Konsensus oor taalterme nodig vir Afrikaans se pad vorentoe

Wannie2

Prof. Wannie Carstens. (Foto: Verskaf)

Die dokumentering van variëteite in Afrikaans is ʼn absoluut noodsaaklike proses wat by eenstemmigheid oor terme soos “standaardvariëteit” en “herstandaardisering” moet begin.

Dít is die mening van prof. Wannie Carstens, buitengewone professor aan die Noordwes-Universiteit (NWU). Carstens is ook ʼn navorsingsgenoot van die Afrikaanse Taalraad wat in hierdie hoedanigheid opgetree het as die fasiliteerder van die Projek oor Variasie in Afrikaans (ProVARIA) wat onlangs van stapel gestuur is.

Carstens het in sy loopbaan as taalkundige ʼn prominente bydrae tot Afrikaans gelewer. Sy boek, Norme vir Afrikaans, waarin hy riglyne vir die korrekte gebruik van die taal verskaf, is intussen reeds ses keer hersien.

Hoewel hy bewus is van die politieke omstandighede rondom Afrikaans, wys Carstens ook op die taalkundige waarde van terme.

“Wanneer iemand in ʼn taalkundige konteks van ʼn standaardvariëteit praat, weet ek presies wat dit is. Net so weet almal wat terme soos ‘selfstandige naamwoorde’, ‘kohesie’, ‘intensionaliteit’, ‘tekslinguistiek’, ensovoorts, beteken.

“Dit is presies dieselfde met die term ‘standaardvariëteit’ waaraan daar ʼn bepaalde taalkundige betekenis geheg word. Dié variëteit het uit die betrokke taalgemeenskap ontwikkel, omdat daar ʼn behoefte onder mense ontstaan het om mekaar op die beste moontlike manier te verstaan,” verduidelik Carstens.

Mettertyd, sedert ʼn standaardvariëteit in Afrikaans in die loop van die 20ste eeu gevestig is, het verskeie gebeure, dikwels polities van aard, plaasgevind wat daartoe gelei het dat standpunte en belewings van die taal uiteenlopend is.

“Ons moet seker maak dat ons die terme reg verstaan. In hierdie stadium is daar nie heeltemal konsensus nie, want verskillende mense heg verskillende waardes daaraan. Dít lei tot vaagheid, en dit bemoeilik ʼn effektiewe debat oor ʼn saak.

“Wat veral van belang is, is dat hierdie debat nie gesmoor word omdat dit dalk ongemak kan veroorsaak nie. Ons moet mekaar in die oë kan kyk en saam tot ʼn vergelyk kom,” sê Carstens.

Dit is waarom die werkswinkel wat tydens ProVARIA se bekendstelling by die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) in Stellenbosch aangebied is, so ʼn noemenswaardige gebeurtenis is.

Prof Wannie Carstens (NWU en Afrikaanse Taalraad) en prof Frank Hendricks (UWK) by die stigtingsvergadering van ProVARIA. (Foto: Afrikaanse Taalraad)

Meer as 20 Afrikaanse taalkundiges van 14 universiteite landswyd het saam met verskeie Afrikaanse taalorganisasies begin werk om ʼn navorsingsprojek van Afrikaans se inherente verskeidenheid te begin.

“Dit is die eerste keer sedert 1984 dat so ʼn groot en verteenwoordigende groep Afrikaanse taalkundiges byeenkom om hulpbronne saam te gooi en om saam aan een ondersoekterrein te werk.

“Hierdie werkswinkel het nou vir ons ʼn wegspringplek gegee vir die proses om eenstemmigheid oor terme te bereik. Daar sal waarskynlik nog ʼn paar sulke sessies wees voordat ons klarigheid het, maar op die oomblik is ek heel in my noppies,” brei Carstens uit.

In ʼn poging om die grondslag te vestig, is die Afrikaanse Taalkommissie opdrag gegee om nou met ʼn lys terme vorendag te kom saam met voorstelle van definisies wat aan die betrokke woorde geheg kan word.

Sodra die Taalkommissie ʼn lys saamgestel het, sal daar in die ProVARIA-kring beraadslaag word om seker te maak dat almal op presies dieselfde bladsy rakende die verstaan van elke term is. As dit tot verdere openbare gesprekke, selfs simposiums, oor term-uitklaring sou lei, is dit ook goed en nuttig vir die uitrol van die groter variasieprojek.

“So gaan ʼn mens wanbegrip begin vermy en in hierdie proses die nodige fokus verkry,” sê Carstens. “Want hierna begin die groot werk: die stelselmatige dokumentering van Afrikaans se groot verskeidenheid variëteite.”

Kundige persone wat graag by ProVARIA se aktiwiteite betrokke wil raak of meer te wete wil kom, kan ʼn e-pos aan Roné Wierenga stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Groen Ghoen ·

Sterkte met die mynveld! Hoe op dees aarde kan mense kommunikeer indien woorde nie vir mekaar dieselfde beteken nie? Die gebruikers van “standaard Afrikaans” word al minder, dus sal dit mettertyd die afdraande pad bereik. Is seker alreeds daar.

Barend van der Merwe ·

Baie Afrikaanse sprekers beskou gestandariseerde Afrikaans as iets wat hulle moet beveg. As die vyand wat hulle onderdruk. Maar baie voorstanders van gestandariseerde Afrikaans is ook weer rrogant meerwaardig en neerhalend teenoor variasies van Afrikaans. Ek sien anderdag een wat enige woord waarvan hy nie hou nie beskryf as “onkruid”. Dis alles die perfekte resep vir ‘n ramp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.