Video: Albert Blake gesels oor ‘Afrikaner Sondebok?’

In die vroeë 1940’s het Hans van Rensburg duisende volgelinge na die Ossewabrandwag gelok en die regering van Jan Smuts gekonfronteer oor sy deelname aan die Tweede Wêreldoorlog. Onder sy leierskap word etlike sabotasiedade deur die Stormjaers en Terreurgroep, die OB se militêre vleuels, gepleeg. Van Rensburg het ook in die geheim kontak met die Duitse regering gemaak.

Teen 1940 was Van Rensburg egter nog deel van die regering: As die jongste sekretaris van justisie nóg en administrateur van ʼn provinsie is hy as ʼn goue seun van die politiek beskou. Waarom was hy só vurig oor die ideaal van ʼn onafhanklike republiek dat hy dit alles prysgegee het en ’n koers ingeslaan het wat uiteindelik van hom ’n verstoteling sou maak?

Van Rensburg word dikwels as ʼn verbete Afrikanerfascis beskryf, maar die werklikheid is meer kompleks. In hierdie biografie belig Albert Blake die vele kante van ʼn man wat nie net bekend was as regsgeleerde, filosoof en taalkundige nie, maar ook as uitstaande militaris en wildjagter.

Op die hoogtepunt van sy gewildheid kon geen ander Afrikanerleier vir die begaafde Van Rensburg kers vashou nie. Blake ondersoek waarom hy uiteindelik egter die stryd om die hart van die Afrikaner sou verloor.

Blake is ʼn gewilde niefiksieskrywer wat al sewe boeke die lig laat sien het, waaronder die topverkopers Boereverraaier (2010), Ontsnap! Boerekrygsgevangenes se strewe na vryheid (2015) en ʼn biografie van Robey Leibrandt (2019). Hy is in 2014 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns met die Louis Hiemstra-prys bekroon vir Boerekryger: ʼn Seun se hoogste offer. Sy werke was ook al op kortlyste vir die kykNET/Rapport-prys, ATKV-Woordveertjies en South African Literature Awards. Hy is ’n navorsingsgenoot aan die Universiteit aan die Vrystaat en praktiseer as prokureur in Gauteng.

Afrikaner Sondebok? het pas by Jonathan Ball Uitgewers verskyn en dit kos R275 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek aanlyn te koop.

Pieter Verster het met Albert Blake oor die biografie van Hans van Rensburg gesels. Luister hier na die volledige gesprek wat deur Graffiti Boeke aangebied is:

GRAFFITI AANLYNKUIER MET ALBERT BLAKE

Afrikaner Sondebok? – Albert Blake in gesprek met Pieter Verster Hans van Rensburg se magnetiese persoonlikheid en sy sterk teenkanting teen Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog het Afrikaners só aangegryp dat die Ossewabrandwag (OB) binne drie jaar na sy stigting by die 300 000 lede gehad het.In die vroeë 1930's was Van Rensburg egter nog deel van die regering en het 'n blink politieke toekoms vir hom gewink. Hy was die jongste Justisiehoof voordat hy as die jongste administrateur van 'n provinsie aangestel is. Hy was ook 'n regsgeleerde, filosoof, taalkundige en taalstryder, bekwame burokaat, militaris, boer, wildjagter en hengelaar.Sy lewensverhaal strek oor sewe dekades en hy was by al die belangrikste historiese gebeure van 20ste eeu betrokke-van die Anglo-Boereoorlog tot die apartheidsregering. Dit is 'n tydperk waartydens talle “ismes” hoogty gevier het: imperialisme, nasionalisme, nasionaal-sosialisme, kapitalisme, kommunisme en rassisme.In die verlede is besprekings van Van Rensburg meestal beperk tot sy rol as OB-leier, terwyl hierdie boek ook gaan ondersoek instel na sy rol in die totstandkoming van die apartheidsbewind. Dit is minder bekend dat hy in die vroeë 1950's as kommissaris van die Groepsgebiederade -'n ankerpunt van apartheidsbeleid -aangestel is. Sy konflik met die verantwoordelike minister, PW Botha, het tot sy bedanking gelei.Van Rensburg word dikwels as 'n verbete Afrikaner-fascis beskryf, maar die werklikheid is meer kompleks. In vele opsigte was hy dalk eerder 'n gerieflike sondebok vir die Smuts-en Nasionale Party-regerings.https://www.graffitiboeke.co.za/af/378376/Boeke

Posted by Graffiti Books & Stationery on Tuesday, August 3, 2021

  • Graffiti Boeke se aanlyn kuiers en boekbekendstellings word weekliks op Facebook aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kerneels ·

Regstelling: … kers vashou BY …

Nie: … kers vashou VIR …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.