Wildbewaarder se honde grootste helde in teenstropery-aksies

Enigiemand wat ʼn hondeliefhebber is, of wat self dalk ʼn vierpotige vriend as troeteldier het, sal weet hoe geheg ʼn mens aan hulle raak, en hoe swaar dit is wanneer jy die dag moet afskeid neem.

Self al besit jy nie ʼn hond nie, sal Conraad de Rosner, ʼn ervare wildbewaarder en stigter van K9 Conservation, se besondere verhouding met veral sy geliefde Zingela, ʼn Weimaraner-reun, iets in jou aanraak.

Sy lewe is al in talle uiters gevaarlike situasies met stropers, wilde diere en korrupte kollegas deur Zingela en van sy ander dienshonde gered. Hy het in ʼn onderhoud met Maroela Media gesels oor sy passie vir die natuur en diere, hoe sy proses werk om honde vir opleiding te identifiseer en hoe moeilik dit steeds vir hom is om afskeid te neem.

Conraad het Zingela op nege weke gekry met die doel om saam met hom die Bongani Mountain Lodge aan die suide van die Nasionale Krugerwildtuin te patrolleer.

“Ek het in daardie stadium grootliks alleen op die reservaat gewerk om toeriste te begelei, die reservaat vir strikke te patrolleer en teenstropery-aksies uit te voer. Daar was nie ander wildbewaarders om dit saam met my te doen nie.

“Ek het toe besluit om vir my ʼn hond te kry, omdat dit na my mening een van die lojaalste bondgenote is. Hulle kan nie vir jou jok nie en jy sal nooit nodig hê om ʼn poligraaftoets op hulle te doen nie.

Van die dienshonde wat deur Conrad de Rosner en sy span by K9 Conservation opgelei is. (Foto: Verskaf)

“Boonop het honde uitsonderlike reukvermoëns waarmee hulle ʼn heel ander aspek van ʼn situasie vir jou kan uitsnuffel,” vertel Conraad, wat onlangs die boek Called by the Wild as ʼn huldeblyk aan die onbesonge hondehelde in sy werk as wildbewaarder geskryf het.

Conraad word as een van die baanbrekers beskou wanneer dit kom by die gespesialiseerde opleiding en gebruik van dienshonde om Suid-Afrika se wild teen onwettige jagaktiwiteite, lewensgevaarlike strikke en ander bedreigings soos smokkelary te beskerm.

Dit het deeglike navorsing geverg voor Conraad die Weimaraner as ʼn geskikte hond vir sy behoeftes gekies het.

Hy het talle boeke geraadpleeg, inligting uit ander bronne bymekaargemaak en met kundiges gesels. Dit het vir hom insig gegee in die temperament, karakter en ander elemente wat ʼn rol in honde se opleibaarheid vir jagdoeleindes speel.

“Weimaraners het uitsonderlike jag- en reukvermoëns, maar wat my uiteindelik oortuig het, is dié honderas se onvoorwaardelike lojaliteit en behoefte om hulle eienaars te beskerm. Dit is wel belangrik om ʼn ‘working line dog’ te kies.

Conraad de Rosner het ‘n lewensgroot renoster in sy geheel gebou van strikke wat die afgelope sowat ses jaar deur K9 Conservation uit die veld gehaal is. (Foto: Verskaf)

“Ek en Zingela was onafskeidbaar, ons was sielsgenote en het mekaar ongelooflik goed aangevul. Hy het baie gou gesnap waarmee ons besig is en hoe dinge werk.”

Die dag toe Zingela in ʼn tragiese ongeluk gesterf het terwyl Conraad nie by die huis was nie, was een van die swaarste dae in sy lewe. Trouens, dit word nie makliker om afskeid van ʼn dienshond te neem nie, ongeag of dit in die veld of weens gesondheidsredes is.

“Dit bly een van die moeilikste dinge van my werk. Maar Zingela en ander gestorwe hondehelde soos Landa, Max, Vixen en al die ander name in die boek sal altyd deel van my en ons storie by K9 Conservation wees.”

Called by the Wild: The Dogs Trained to Protect Wildlife kos R340 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek op Jonathan Ball se webwerf of by Graffiti Boeke aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

trotsNAMSA ·

Dankie aan Conraad en ander mense wat betrokke is by ons wildbewaring, MAAR DIE K9’s IS DIé HELDE. Ek is ‘n K9 gedragskonsultant en my dae word in die liefde van K9’s omvou . Pragtig berig en die boek gaan ek aanskaf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.