Kom ons skryf ʼn storie: Die geheime van Hengelaarskroon

Maroela Media het saam met ons lesers ʼn kortverhaal geskryf. Ons het die eerste deel van die storie geplaas en die publiek het telkens die volgende paragraaf geskryf. Ons redaksie het nou die paragrawe bietjie herskryf en hier volg die hele verhaal – gebaseer op elkeen se insette.

Is jy lief vir skryf?

Maak seker dat jy dan sommer ook inskryf vir vanjaar se ATKV-skryfskool wat by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus aangebied word. Klik hier vir meer inligting

Dankie vir elkeen se deelname en lekker lees!

Die geheime van Hengelaarskroon

Sy staan op die breë stoep toe hy by die akkerlaning indraai. Fyn van postuur, maar imposant. Lang, raafswart hare wat haar ouderdom weerspreek. Die een handpalm besitlik gestut teen die pilaar langs haar.

Van die see se kant af het ʼn ligte windjie opgesteek. Gerhardus verkyk hom aan haar; sien byna nie betyds die spelerige basterbrak wat voor sy bakkie oor die pad spring nie en verminder spoed tot hy teen ʼn slakkepas voortkruie. Bly hy kan die oomblik nog ʼn bietjie uitstel.

In sy truspieëltjie sien hy ʼn stofwolk kort op sy hakke. Die persoon in die motor agter hom moet noodgedwonge stadiger ry, tot kort agter hom.

“Kan jy nou meer,” prewel hy verbaas toe hy weer in die truspieëltjie kyk. Hy ken mos dié ou met die netjies gekapte baard. Ferdinand, as hy reg onthou. Venter? Of Fourie? Vanne maak nie saak as mens ʼn toevallige bier met ʼn ander reisiger in ʼn plattelandse dorpshotel deel nie. Hulle het ʼn paar minute gesels. Albei van hulle was besoekers uit Gauteng, op pad na plase buite die dorpie, Hengelaarskroon, waar hulle onafgehandelde besigheid gehad het. Hulle het nie verdere detail oor hul “besigheid” met mekaar gedeel nie, maar gepraat oor die weer en die droogte en sommer net in reis-voos stilte vir die see gekyk. Nie vir ʼn oomblik het hy gedink aan die moontlikheid dat hulle dieselfde bestemming het nie.

Voor hom maak die oprit ʼn wye draai na regs, tot voor die stoep, sodat hy nie ʼn ander keuse het nie as om skuins voor die trap te parkeer.

Toe hy uitklim, kyk sy af na hom. Skielik is hy oorbewus van sy voorkoms: Sy gekreukelde T-hemp, verbleikte denim en dag oue stoppelbaard.

Langs hom kom die ander motor tot stilstand en Ferdinand vou sy lang lyf uit die motor. Hy lyk nie veel beter nie, merk Gerhardus met genoegdoening op: Wat sy voorkoms gespaar gebly het te danke daaraan dat hy van Gauteng af Kaap toe gevlieg het, het hy prysgegee in die piepklein motor waarmee hy van die lughawe tot hier moes ry.

Dis nou stil. Die hond het sy plek langs die vrou op die stoep ingeneem. Die twee mans staan langs mekaar op die rand van die grasperk en kyk op na haar. Stadig laat sak sy haar hand tot op die hond se kop en kyk van Gerhardus na Ferdinand, en weer terug.

“Welkom,” sê sy.

Gerhardus kry eerste lewe. Hy spring die trappe twee-twee op, stof sy hand aan sy broekspyp af en steek dit na haar toe uit.

“Gerhardus,” groet hy met ʼn vrolike bry. “Gerhardus Visagie – oupa Manie se erfgenaam. Ek is jammer ons kon nooit ontmoet toe oupa Manie nog gelewe het nie.”

Van agter hoor hy ʼn verontwaardigde kug, en Ferdinand se driftige voetval op die trappe. Hy kom langs hom tot stilstand en steek ʼn netjies gemanikuurde hand na die vrou uit.

“Aangename kennis,” sê Ferdinand. “Ek is Ferdinand Visagie, ons het nog nie ontmoet nie.” Hy gee Gerhardus ʼn vernietigende kyk.

“En ék is oupa Manie se wettige erfgenaam.”

Vir ʼn paar sekondes is daar ʼn ongemaklike stilte voor die vrou haarself voorstel. “Ek is Es,” sê sy. “En dié” – en sy veeg oor die hond se kop – “is Harvey.”

Net Es. As sy briewe skryf, seker sommer net S, dink Gerhardus ʼn bietjie geïrriteerd. Harvey lyk nou nog meer ongemaklik met die twee vreemde kalante op sy stoep. Es frommel sy oor om hom gerus te stel en nooi die twee in.

Binne gekom verdwyn sy sonder ʼn woord terwyl hulle ongemaklik in die ruim, halfskemer sitkamer rondstaan. Hulle hoor ʼn ou houtkas se laai oopgaan, en dan weer stadig toe. Haar voetval op die geelhoutvloer verklap al haar bewegings voor sy weer by die vertrek inkom en aan elkeen ʼn bruin koevert oorhandig.

Ferdinand se koevert lyk presies dieselfde, merk Gerhardus op. Elkeen se koevert het sy naam op, en ʼn datum.

Ferdinand: 12 Februarie 1959.

Gerhardus: 13 Februarie 1959.

“Iets te drinke, here?” vra sy, nog steeds redelik emosieloos en kortaf.

“Ek’s oraait, dankie,” sê Gerhardus.

