vra jou onkoloog as jy onseker is.

As jy dalk te swak is om lang ente te stap, of in ’n rolstoel of op krukke is, bespreek jou plek as ʼn passasier wat bystand benodig. Jou redery kan dalk ʼn brief van jou behandelende dokter vereis wat sê dat jy gesond genoeg is om te reis.

Onthou om die hotel of gastehuis by jou bestemming by die bespreekslag te vertel as jy in ʼn rolstoel is om seker te maak jy hoef nie trappe te klim of ʼn rolstoel in ʼn piepklein kamertjie te maneuvreer nie.

***

Belangrike voorbereidings

ʼn Groot deel van my innerlike vrede het ingetree nadat ek alles moontlik gedoen het om dit vir my eksekuteur en ander geliefdes maklik te maak om my sterfte te administreer. Ja, ek was dalk nog ligjare weg van my sterfdag, maar dit het my beter laat voel.

Die dokumente wat jy in ʼn lêer vir jou eksekuteur gereed kan hou, is:

  • Afskrif van jou testament (hou die oorspronklike testament dalk liefs by jou prokureur of jou bank)
  • Geboortesertifikaat
  • Huweliksertifikaat (as jy getroud is)
  • Egskeidingsbevel (as jy geskei is)
  • Enige ander hofooreenkomste
  • Huweliksvoorwaardekontrak
  • Identiteitsdokument
  • Lewensversekeringspolisse
  • Korttermynversekeringspolisse
  • Leningsooreenkomste (woning, motor, en so meer)
  • Verbandbesonderhede of huurooreenkomste
  • Kort- en langtermynpolisse
  • Borgooreenkomste
  • Belastingsertifikate
  • Aandeelsertifikate
  • Beleggingsinligting
  • Rekeninge
  • Besonderhede oor mediese fonds
  • Kontakbesonderhede en afskrifte van begunstigdes se ID-dokumente.

Ná jou dood sal die eksekuteur die doodskennisgewing wat deur die dokter(s) uitgereik en onderteken is, asook jou doodsertifikaat in die lêer hou. Een dokter se kennisgewing is voldoende in gevalle van teraardebestelling, maar twee dokters moet ʼn doodskennisgewing uitreik en onderteken in gevalle waar die oorledene veras wou word.

Ter wille van my geliefdes het ek die volgende keuses en bewoording ook self gedoen:

  • Lofrede geskryf (ʼn boodskap aan die teenwoordiges by my huldiging)
  • Doodsberig geskryf (vir die plaaslike koerante)
  • Begrafnisondernemer en kis gekies
  • Samestelling van huldiging (diens) in samewerking met my dogter en my begrafnisondernemer bepaal.

Dit lyk dalk asof ek ʼn beheervraat is. Te veel kere moet geliefdes egter in ʼn waas van koorsagtige gebeure voortstrompel van die een reëling ná die ander terwyl hulle eintlik ʼn stil tyd benodig. Nog erger – menige familietwis gaan oor wat met die oorledene se stoflike oorskot moet gebeur.

Ek kon miskien nie kies hoe Osama my laat sterf nie, maar ek kán kies wat met my stoflike oorskot gaan gebeur.

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf. Klik hier om Van vrees na vrede by Graffiti Boeke aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.