Foto’s: Reis saam met Wouter en wen!

wouter-virseker-002.jpg

Wouter kuier by Virseker-trust.

Wouter het gedurende die Desembervakansie weer nie stilgesit nie. Hy het die land verken en nog baie meer geleer, met Weet altyd byderhand op sy foon vir interessante brokkies inligting oor elke plek wat hy besoek.

Voor hy egter in die pad geval het, het hy net eers ʼn draai gaan maak by oulike mense by Virseker-trust se kantoor om hulle te bedank vir hulle volgehoue ondersteuning om Weet moontlik te maak.

Eers was hy by die pragtige Blyderivierskeurvallei en Graskop, op die groot platorand van Mpumalanga. Het jy geweet dat Graskop se gebied met van die grootste aangeplante woude in die wêreld spog?

Daarna is hy na Skukuza in die Nasionale Krugerwildtuin waar hy ʼn paar monumente besoek het, soos die groot beeld van Paul Kruger. Hy het ook die natuurskoon van die bosveld uit ʼn boom bewonder en sowaar ʼn leeu gesien! Weet het hom geleer dat leeus die enigste katte is wat saam brul. Selfs die welpies brul saam. Hierdie gebrul duur gewoonlik 40 sekondes, en dit kan tot 8 kilometer ver gehoor word.

Wouter weet baie oor die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog en het daarom by Standerton se konsentrasiekampbegraafplaas ʼn draai gemaak toe hy daar verby reis. Op Weet lees hy dat sowat 150 000 Boerevroue en -kinders in 48 kampe aangehou is. Dit was bykans ʼn derde van die totale wit bevolking van die twee Boererepublieke in 1899.

Die verkenner kommandant Gideon Scheepers word as ʼn held van die Anglo-Boereoorlog beskou omdat hy en sy troepe meer as 1 300 Britse troepe gevange geneem het. Wouter het gehoor daar is ’n monument ter ere van Scheepers in Graaff-Reinet en hy het seker gemaak dat hy op sy roete daar stop.

Orania se koeksister.jpg

Wouter by die bekende Koeksistermonument in Orania.

In die Oos-Kaap het hy besluit om die uilroete te verken. Hier is hy deur die Vallei van Verlatenheid, maar het nie alleen gevoel nie, want hy was saam met sy beste maat daar. Hulle was ook by Orania langs, teen die Oranjerivier, voordat hy al die pad na Kaap St. Francis se vuurtoring gevlieg het. Op Weet het hy geleer dat die Vuurtoring van Alexandrië een van die Wonders van die Antieke Wêreld was – dit is in 280 v.C. gebou en is na bewering in 1323 deur ’n aardbewing vernietig. Gelukkig staan Kaap St. Francis se vuurtoring nog!

Hy het by Koffiefontein in die Vrystaat gestop om iets vir die keel te kry, en sy oë vir diamante oopgehou – die sakeman Alois Hugo Nellmapius het immers jare gelede diamante by Koffiefontein gedelf.

Wouter was darem ook see toe, sommer twee keer! Op pad na Hermanus se strand in die Wes-Kaap het hy die oeroue Kangogrotte by Oudtshoorn besoek, waarna hy na die warmer water van TO Strand naby Port Edward in KwaZulu-Natal is om lyf nat te maak. Het jy geweet dat dit die Agulhasseestroom is wat die watertemperatuur hier op ʼn baie aangename 25 °C hou? KwaZulu-Natal se swemstrande is ook baie veilig, want swemmers word deur een van die beste haainetstelsels in die wêreld beskerm.

Wouter het self bietjie gaan kyk hoe lyk dit binne die Kangogrotte.

Na sy lekker vakansiereise het Wouter besluit om by die huis ʼn bietjie moue op te rol. Hy probeer hard om waterwys te leef en het daarom sy eie groente- en kruietuin met ʼn deurweekstelsel geïnstalleer. Hy het op Weet gelees dat, hoewel water nie op kan raak nie en ’n hernubare hulpbron is, besoedeling kan veroorsaak dat ons al minder water het wat geskik is om te drink of vir byvoorbeeld besproeiing te gebruik.

Net voordat hy terug skool toe is, het hy sy maatjie Rosa Brand gehelp om haar kamer te verf. Dit was groot pret en het baie mooi gelyk. Op die eerste dag van skool het hy saam met Helpende Hand skooltassies uitgedeel sodat al sy jong Afrikaanse maats hul skoolloopbaan met genoeg skryfbehoeftes kon begin. Het jy geweet dat Afrikaans al as ’n taalwonderwerk beskryf is? Dit is omdat Afrikaans in net 50 jaar se tyd gevorder het van ’n huistaal tot ’n taal wat in sakeondernemings, kerke, skole en universiteite gepraat word. Wouter is baie bly dat hy nog in Afrikaans kan skoolgaan, en dat hy in Afrikaans so baie op Weet kan leer.

Vallei van Verlatenheid.jpg

Wouter by die Vallei van Verlatenheid.

Wil jy jou eie Wouter hê?

Noudat die vakansie verby is, onthou Wouter al die interessante plekke waar hy was, soos by Oom Koos se Klip.

Wil jy graag jou eie Wouter saamneem waar jy ook al heengaan? Laat weet ons en staan ʼn kans om jou eie Wouter te wen, om saam te neem op jou volgende vakansie, op uitstappies of sommer net in die omgewing waar jy woon. Foto’s van jou Wouter kan ook met Maroela Media gedeel word wat gebruik kan word in artikels.

Twee gelukkig lesers kan elk ʼn eie Wouter Weet wen.

Die kompetisie het gesluit.

  • Die sluitingsdatum vir inskrywings is 4 Maart 2024 @ 23:45.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Maroela Media kan nie verantwoordelikheid aanvaar indien jou inskrywing ons weens tegniese probleme nie bereik het nie.
  • Die prys kan nie vir kontant verruil word nie.
  • Die wenners se name sal op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Maroela Media sal die wenners telefonies en per e-pos kontak. Indien jy nie van Maroela Media hoor nie, kan jy aanvaar dat jy nie die wenner was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.