Ferdinand, of Ferdi soos sy vriende hom noem, bestel ’n teetjie, met twee suikers en melk. “Asseblief.”

Albei mans kyk haar van agter op en af toe sy weer die kombuis in verdwyn. Mooi was nog nooit lelik nie, al is sy familie en heelwat ouer – weliswaar aangetroude familie. Gerhardus het deur die familie se skinderkanale gehoor van oupa Manie wat twaalf jaar gelede met die mooi weduwee van die distrik getroud is sonder om enige familie na die troue toe uit te nooi. Ouma Hannie is al jare gelede van die plaas af weg. Sy het ná ʼn skynbaar gelukkige huwelik van twintig jaar met oupa Manie een dag sonder aankondiging haar tassies gepak en in die niet verdwyn. Sy het darem later glo vir oupa Manie ʼn egskeidingsbevel gestuur en nooit weer van haar laat hoor nie. Hy is glad nie verbaas dat sy oupa, nog altyd ʼn aantreklike man, sy hart op Es verloor het nie. Maar sedert die troue was hy nog nie weer op die plaas om die nuwe liefde in oupa se lewe te ontmoet nie. Hy moet ook maar erken dat hy ʼn bietjie seergemaak gevoel het dat sy oupa, voor wie hy grootgeword het en wie se naamgenoot hy is, hom nie eens na die troue toe genooi het nie.

Waar Ferdinand in die prentjie pas, weet hy glad nie. Kan hulle neefs wees? Maar hoe is dit dan moontlik dat hy dié mannetjie nog nooit in sy lewe ontmoet het of selfs van hom gehoor het nie? Hulle ís ʼn groot familie en tussen die drie seuns en een dogter wat oupa Manie en ouma Hannie gehad het, is daar ʼn hele string kleinkinders en agterkleinkinders – almal seuns. Maar die hele spulletjie het immers elke jaar met Kersfees hier op die plaas by mekaar gekom en mekaar flou gespeel in die plaasdam. Sy neefs was soos sy eie broers. Tussen hulle was daar ʼn hele paar Ferdinand’s en Ferdi’s – dis immers ʼn familienaam. Maar hierdie gladdejantjie-Ferdinand ken hy beslis nie uit sy kinderdae nie.

Die twee mans neem teenoor mekaar plaas op twee donkerblou fluweelbanke wat Gerhardus nog onthou van kleintyd af, die koeverte nonchalant op hulle skote. Hulle albei brand om dit oop te maak, weet Gerhardus, maar nottedêm sal hy eerste sy nuuskierigheid verraai. Hy voel-voel ongemerk aan die koevert toe Ferdinand met sy selfoon begin vroetel. Dis duidelik dat daar ʼn pakkie papiere en ʼn stel sleutels in syne is, en die bultjie in Ferdinand sʼn verraai dat hy dieselfde in sy pakkie het. Maar wat kan ʼn sleutel uit die 1950’s nou oopsluit…?

Die twee mans probeer nie eers oor ditjies en datjies gesels nie, al het hulle vroeër so lekker in die kroeg gekuier. Beide weet dat dit vandag hier om baie meer gaan as gemeenplase.

Toe Es instap met Ferdinand se tee, gaan sit sy oorkant hulle op ’n ingeleefde ou leunstoel en bekyk hulle nou krities, maar ook nuuskierig. Harvey neem sy plek langs haar in en grom sag, glad nie ingenome met hierdie twee vreemdelinge in sy midde nie.

Es lyk nie baie spraaksaam nie en dis Gerhardus wat eerste die ys probeer breek. “Het Oupa Manie ’n lang siekbed gehad of is hy skielik dood? Ek het hom vir soveel jare nie gesien of kontak met hom gehad nie.” Hy kug ʼn bietjie skuldig. “Dit het maar woes gegaan met die besigheid en so.”

“Nou gee jy kamstig skielik om!” laat hoor Ferdinand nou van hom. “Wat soek jy nou eintlik hier? Jy daag hier op soos ’n wafferse waardige erfgenaam, maar het hom in al hierdie jare nooit gekontak nie?!”

“En jy?” blaf Gerhardus terug. “Jy het jouself ook netnou aan Es voorgestel, so dit klink nie juis vir my asof jy die drumpel deurgetrap het nie! Vervlaks, jy noem jouself ʼn erfgenaam maar ek weet nie eens wie jy is nie!”

Es sit en beskou die twee met ’n geamuseerde glimlag. Sy kry eintlik lekker om die twee so onseker te sien. Háár Manie, wat hulle nou hier sit en bespreek asof hy ’n besitting is! Sy dink weer terug aan hul jare saam en word sommer van voor af kwaad as sy aan die inhoud van daardie twee koeverte in die kapokhaantjies se hande dink.

“Menere,” spreek sy hulle formeel aan voor hulle verder kan stry. “Ek stel voor julle gaan maak jul koeverte in privaatheid oop. Martie sal vir julle jul kamers gaan wys. Gaan, asseblief!”

Nadat Gerhardus sy tasse neergesit het, vat hy sy koevert en stap na buite. Hy steek sy hand ietwat ingedagte uit na Harvey, wat wantrouig op die stoep staan. Die hond ruik-ruik aan sy hand en laat hom toe om hom oor die rug te streel terwyl sy stert effentjies waai. Dan stap hy met die breë trappe af en kies koers in die welige tuin in. Dit voel of die koevert sy hand brand.

