Jou moedertaal is jou hartstaal

(Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Deur Celeste Labuschagne

Moedertaal

Wanneer jy die moedertong

In my hart laat verdor

Neem jy die wêreld weg

Verduister jy my geheue…

So praat Breyten Breytenbach oor moedertaal in sy gedig, die tongvervreemding. Dié woorde vind weerklank in my hart. My Afrikanerhart, want Afrikaans is mý moedertaal. Afrikaans is die taal waarin my moeder my leer lees het. Dit is die taal waarin ek wetenskap leer verstaan en opstelle op skool geskryf het. Dit is die taal waarin ek my graad op universiteit verwerf het. Dit is ook die taal waarin ek leer liefkry het en waarin my kinders hul eerste woorde gesê het. Afrikaans is die taal waarin ek dig wanneer ʼn saak te swaar op my hart druk óf wanneer ek my eufories oor iets kan verheug. Dit is die taal wat ek my moedertaal noem, my hartstaal.

Die meeste Suid-Afrikaners is meer as een taal magtig. In die kringe waarin ek myself bevind, is dit gewoonlik Afrikaans en Engels, en soms ʼn derde taal. Suid-Afrikaners neem dit eintlik as vanselfsprekend dat die meeste mense ten minste hul moedertaal én Engels kan praat. Dit is egter verrassend wanneer ʼn mens in ʼn ander land in die wêreld kom en dan vind dat in daardie lande die mense se moedertaal oorwegend as voer- en spreektaal gebruik word. In Frankryk verwag die Franse van jou om darem ʼn paar Franse woorde te ken en darem ʼn poging aan te wend om Frans te praat, andersins is hulle nie té gretig om jou te help nie. Een van my oud-skoliere het in Duitsland gaan studeer en moes eers Duits baasraak voor hy kon begin studeer, aangesien al die klasse aan die universiteit in Duits aangebied word. In baie Europese lande is die taal, waarin die leerders leer vanaf skool tot op universiteit, hul moedertaal.

Ons Suid-Afrikaners se meertaligheid veroorsaak soms dat ʼn mens dink jy kan jou moedertaal vervang met ʼn tweede taal. Ouers is deesdae vinnig om hul kinders in anderstalige skole te plaas, want hulle kinders moet eendag werk, en dit beteken hulle moet oorsee gaan woon. Die belangrikheid van moedertaalonderrig en die voordele wat dit vir kinders inhou word geïgnoreer. Seker die belangrikste voordeel wat moedertaalonderrig tydens die grondslagfase vir kinders inhou, is die ontwikkeling van leerders se syfervaardighede en getalbegrip. Wanneer ʼn mens gaan kyk hoeveel leerders in Suid-Afrika in hul tweede taal onderrig word, kan ʼn mens Suid-Afrika se swak prestasie in wiskunde en wetenskappe so verklaar en die “verduistering van die geheue” waarvan Breyten Breytenbach praat, kry ʼn wesenlike gestalte.

Drie jaar gelede het ek die voorreg gehad om vir ʼn week lank ʼn wetenskappe-kongres in die VSA by te woon. Ek was in St. Louis stoksielalleen by die kongres met meer as 8 000 Amerikaners om my heen. Dit was ʼn grootse ervaring en as wetenskappe-vakspesialis kon ek ʼn skatkis vol inligting versamel om na Suid-Afrika terug te bring. Deur die dag het ek heerlik met die kongresgangers in Engels gekuier, maar in die aande het ek daarna verlang om met iemand in my moedertaal, Afrikaans, die dag se gebeure te kon deel. Toe ek die dag terugvlieg en twee persone op die vliegtuig in Afrikaans met mekaar hoor praat, het ek amper in trane uitgebars, want hulle praat mý taal, mý moedertaal.

Daardie dag op die vliegtuig het ek die woorde van die FAK-liedjie, “O Boereplaas”, helaas verstaan:

O moedertaal, o soetste taal, jou het ek lief bo alles

Van al die tale wat ek hoor, niks kan my siel ooit so bekoor

O moedertaal, o soetste taal, jou het ek lief bo alles.

  • Celeste is die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se vakspesialis vir wetenskappe en robotika.

Hierdie artikel is met die vergunning van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

George ·

Julle moes die 2 dae terug geplaas het op Moedertaal Dag. Mooi stuk.

Sue ·

Dis so waar. En sekere uitdrukkings kan mens Nie vertaal Nie. Soos hokslaan. En: in die gesig staar. Dis uniek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.