Luister: Gedig uit die Kalahari

“Gebore in Namibië, met grootwordjare in die Kalahari, tussen die rooi van die Kalahari-duine, groen wingerde en swartkop Dorper-skape, teen die sterk oewers van die Oranjerivier, sal daardie rooi sand altyd deur my are vloei. Iemand het eenmaal gesê, geseënd is hy wat die mooi sien in al die plekke waar ander niks sien nie, en dit is so waar van hierdie wêreld. Dit leer jou iets oor vergenoegdheid, van dankbaarheid. Wanneer ’n swaar reënbui, sewe jaar van droogte breek, en jy in daardie geel dubbeltjie-blom, die goedheid en trou van die Here sien, en dankbaar op jou knieë gaan en weet wié hoop op die Here sal nie beskaamd staan nie.” -Alta Strauss

(Foto: Verskaf)

Meer oor die ‘Steeds vrou’-digbundel

Benodig jy, of ʼn geliefde, ʼn bietjie hoop in ’n tyd waarin gevoelens van vrees en verlies veels te gereeld voorkom?

Kry nou die Steeds vrou-digbundel.

Steeds vrou bevat 40 gedigte uit die pen van skrywer en motiveringspreker Alta Strauss en die adjunk-uitvoerende hoof van Helpende Hand, René Roux.

“In ʼn wêreld vol gebrokenheid en baie stukkend en baie seer deel hulle so ʼn bietjie van hul harte, ʼn bietjie van hul verlies,” sê Hannes Noëth, Solidariteit Helpende Hand se uitvoerende direkteur.

Strauss en Roux se werk was aanvanklik nie bedoel om deur enigiemand gelees te word nie, maar ná alles sê albei van hulle: “Ons is steeds vrou.”

ʼn Pa wat verdrink, ʼn ongebore baba wat sterf, ʼn swangerskap wat net nie wil gebeur nie, drome wat nie wil realiseer nie, intimiteit wat soek geraak het en liefde wat seermaak. Dit is alles onderwerpe vir gedigte in die bundel.

“Ons praat nie net nie, ons ken verdriet en seer en verlies. Wees jouself, hê hoop, selfs in tye van verlies.

“Die doel van die bundel is om mense hoop te gee deur na die voorbeeld van vrouwees te verwys,” sê hulle.

Die opbrengs van die digbundel gaan na Helpende Hand se FroueVonds (met opset verkeerd gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg verloop nie). Die FroueVonds streef daarna om vroue te bemagtig om pilare van hoop in hul gemeenskappe te wees. Die fonds sorg ook dat 3 000 behoeftige meisies sanitêre ware ontvang en stel jong vroue in staat om deur die Susanna Smit-studiefonds te studeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jan Seerot

Jy is vrou
Mooi
Volmaak
Deur God lieflik getooi

Jy is vrou
Volledig
Geskep
In die holte van my liefde

Vandag is ek
Man
Alleen
Want jy is weg

Jy is steeds vrou
Ek is sielalleen
Ek mis jou
My vrou