Hy gaan sit op ’n groot klip in die tuin, buite sig van die huis se reusevensters. Hy onthou dié lekker sitplek van sy kinderdae af: Hier het hy graag somervakansies met ʼn boek kom wegkruip as hy moeg gespeel was saam met sy neefs. Hy trek sy asem diep in en blaas dit stadig uit. Dan skeur hy die koevert oop en keer dit om sodat die sleutels in sy hand val. Hy kyk vir ’n oomblik daarna en vryf met sy duim oor die leerbandjie met die inskrywing Sonsopkoms voor hy dit langs hom op die klip neersit. Die naam wil-wil ʼn klokkie lui… Maar hy sal weer later daaroor dink. Hy haal die brief uit die koevert en begin dit stadig oopvou.

Liewe Gerhardus, my kleinseun en naamgenoot

As jy hierdie brief lees, beteken dit ek is dood. Daar is ʼn groep genaamd ‘Die Rowers’ wat al jare lank na my op soek is. Ek vermoed dit is omdat ek en een van my vriende in ons twintigs een van hulle groeplede vermoor het.

Gerhardus spring regop van verbasing. Hy kan dit nie glo nie… Vermoor? Sy saggeaarde oupa Manie? Hy lees verder.

Die woord ‘vermoor’ is dalk te drasties. Dit was nie beplan nie. Ek en my vriend Gert was jonk en gekuier en op pad huis toe nadat ons by die hotel op die buurdorp ʼn paar drankies gaan drink het voor sy troue. Toe ons weer sien, toe hardloop iemand oor die pad, en ek kon nie betyds uitswaai nie. Hy is op slag dood… Ons het later eers uitgevind dat hy die leier van die omstrede bende Die Rowers was. En Die Rowers is nie die tipe ouens wat maklik vergewe nie.

Vir jare het ek hier op die plaas weggekruip en ek het gedink hulle het my in vrede gelos. Maar toe ouma Hannie in 1977 so skielik verdwyn, het ek geweet: Die Rowers vergeet nie… Ek en ouma Hannie was veels te lief vir mekaar dat sy my sommer net so sou los. Ek het vir die familie vertel dat Ouma haar tasse gepak en padgegee het, want ek was bang vir die waarheid… bang dat een van my kinders of kleinkinders volgende op hulle lysie kan wees. Ek is jammer, Ferdinand. Oupa wou nie vir jou jok nie. Maar nou het hulle my uiteindelik gekry.

Ek wil jou waarsku dat hulle op soek is na jou erflating – eintlik jou en jou neef waarvan jy nie geweet het nie, Ferdinand, se erflating. Saam met die brief in die koevert is daar ʼn sleutel. Die sleutel is vir ʼn deur na ʼn geheime kamer met ʼn kis wat ek daarin weggesteek het. Jy sal dit kry as jy ʼn bietjie soek. As julle dit oopsluit, sal julle verstaan.

Baie liefde, Oupa Manie.

Gerhardus se vingers voel-voel na die sleutel op die klip langs hom. Sy mond is kurkdroog en sy oë brand.

Asof vanuit die niet verskyn Es aan die bopunt van die weggesteekte tuinpaadjie wat hier na die klip toe lei. “Middagete is gereed,” roep sy en verdwyn weer.

Intussen het Ferdinand eers in die badkamer gaan verfris, sy hande gewas en sy gesig afgespoel voor hy die privaatheid van sy kamer opsoek. Met die koevert in sy hand kyk hy die kamer krities deur: die swaar brokaatgordyne voor die vensters, die koninggrootte bed met die gehekelde ougoud deken en die spieëlkas waarvan die hout dof blink in die lig wat deur die venster val. Hy trek sy neus op en brom: “Gmpf, maar bietjie oud en afgeleef.”

Die bed kraak toe hy daarop gaan sit. Hy skuif-skuif terug teen die kopstuk en groot kussings tot hy gemaklik voel en skeur die koevert oop. Hy skud die sleutels op die bed uit, maar kyk nie eens daarna nie. Dan trek hy die brief uit die koevert en vou dit vinnig oop.

Ferdinand, my kleinseun en naamgenoot, begin dit. Die waarheid moet uit en jy moet dit weet, voor jy jou erflating kry.

Ferdinand se hart klop vinniger. Nou is hy behoorlik nuuskierig. As hy maar net geweet het wat om te verwag.

As jy hierdie brief lees, beteken dit ek is dood. Daar is ʼn groep genaamd ‘Die Rowers’ wat al jare lank na my op soek is. Ek vermoed dit is omdat ek en een van my vriende in ons twintigs een van hulle groeplede vermoor het.

Ferdinand snak sag na sy asem. Oupa Manie, ʼn moordenaar? Goed, hy het al die jare geweet oupa Manie kán ʼn geheim hou. Hy het immers vir jare tydens wintervakansies en langnaweke hier op die plaas by oupa Manie kom kuier sonder dat enige van die ander neefs of niggies van sy bestaan geweet het. Maar ʼn moordenaar? Dis bietjie dik vir ʼn daalder. Hy lees verder.

Die woord ‘vermoor’ is dalk te drasties. Dit was nie beplan nie. Ek en my vriend Gert was jonk en gekuier en op pad huis toe nadat ons by die hotel op die buurdorp ʼn paar drankies gaan drink het voor sy troue. Toe ons weer sien, toe hardloop iemand oor die pad, en ek kon nie betyds uitswaai nie. Hy is op slag dood… Ons het later eers uitgevind dat hy die leier van die omstrede bende Die Rowers was. En Die Rowers is nie die tipe ouens wat maklik vergewe nie.

