Kranslegging vier Langenhoven se 150ste geboortedag

Die skrywer en digter Cornelis Jakob Langenhoven is 150 jaar gelede gebore. (Foto: Verskaf deur die Brümmer-versameling)

Die skrywer en digter Cornelis Jakob Langenhoven is 150 jaar gelede gebore en ter herdenking van hierdie geleentheid gaan die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Kaapkantoor op Sondag 13 Augustus ʼn krans op Langenhoven se graf by Arbeidsgenot gelê.

Arbeidsgenot is Langenhoven se woning wat in Oudtshoorn geleë is. Die huis is ná sy dood in ʼn museum omskep en dit kan deur die publiek besoek word. Langenhoven se vrou, Lenie van Velden, na wie hy in sy skryfwerk as “Vroutjie” verwys, het die huis ná Langenhoven se dood “aan die volk” bemaak. Die huis word nou deur die Langenhoven Gedenkfonds, met steun van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), onderhou.

Langenhoven is op 12 Augustus 1873 naby Ladismith in die Klein Karoo gebore. Hy het aan die Victoria College, later die Universiteit Stellenbosch, regte gestudeer en daarna in die Kaap as ʼn advokaat gewerk. Langenhoven het hom later in Oudtshoorn as prokureur gevestig. Hy is op 15 Julie 1932 oorlede.

Langenhoven het sy lewe daaraan gewy om Afrikaans, nie Nederlands nie, as amptelike taal naas Engels in Suid-Afrika te vestig; iets wat in 1925 gebeur het.

Sy bydrae as skrywer is legio. In 1923 is Loeloeraai, die eerste Wetenskapfiksieroman in Afrikaans, gepubliseer, en hy het ook die eerste speurroman in Afrikaans, getiteld Donker spoor, geskryf. Uit sy pen het 61 werke verskyn, waaronder sy Versamelde Werke wat uit sestien boekdele bestaan. Hy het ook ʼn aantal toneelstukke, debatswenke, kinderverhale, lewensspreuke, debatshandleidings en taalgidse geskryf. Langenhoven was ook bekend as digter, waarvan die bekendste gedig ongetwyfeld “Die stem van Suid-Afrika” is.

Lede van die publiek wat graag op 13 Augustus die kranslegging wil bywoon, kan ʼn e-pos stuur na [email protected]. Die toegangsfooi, wat koffie insluit, is R30 vir volwassenes en R20 vir leerders. Die program word deur die FAK aangebied en dit begin om 14:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.