Fanie Viljoen: ‘Ek wens ek het destyds dié skryfwenke gehad’

Fanie Viljoen (Foto: Fanie Viljoen/Facebook)

Fanie Viljoen, bekroonde kinderboekskrywer en kunstenaar, meen dis danksy ʼn tikkie hardkoppigheid in 2006 dat hy vandag heeltyds kan skryf.

“Ek het 16 jaar lank as opleidingskonsultant by Sanlam gewerk toe ek in 2006 besluit het om te bedank,” vertel Viljoen. Hy onthou hoe almal hom aangeraai het om eerder sy werk te behou en deeltyds te skryf.

Dis 14 jaar later en Viljoen erken dat hy nog nie een dag spyt was oor dié besluit wat hy destyds geneem het nie.

Viljoen het reeds ná skool besef dat dit vir hom lekker is om te skryf.

“In daardie stadium het ek egter glad nie gedink dat ek eendag my brood en botter met skryfwerk gaan verdien nie.”

Hoewel hy vandag ʼn suksesvolle skrywer is, is dit steeds ʼn moeisame proses wat sorgvuldige beplanning verg.

Vir elke storie wat Viljoen skep, volg hy telkens dieselfde raamwerk.

“Hoewel ek meestal op my skrywersintuïsie staatmaak, hou ek deurentyd my skryfraamwerk in gedagte,” verduidelik hy. “Wanneer ek dan iets skryf wat nie werk nie, raadpleeg ek die raamwerk.” Op dié manier is dit maklik om foute of gapings in ʼn storie te identifiseer.

Viljoen deel dikwels sy eie skryfwenke met jonger skrywers.

“Ek het self op skool gesukkel om opstelle te skryf,” vertel hy. Viljoen meen dis omdat hy “probeer mooi skryf het, eerder as om net ’n doodgewone storie te skryf”.

Nadat hy tot dié besef gekom het, het die skryf van opstelle vir hom makliker geword. Hier is sy lys met skryfriglyne:

  • Om te kan skryf moet jy lees. Lees veral die soort stories wat jy wil skryf.
  • Beplan eers jou hele opstel. Maak ’n raamwerk en skuif goed rond totdat die storie werk.
  • Jou eerste skryfpoging is nie noodwendig die beste een nie. Skryf die opstel oor en oor. Lees dit krities.
  • Jy hoef nie noodwendig oor jouself te skryf nie.
  • Jy hoef nie oor iets te skryf wat regtig met jou gebeur het nie.
  • Gebruik jou verbeelding.
  • Kry ’n knalslot wat jou onderwyser sal verras.

Met dié lys van basiese beginsels stel Viljoen jong mense in staat om makliker met idees vir stories vorendag te kom. Hoewel almal nie ʼn skryftalent het nie, stel dié raamwerk enigiemand in staat om stories te skep.

Kyk ook hier na een van Viljoen se video’s waarin hy nóg wenke oor die skryf van opstelle deel:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Katjie ·

Ja Fanie die beste besluit wat jy ooit geneem het in 2006!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.