Vir jare het ek hier op die plaas weggekruip en ek het gedink hulle het my in vrede gelos. Maar toe my geliefde Hannie in 1977 so spoorloos verdwyn, en jou liewe ouma Salomé daarna in 1985 in ʼn fratsongeluk dood is, het ek geweet: Die Rowers vergeet nie… Nooit sou ek kon dink dat hulle van jou ouma se verbintenis met my weet nie. Ek het dan vir jare die geheim so goed bewaar dat nie eens my eie kinders en kleinkinders van julle geweet het nie.

Ek is jammer dat ek jou nooit van Die Rowers en hulle aandadigheid in jou ouma se dood vertel het nie. Ek was bang vir die waarheid… bang dat ek jou sal verloor. Jy was immers die enigste verbintenis wat ek nog oorgehad het met Salomé, my eerste liefde, maar die een wat my nie beskore was nie. Ek is jammer, Ferdinand. Oupa wou nie vir jou jok nie. Maar nou het hulle my uiteindelik gekry.

Ek wil jou waarsku dat hulle op soek is na jou erflating – eintlik jou en jou neef Gerhardus se erflating. Saam met die brief in die koevert is daar ʼn sleutel. Die sleutel is vir ʼn kis wat ek weggesteek het en wat jy saam met Gerhardus moet soek. As julle dit oopsluit, sal julle verstaan.

Baie liefde, Oupa Manie.

Onderaan die brief is koördinate en ʼn skets van die son wat sak.

Ferdinand sit sprakeloos. Die vrae maal deur sy kop. Weet Es dat oupa Manie vermoor is, en deur wie? Weet sy waar hy, Ferdinand, in die prentjie inpas? Wat is in die kis? Wat is in Gerhard se koevert, en wat staan op sý brief…?

ʼn Skielike klop aan die deur laat hom wakker ruk uit sy verstarde gedagtes. “Middagete is gereed,” roep Es se stem. Hy druk die brief vinnig tussen sy klere in en sluit sy tas met ʼn slotjie voor hy opstaan en badkamer toe stap om sy hande te was. Terwyl die water loop, verbeel hy hom hy hoor ʼn skuifgeluid in die kamer agter hom. “Wie is daar?” roep hy, maar toe hy omkyk, is die kamer leeg. Tog… verbeel hy hom, of lê sy tas nou skeef op sy bed? Hy gee drie lang treë en voel-voel benoud aan die slotjie. Dankie tog, dis nog heel, dink hy verlig. Die kamerdeur, wat netnou toe was, staan op ʼn skreef oop. Iets baie vreemd is hier aan die gang.

Intussen stap Gerhardus ingedagte terug huis toe, maar hy sien nie eers die mooi tuin om hom of die statige ou huis raak nie. Wat beteken Sonsopkoms? Waar het hy dit al gehoor? Is dit ’n plek of ’n plaas se naam? Dit moet seker ’n plaas wees – dit klink nogal na die tipe naam wat iemand vir ʼn plaas sal gee.

Toe hy by die voordeur instap, praat Ferdinand skielik van die kant af sodat hy half skrik.

“So, wat staan toe in jou brief, kastige erfgenaam?”

Gerhardus voel Ferdinand se vyandigheid aan en besluit om hom nie die waarheid te vertel nie.

“Nee, jong, ek het my so verkyk aan hoe alles hier verander het ek nog nie eers gelees het nie. Ek sal dit maar later doen. Ek gaan net gou hande was.”

In sy kamer sit hy die brief in sy tas en sluit die slotjie. In die en suite-badkamer was hy gou sy hande by die wasbak. Hy skrik toe hy uit die hoek van sy oog ʼn beweging in die spieël bo die wasbak sien.

“Wie’s daar?” roep hy uit. Maar daar is geen antwoord nie.

Toe hy instap in die kamer, sien hy sy tas lê skeef op die bed. Met twee vinnige treë is hy by die tas en slaak ’n sug van verligting. Die slotjie is nog stewig in plek.

Nou weet hy hier is iets aan die gang. Sou hulle die enigste gaste wees? wonder hy. Hy twyfel of Ferdinand so blatant sal wees om sy tas te probeer deursoek. Hy druk sy tas diep onder die bed in en besluit om aan tafel meer te wete te probeer kom.

Aan tafel neem Gerhardus en Ferdinand oorkant mekaar hul plekke in. Daar is gedek vir drie mense – dus geen ander gaste nie, dink Gerhardus. Es sit op die een kop. Oupa Manie se sitplek aan die hoof van die tafel is pynlik leeg. Op die tafel is ’n opskepbak waaruit die reuk van Kaaps- Maleise kerrie walm en die twee mans se speekselkliere kielie. Hongerig wag hulle op Es om te begin opskep, maar sy vou eers tydsaam die gestyfde servet op haar skoot oop.

In die kombuis langsaan klink voetspore op. Hier ís dus nog mense, hoewel hulle nie gaste is nie.

“Aan wie het ons hierdie maaltyd te danke?” Hy probeer sy agterdog verdoesel en steek solank sy hand uit na ’n dik sny plaasbrood.

“Dis Benita,” antwoord Es. “Sy is hier op die plaas gebore en getoë, net soos haar ma en haar ouma. Alles wat sy weet van lekker kos maak het sy by haar ma geleer. Haar ouma is al oorlede, maar haar ma bly ook nog hier.”

