Moedertaalonderrig maak veeltaligheid moontlik

afrikaans

Argieffoto

Die waarde van moedertaalonderrig word elke jaar op 21 Februarie opnuut onder die vergrootglas geplaas wanneer Internasionale Moedertaaldag gevier word.

Akademia, wat ook die beginsel van moedertaalonderrig onderskryf, het gesê dat hierdie benadering noodsaaklik vir goeie onderwys op alle vlakke is.

Dié private hoëronderwysinstelling glo dat eentaligheid soos wat dit deur die bestaande orde beoefen word, denke verskraal, die mens se verbeelding begrens en lei tot beperkte visie oor die onmeetbare rykheid wat in die tale en kulture van die mensdom opgesluit lê.

Moedertaalonderrig, daarenteen, vergemaklik die aanleer van ander tale en hoef nie aan die beperkinge wat met eentaligheid gepaard gaan, gelykgestel word nie.

“Ons studente ontvang gehalte onderrig in hul moedertaal. Die kennis waaroor hul beskik, sal hulle in ʼn veeltalige omgewing kan toepas,” sê dr. Annelise de Vries, dosent in opvoedkunde by Akademia en voorsitter van die Afrikaanse Taalraad.

De Vries verduidelik dat veeltalige onderwys verskeie vorme kan aanneem: dubbelmedium, parallelmedium, enkelmedium en selfs deur middel van transtaling. “Tog is die kern hiér dat meer as een taal gebruik word, juis om leerders (en selfs studente) die geleentheid te bied om hulle moedertale optimaal te kan gebruik.”

Moedertaal en veeltaligheid loop hand aan hand, en moedertaalonderrig maak veeltaligheid as’t ware eintlik moontlik.

“Die sukses met die aanleer van ʼn tweede of derde taal hang af van die sukses waarmee jy jou moedertaal bemeester het. Suksesvolle, funksionele veeltalige praktyke kan slegs verwerklik word as gemeenskappe op die gebruik van hulle onderskeie moedertale aandring,” het De Vries gesê.

Goeie taalvaardighede, logiese denke en begripsvermoë in die algemeen; persoonlikheidsontwikkeling van leerders; asook die kultivering van wedersydse erkenning en respek tussen die verskillende tale, gemeenskappe en tradisies; is van die voordele wat moedertaalonderrig inhou.

Volgens De Vries is Akademia ʼn lewende voorbeeld van ʼn instelling wat sy taalregte opneem en aanwend om die gemeenskap wat hy dien se moedertaal optimaal te benut en uit te bou.

“Nie net dien Akademia as voorbeeld vir ander taalgemeenskappe nie, maar skep dit hoop vir ander taalgemeenskappe in Suid-Afrika om kulturele (waaronder taal tel) tuistes op te rig, en steeds in voeling te bly met die groter konteks waarin hy funksioneer.”

Suid-Afrika het pad byster geraak

Die VF Plus meen dat die fokus op moedertaalonderrig wys hoe ver Suid-Afrika die pad byster geraak het.

Volgens dié party het die staat die omgewing geskep waarin die sosiale konstruk rondom moedertaal sodanig ontrafel het dat selfs jong universiteitstudente glo dit het nie meer ʼn plek in die land se onderrigstelsel nie.

Vanjaar se tema vir Moedertaaldag is “Meertalige onderwys – ʼn noodsaaklikheid om onderwys te transformeer.” Volgens die VF Plus strook dit met aanbevelings wat tydens die Verenigde Nasies (VN) se beraad oor onderwystransformering gemaak is waarvolgens die klem ook op inheemse mense se onderwys en tale geplaas is.

Hiervolgens vergemaklik meertalige onderwys gegrond op moedertaal, toegang tot en insluiting in onderrig vir bevolkingsgroepe wat nie-dominante tale, tale van minderheidsgroepe en inheemse tale praat.

“Dit is asof hierdie tema geskep is met Suid-Afrika in gedagte. Daar is sekerlik min plekke ter wêreld waar dit meer van toepassing kan wees as Suid-Afrika met sy elf amptelike tale en magdom dialekte waarmee elke spreker in sy streek tuis en vaardig is,” lui die verklaring.

Die VF Plus wys daarop dat die teenoorgestelde in Suid-Afrika oor drie dekades onder ANC-beheer gebeur het. ʼn Koloniale taal is tot formele gebruikerstaal opgehef. Daarom was en is die erkenning van die land se elf amptelike tale bloot ʼn niksseggende gebaar.

“Dit strook duidelik nie met die ideale en voorskrifte van die internasionale gemeenskap en die VN nie. Dit is daarom van die allergrootste belang dat Suid-Afrika se menseregtekommissie (MRK), wat met die mag en bevoegdheid hieroor beklee is, sonder meer uitspraak gee oor die kwessie van moedertaal.”

Aan die begin van 2021 is Afrikaanse studente by die US verbied om Afrikaans te praat, waarna die VF Plus en van die studente self klagte by die MRK ingedien het. ʼn Ondersoek is gedoen en in Oktober 2022 afgehandel. Dit sloer egter omdat “alle belanghebbendes” nog nie kommentaar op die MRK se bevindinge gelewer het nie.

“Vir die VF Plus is hierdie onnodige tydmors onaanvaarbaar. Dit laat ʼn toksiese situasie op die universiteit toe om verder te gis terwyl dit onomkeerbare skade in die menseverhouding tussen studente berokken.

“Moedertaal is vir alle sprekers daarvan van die grootste belang. Dit is deel van hul menswees. Net so vir die Afrikaanssprekendes.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harley Davidson ·

Dit is n absolute moet vir kinders om hulle vormingsjare in hulle moedertaal onderrig te word .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.