Die haker, die hakker en die Gordiaanse knoop

Argieffoto (Foto: luntan6644/Pixabay)

Een van die groot spelverwarrings in Afrikaans tree in by die woorde hak en haak.

Dit gaan hier oor meer as net die verkeerde gebruik van twee verskillende woorde, dit gaan ook hier oor verwarring van homonieme, want hak en haak kan albei ʼn selfstandige naamwoord of ʼn werkwoord wees. En as jy nou nog by hierdie reeds onheilige brousel die verkleiningsvorm ook ingooi (het ek nou hierdie deel van die teks tussen hakkies of tussen hakies geplaas?) en die afleiding waarmee ʼn mens na die ou in die skrum met die blomkoolore wil verwys (is hy ʼn hakker of ʼn haker?) het ons kort voor lank ʼn Babelse verwarring.

Hier is die oplossing:

  • Die selfstandige naamwoord haak is die ding agter ʼn deur of in ʼn aantrekkamer waaraan jy jou klere ophang. ʼn Slagter hang ʼn karkas aan ʼn haak en ʼn visterman gebruik ʼn haak om groot visse uit die see te trek. Die meervoud van hierdie gekromde instrument is hake en die verkleiningsvorm is hakie. Die gekromde leesteken wat ʼn mens in tekste gebruik om ʼn parentese aan te dui, is ʼn hakie, en omdat dit altyd in ʼn paar gebruik word, is dit hakies. (Tussen hakies: Jy plaas die parentese tussen hakies nie in hakies nie.)
  • Die werkwoord haak is die handeling wat jy met ʼn haak uitvoer, of die beweging wat jy met ʼn ander instrument of liggaamsdeel uitvoer wat soos ʼn haak werk. Die slagter haak karkasse aan ʼn haak. Die visterman haak groot visse met ʼn haak. En die rugbyspeler met die fraai ore haak die bal met sy voet (hopelik) as die skrumskakel dit ingooi. Omdat hy die bal haak, is hy die haker.
  • Die selfstandige naamwoord hak verwys na die agterkant van ʼn voet, of die deel van ʼn skoen waarop jy met die agterkant van jou voet trap. Die meervoud van hierdie woord is hakke (jy volg byvoorbeeld figuurlik op iemand se hakke) en die verkleiningsvorm daarvan is hakkie (die jong meisie trippel op hoë hakkies rond).
  • Die werkwoord hak is ʼn ou woord wat ‘kap’ beteken en wat ons eintlik nog net in twee kontekste ken. Ons verwys in Afrikaans na houthakkers en waterdraers as ons na verarmde mense verwys wat handearbeid verrig. Daardie houthakkers is houtkappers, soos die manne in Dalene Matthee se bosstories. Die ander konteks waarin ons die woord ken, is die knoop deurhak, wat beteken dat ʼn mens ʼn slim oplossing vir ʼn moeilike situasie kry. Ek vermoed baie mense dink hier aan ʼn hekelpen wat wol deur gekompliseerde hekelwerk trek, maar dit is nie korrek nie. Die uitdrukking verwys na die storie waarin Aleksander die Grote op ʼn wa van Gordius, die koning van Frigië in Klein-Asië, afgekom het wat met ʼn vreeslik ingewikkelde knoop aan ʼn paal vasgemaak is. Volgens oorlewering sou die persoon wat hierdie ingewikkelde knoop kon losmaak oor die hele Asië regeer. Aleksander het daar en dan vir sy manskappe gedemonstreer dat hy dié persoon is, deur eenvoudig sy swaard uit te pluk en die knoop middeldeur te kap. Die grootste kryger in wêreldgeskiedenis het dus die Gordiaanse knoop deurgehak, nie ʼn wolletjie deur hekelwerk gehaak

Mag die bestuurders vanmiddag van jou hakke af bly, mag die gaping tussen die hakie en ogie van jou gunstelinglangbroek beduidend krimp, en mag jou geliefde span se haker tydens die vyftreëskrum die knoop deurhak deur die bal na die agsteman toe deur te haak. En as hy dit dan nou nie regkry nie, mag die ander span se vaskopstut ten minste aan die slaap wees.

VivA-groete
Sophia

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frans C ·

Baie dankie en mag diegene wat kommentaar tydens rugbywedstryde lewer ophou om van hakkers te praat.

Stephanie ·

Baie dankie! N pragtige, klinkklare uitleg van AL die kinkels óm hd woorde – nou is die knoop vir my uiteindelik deurgehak.

Salamander ·

Die werkwoord “hak” is dan verwant aan die Engels woord “hack”?

Johan L ·

Seker ook verwant aan “hacken” in Duits.
Interessantheidshalwe: “hacker” in Engels word vertaal as kuberkraker. Hakker sou vir my mooier en meer beskrywend wees. Ook korter.

MH ·

Dis altyd interessant (en lekker) om Sophia se bydraes te lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.