Ferdinand onthou die krulkopdogtertjie wat saam met hom kleilat gegooi en in die plaasdam geswem het baie goed. ʼn Regte rabbedoe wat meer tuis gevoel het saam met hom in die veld as saam met haar ma in die kombuis. Hy het nooit die voorreg gehad om saam met sy neefs op die familieplaas te baljaar nie, maar Benita was ʼn lekker maat. Wie sou kon raai dat sy tog eendag in haar ma se voetspore sou volg? dink hy met ʼn skewe glimlag. Maar belangriker – sou Benita ’n belang hê by die inhoud van sy brief? Sy het immers hier op die plaas grootgeword, net soos haar ma voor haar. En soos dinge nou vir hom lyk, het oupa Manie ʼn oog vir ʼn mooi vrou gehad.

Hy klik sy tong, vererg oor sy eie gedagtes, en smeer egte plaasbotter op sy sny brood.

“Spook dit in hierdie huis?” vra Gerhardus skielik.

Es kyk hom onthuts aan, die deksel in haar hand. Stoom en ’n heerlike geur ontsnap uit die opdienbak. “Hoekom vra jy, het jy besoek gehad?” vra sy met ʼn skalkse glimlag.

Ferdinand kyk hom stip aan. Maar Gerhardus besluit om nie die vraag te antwoord nie en trek sy skouers ongeërg op. “Seker sommer my verbeelding.”

Hy kyk honger na die opskepbak. Es skep vir hom ʼn ruim porsie in, daarna vir Ferdinand en toe vir haarself. Daarna kyk sy weer na Gerhardus. “Sal jy die seën vra, asseblief?” Hy knik en buig sy kop vooroor.

Ná die gebed eet hulle in stilte, elkeen besig met sy eie gedagtes.

Ferdinand vee sy mond behaaglik af met die blou lapservet. “My komplimente aan die kok. Ek sal haar graag later self wil groet en dankie wil sê.” Hy kyk uitdagend na Gerhardus. “Ons het immers as kinders baie goeie tye saam hier op die plaas gehad.”

Gerhardus se mond gaan oop, maar ʼn waarskuwende kyk van Es laat hom sy woorde sluk. Hy sal later agter die kap van die byl kom, as Es nie naby is nie.

“Ja, dankie, dit was lekker,” beaam hy. Hy skuif sy stoel agteruit en staan op. “Verskoon my, ek gaan ʼn bietjie skuinslê.”

Die kamer, wat netnou nog koel en veilig gevoel het, voel skielik beklemmend, asof iemand heeltyd vir hom kyk. Hy moet vars lug kry. Hy maak seker dat sy tas nog gesluit is. Dan vat hy sy selfoon en stap voorstoep toe.

Verbaas steek hy in die voordeur vas. Hy is doodseker hy het ʼn beweging agter een van die bome by die kerkhof gesien. Dit voel nou hier buite ook vir hom of daar duisende pare oë is wat hom dophou. Dalk het hy hom verbeel, maar hy besluit om tog te gaan kyk.

Toe hy halfpad kerkhof toe is, hoor hy skielik ʼn gedawer van perdepote, en oomblikke later sien hy ʼn perd en ruiter met ʼn geweldige spoed in die langing bome na die plaas se uitgang toe verdwyn. Nou is hy seker dat hier werklik ’n slang in die gras is.

Hy stap versigtig nader om die grond te gaan verken. In die verste hoek staan ʼn nuwe grafsteen op ʼn vars kol grond – seker oupa Manie sʼn, dink Ferdinand. Daar is skielik ʼn knop in sy keel. Hy was oorsee toe hulle verneem van oupa Manie se dood en kon nie betyds sy afsprake gekanselleer kry om hier te wees vir die begrafnis nie. Hy sal later, wanneer dinge rustiger is en die misterie opgeklaar is, hier kom sit en op sy tyd van oupa Manie afskeid neem.

Perdespore lê duidelik in die sagte sand rondom die grafte en lei weg in die rigting van die laning. Dan was dit minstens nie my verbeelding nie, dink hy. Hy het die afgelope paar uur al ernstig aan sy eie geestesgesondheid begin twyfel. Wat staan hom volgende te doen? Hy wonder of Es hom dalk meer inligting kan gee? Liewer nie, dink hy; sy lyk na ʼn regte rissiepit. Dalk moet hy vir Benita en haar ma gaan dagsê. Hulle is mos nou al lank deel van hierdie huismense en behoort baie te weet. Hoewel hy nie weet of sy hom sal vertrou nie – hy was immers nie sulke dik pelle met haar soos met sy skynbare neef Ferdinand nie, dink hy met ʼn minagtende snork.

Hy sak op ’n klip onder die okkerneutboom by die ingang van die kerkhof neer en wonder wat die volgende paar dae vir hom gaan inhou. “Sonsopkoms.” Hy proe die woord op sy tong. Waar het hy dié naam voorheen gehoor?

Agter hom hoor hy takkies kraak, dan is dit stil. Weer kraak daar ʼn paar takkies. Dit klink of iemand versigtig nader stap. Hy voel ʼn koue rilling teen sy ruggraat afloop.

“Goeiemôre!” sê ʼn vrouestem skielik agter hom.

Verlig kyk hy om en sien ʼn jong meisie met kort krulhare soos ʼn seun. Sy lyk na ʼn regte rabbedoe. Dit moet dan seker Benita wees.

“Dagsê,” groet Gerhardus met ʼn glimlag.

“Wat maak jy hier? Dit is tannie Es se plaas en ek het jou nog nooit hier gesien nie,” peper sy hom met vrae.

“Ek is Gerhard Visagie, oupa Manie se kleinseun en erfgenaam,” antwoord hy met ʼn bietjie klem op die laaste woord, net ingeval Ferdinand in die omtrek is. “Ek neem aan jy is Benita? Ek onthou jou van toe ons klein was maar… jy… was altyd in die kombuis saam met jou ma…” eindig hy effens beteuterd en verleë.

Sy lag uit haar maag en gee hom ʼn vuishou op die boarm. “Moenie sleg voel nie, man! My ma wou in elk geval nooit gehad het ek moet met julle rowwe klomp neefs speel nie. Dis net as Ferdinand hier gekuier het wat sy hom jammer gekry en my toegelaat het om uit die kombuis te ontsnap. Maar ek sien hier is twee karre? Moenie vir my sê nie…” Haar oë rek bly. “Is Ferdinand ook hier?”

Gerhard knik, maar eintlik wens hy skielik sy wil net loop. Hy het so baie om aan te dink, en dit sluit Ferdinand in – Ferdinand vir wie hy baie versigtig moet wees, en wat dik pelle is met hierdie mooi meisie.

“Het jy al oom Manie se graf gesien?” vra sy. Die vroumens ryg vinniger vrae uit as wat hy kan dink. Hy knik weer, meer om haar stil te kry as iets anders, maar sy is reeds tien treë voor hom uit tussen die grafte deur. Hy volg haar onwillig – hy wou later eers gegaan het, as hy alleen is en gereed is hiervoor.

Oupa Manie se grafsteen is groot en imposant – net soos hy as mens was, dink Ferdinand heimlik. Marinus Gerhardus Ferdinand Visagie, 1934-2019. Die liefde bedek alles, lees hy. Wat sou dié woorde beteken?

Onder ʼn boom ʼn entjie van oupa Manie se graf af het Benita op haar hurke gaan sit – seker om hom ʼn oomblik alleen saam met sy oupa te gee, dink Ferdinand. Maar dan sien hy dat sy besig is om die grond onder die boom met haar hande eenkant toe te vee. Hy stap nuuskierig nader, maar eers toe hy by haar kom, sien hy die hout van ʼn valdeur wat onder die grond weggesteek was.

“Ek het dié valdeur nou die dag ontdek toe ek blomme op oom Manie se graf kom sit het en toe sommer hier onder die boom kom sit en my hart uitgehuil het. Hy was soos ʼn oupa vir my,” babbel sy terwyl sy beur om die swaar houtdeur te lig. “Ek het nog so met my toon in die grond geboor, toe voel ek skielik iets hard en koud…”

Sy hart klop vinniger. Wat gaan hier aan? En hoekom vertrou Benita hom met hierdie geheim en nie vir Ferdinand nie? Benita kreun hard en die deur gaan met ʼn gekraak oop. ʼn Bietjie rooigrond val ondertoe. Hy staan versigtig nader. Deur die opening sien hy trappe wat na onder lei. Heel onder in die skemerte sien hy ʼn swaar deur wat lyk soos die ingang na ʼn kluis.

Sou die sleutel in sy sak dalk in die deur pas…?

“Ek neem aan dis ’n grot of ʼn ding waarin oom Manie sy skatte en geheime toegesluit het,” sê sy en staan eenkant toe sodat hy kan inloer. “Jy wonder seker hoekom ek dit vir jou wys en nie vir Ferdinand nie.” Toe hy bloos, lag sy. “Ek is van plan om hom ook te kom wys, hoor, net dat jy weet – hier was lank genoeg geheime op hierdie plaas!”

“Sy laat sak weer die valdeur.” Nou ja, dis al wat jy nou te siene gaan kry. Dis al laat. Môre kom wys ek vir Ferdinand. En dan kan julle twee saam besluit wat julle volgende gaan doen.”

Laatnag, toe alles in die huis stil is, lê Gerhardus wawyd wakker en rondrol. Wat sou in die ondergrondse kamer versteek wees? Pas sy sleutel dalk in die slot? En is al die geheime van oupa Manie se lewe agter die swaar deur versteek? Die laaste ding waarvoor hy lus is, is om in die donker in ʼn kerkhof te gaan rondsluip. Maar as hy sy neef wil ore aansit, het hy nie ʼn keuse nie. Hy staan saggies op, trek vinnig in die donker aan en lig die skuifraamvenster wat op die stoep oopmaak. As kind het hy gereeld snags deur dié venster ontsnap om saam met sy neefs in die maanlig te gaan swem, en na al die jare is daar steeds nie diefwering aangebring nie.

Met sy selfoon as sy enigste liggie sluip hy met die stofpaadjie langs kerkhof toe. Daar is nie ʼn enkele nagdier in die omtrek te hore nie; dit is onheilspellend stil. Net sy voetstappe knars oor die gruis.

Skielik sien hy uit die hoek van sy oog hoe ’n groot figuur uit die bos op hom afgestorm kom. Voor hy hom kan teësit, kry die aanvaller hom met ʼn wurggreep om sy keel beet.

“Ek het geweet jy is besig met een of ander skelmstreek!” herken hy Ferdinand se stem. “Hoekom sluip jy so skelm in die donker rond? Wat steek jy vir my weg?” blaf hy.

Gerhardus stoei vererg terug. “Sjjjt!” blaas hy. “Wil jy almal in die huis wakker maak?”

Ferdinand se gestoeiery bedaar, maar hy laat nie vir Gerhardus los nie. Sy neef het swart gepoleerde skoene aan, nou vaal van die stof, merk Gerhardus geamuseerd op – nie juis die beste stapskoene nie.

“Hoekom agtervolg jy my, Ferdinand?”

Ferdinand gee hom ʼn stewige pluk om die nek sodat Gerhardus snak na asem. “Ek wil weet wat steek jy vir my weg. Jy is duidelik besig om inligting van my te weerhou. Moenie vir ʼn oomblik dink ek glo dat jy net ʼn bietjie vars lug kom skep het nie. Wat het jou brief gesê?”

“Los my, dan praat ons soos grootmense,” sis Gerhardus. Ferdinand laat hom teësinnig gaan. In ʼn paar kortaf sinne vertel hy vir Ferdinand van sy ontmoeting met Benita en die versteekte kelder in die kerkhof. Ferdinand se oë rek.

“Dink jy… dink jy jou sleutel pas in die deur?” vra hy verstom.

“Dis presies wat ek dink, ja,” antwoord Gerhardus geïrriteerd. “Dis wat ek wou gaan kyk het. En joune pas waarskynlik in die kis wat ons daar gaan kry. Nou het ek seker geen ander keuse as om jou saam te sleep nie.”

Die twee stap in stilte met die paadjie langs tot by die kerkhof, die vyandigheid soos ʼn muur tussen hulle. Daar gekom, lig Gerhardus die valdeur en klim eerste met die trappies, met Ferdinand kort op sy hakke.

Dan kom die oomblik waarvoor hulle gewag het. Daar is ʼn gewyde stilte terwyl Gerhardus sy sleutel uit sy broeksak haal. Die vyandigheid is vir ʼn oomblik vergete. Die sleutel kraak in die slot en steek vir ʼn oomblik vas terwyl die mans met opgehoue asem staan. Dan kreun die deur en swaai oop. Ferdinand skakel sy selfoon se flitslig aan en skyn daarmee in die donkerte in. Saam gee hulle ʼn paar treë in die kelder in. Dis leeg, behalwe vir ʼn kis in die middel van die vertrek wat toegesluit is met ʼn groot slot.

“Nou is dit seker jou sleutel se beurt,” sê Gerhardus en Ferdinand diep sy sleutel uit sy broeksak op. Hy karring vir ʼn paar minute daarmee in die slot voor dit krakerig oopspring. Hy lig die deksel en die twee kyk gelyk binne-in. Op die bodem van die kis lê ʼn brief.

Die twee is so verdiep in die kis en sy inhoud dat hulle nie eens die voetstappe op die trap agter hulle hoor nie. Eers toe ʼn vrouestem opklink, skrik hulle uit hul beswyming.

“So – julle het Manie se kelder gekry,” weerklink Es se stem deur die donker. Sy lag hard. “Julle ou stadsjapies wat dink julle weet hoe om ʼn plaas te bestuur.”

Die twee mans swaai om. Hulle staan verstar en staar na Es in die deuropening. Dan verskyn daar nog ʼn figuur langs haar – Benita.

“In daardie brief sal julle alles lees oor oupa Manie en sy geheimpies,” smaal sy. “Soos legkaartstukkies sal julle alles in mekaar pas. Julle sal lees hoe hy en sy vriend Gert my oupa doodgery en weggejaag het. Vir jare het hy gedink hy kan die geheim wegsteek. Maar hy het my oupa se bende, Die Rowers, onderskat… Hulle het hom eers gestraf deur vir jou ouma Hannie van die gras af te maak.” Sy kyk minagtend na Gerhardus, geen teken van die vrolike rabbedoe van vroeër nie. “Kamstige dierbare ouma Hannie wat vir my ouma en ma ʼn heenkome gegee het toe my oupa een nag so tragies deur ʼn dronkbestuurder doodgery is. Min het sy geweet van die adder wat sy in haar boesem hou en wat vir Die Rowers alles oor haar en haar man se doen en late vertel…”

Haar stem raak weg en Es praat verder.

“Julle arme oupa het al die jare gedink dis ook Die Rowers wat ontslae geraak van sy geheime jeugliefde, Simoné – jou ouma,” praat sy met ʼn kil stem terwyl sy vir Ferdinand kyk. “Die arme vrou het hom geglo toe hy haar vertel dat hy sy verlowing met Hannie gaan verbreek en met haar gaan trou – dit terwyl die arme Hannie ewe kuis by kerslig haar trourok sit en aanmekaarwerk het. Selfs ná die troue het sy aanhou glo dat hy eendag sy Hannie gaan los vir háár, en het sy aanhou om hom op volmaanaande anderkant die plaasdam te ontmoet waar niemand die tweetjies kon sien nie…”

Dis weer Benita se beurt om te vertel.

“En toe sy swanger raak, toe belowe hy dat hy vir haar sal sorg, al kan hy nie met haar trou nie. Hy hét ook. Deur al die jare het hy gesorg dat sy en haar seun alles het wat hulle nodig het. Ook toe jy, Ferdinand, gebore word, het hy aanhou sorg en vir jou alles gegee wat sy ander kleinseuns gekry het – behalwe dat jou ma vir oupa Manie moes belowe die res van jou familie sal nooit van jou bestaan weet nie. Dit sou hulle vernietig.”

Es val haar in die rede. Sy spoeg die woorde uit.

“En tussen sy gekuier met Hannie en Simoné het Manie heeltemal van my vergeet – ek, wat die eerste liefde van sy lewe was en wat op sestien al sy hart gesteel het.” Haar stem word teer. “Hy het toe al belowe dat hy eendag met my sal trou… Tot die mooie Hannie op die toneel verskyn het, en toe Simoné ook. Ek was blind van woede, maar vir jare moes ek my inhou en in ʼn liefdelose huwelik op die buurplaas sit en kyk hoe gelukkig Manie en Hannie saam is… Toe jare later ek een volmaannag ʼn wandeling gaan neem en vir Manie en Simoné hand aan hand agter die plaasdam se wal sien verdwyn, was ek blind van woede. Ek het vir Benita in my vertroue geneem, want ek het geweet ek het iemand in Manie se huis nodig om my met die fyn detail te help sodat niemand onraad sou vermoed nie. Dis toe dat sy my vertel van Die Rowers wat al jare lank wag vir ʼn geleentheid om hul leier se dood te wreek. Sy het my in kontak gesit met hulle, en die res was maklik. Eers Hannie, toe Simoné sewe jaar later, sodat niemand iets sou vermoed nie. Toe my eie man. Ek moes nog ʼn paar jaar wag en die rol van die treurende weduwee enduit speel voor ek vir Manie kon begin betower met my sjarme en hom oortuig dat ek eintlik maar nog altyd die liefde van sy lewe was. Sy lag bitter. “Toe is Manie myne. Net myne.” Haar lag word skril en die twee mans sien hoe Benita ʼn hand op haar arm sit om haar te kalmeer.

“In daardie brief in die kis sal julle die res lees,” praat Benita stil verder. “Julle sal lees hoe ouma Hannie swanger geraak het met haar eerste seun, op dieselfde tyd toe Simoné swanger geraak het met haar eersteling – ook ʼn seun. Hannie se seun is op 13 Februarie 1959 gebore. Hy sou die familienaam kry – Gerhardus. Min het hulle geweet dat Simoné se seun die vorige nag, ʼn volmaannag, in ʼn bywonershuisie op die buurplaas gebore is. Sy het hom Marinus Gerhardus Ferdinand genoem – die volle familienaam wat die Visagies toekom, en wat hulle aanspraakmakers op die erfporsie maak. Toe Manie later Simoné se seun in die geheim wettig aanneem sodat hy ʼn wettige Visagie kan wees, het Simoné geweet haar seun sal eendag versorg wees.”

Gerhardus praat vir die eerste keer. Sy stem is skor. “Ons het dus albei die familienaam gekry – ek is vernoem na my pa, Gerhardus, en Ferdinand is vernoem na sy pa, Marinus Gerhardus Ferdinand,” sê hy hees.

“En dit maak ons albei aanspraakmakers op die erfporsie…” voeg Ferdinand uit die donker by.

Es se skril lag weerklink deur die grafkelder. “Dis dalk hoe dit klink, ja. Maar ek het nie alles so fyn beplan net om nou ontneem te word van dit wat my al my lewe lank toekom nie. As ek geweet het wat Manie in julle briewe geskryf het, het ek dit nooit vir julle gegee nie. Wie sou kon raai dat hy na al die jare ʼn gewete sou ontwikkel en met die hele sak patats vorendag sou kom?” Sy snork. “Hoe ook al, hy het my eintlik ʼn guns gedoen – hoe anders sou ek julle tweetjies hier kon inlok om van julle ontslae te raak?”

In die dowwe lig van Ferdinand se selfoon blink daar skielik iets in Benita se hand – ʼn vuurwapen.

“Moenie eens daaraan dink om iets te probeer nie,” waarsku sy terwyl sy en Es stadig agteruit begin loop. “Die Rowers wag daar buite op die plaaswerf, net ingeval. Hulle sal sorg dat daar geen teken van jul motors of bagasie oorbly nie. Môre sal die land van julle verdwyning in die nuus lees… Twee neefs wat deur hul oupa se dood herenig is en toe tussen neus en ore iewers op ʼn Weskuspad verdwyn het.” Net voor sy die swaar ysterdeur toedruk, beduie sy met die vuurwapen in die rigting van die kis. “Daar is nóg ʼn paar geheimpies… Soos oor hoekom die naam Sonsopkoms so bekend klink. Nie dat dit nou meer saak maak nie. Lekker lees aan jul slaaptydstorie!” Sy druk die swaar ysterdeur toe en die sleutel kraak in die slot. Dan hoor die mans die twee vroue se voetstappe teen die trap op boontoe verdwyn.

Toe die valdeur bokant hulle toeklap, gaan Ferdinand se battery met ʼn laaste flikkering dood.

Dis pikdonker in die kelder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

susan van der walt ·

Bravo!
Die insette tot die verhaal is baie goed saam gevat.
Jammer die twee manne kon nie ‘n manier uitvind om uit te kom of ‘n verskuilde uitgang ontdek en die twee booswigte aan die pen laat ry het nie.
Wat van ‘n opvolg?
Dankie vir die geleentheid dat my aandeel ook gebruik is.
Groete
Susan

Driekie ·

Baie interessant en boeiend, ek hou veral van die slot van die storie, die storie kort dalk net ‘n goeie proefleser se hand, want ek het ‘n hele paar foutjies daarin raakgelees. Maar dit is uitstekend saamgevat en ek voel trots om deel daarvan te kon wees. Baie dankie vir hierdie heerlike geleentheid wat julle geskep het, hoop daar sal weer so ‘n uitdaging vorentoe wees.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.