MOS-inisiatief bou aanlyn tuisskool

roedolf-van-der-westhuizen

Roedolf van der Westhuizen is die uitvoerende hoof van die MOS-inisiatief wat private Afrikaanse skole wil uitbou en ontwikkel. Foto: Verskaf.

MOS Wêreldwyd, ʼn filiaal van die MOS-inisiatief, is ʼn splinternuwe aanlyn tuisskool wat na verwagting in Januarie 2021 vir graad 7- tot 9-leerders oopmaak.

Maroela Media het vroeër berig dat die MOS-inisiatief (Moedertaal in onafhanklike skole) in Julie 2019 deur die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) gestig is.

Die MOS-inisiatief poog om ʼn netwerk van volhoubare, enkelmedium, onafhanklike Afrikaanse skole te skep wat reg oor Suid-Afrika bedryf sal word.

Kinders word boonop deur innoverende, inklusiewe, bekostigbare, volhoubare en toekomsgerigte onderwys vir die vinnig veranderende wêreld waarin ons onsself tans bevind, voorberei.

MOS Wêreldwyd spruit voort uit die MOS-inisiatief en vorm dus deel van die strategie om uitmuntende onderrig in Afrikaans te verseker en uit te bou.

Tydens die Covid-19-pandemie het die MOS-inisiatief se bestuurspan besef dat die leerbestuurstelsel wat in die model gebruik word, baie goed vir ʼn aanlyn skool sal werk.

Hoewel die pandemie hul spoed effens gestuit het, het dit terselfdertyd die geleentheid gebied om elders vordering te maak.

Die MOS-inisiatief het op 1 November 2019 die Kleinhoewe Kleuterskool in Rustenburg oorgeneem en in Maart vanjaar die Futurum Akademie in die Vaalharts-skema.

Daarna het die MOS-span tyd bestee om verder navorsing te doen en só aan hul nuwe toekomsgerigte leermodel te skaaf.

“Dié tyd het ons die geleentheid gebied om MOS Wêreldwyd tot stand te bring. In ʼn neutedop het die pandemie nie ons strategie verander nie, want ons was reeds op pad daarna toe, maar dit het die fokus ʼn bietjie geskuif en die proses versnel.”

Die aanlyn tuisskool maak Januarie 2021 oop en verskeie ander nuwe skoleprojekte word in die vooruitsig gestel.

“Dit is eerstens belangrik om te verstaan dat die wetgewing in Suid-Afrika nie ʼn nasionale aanlyn skool toelaat nie,” sê Roedolf van der Westhuizen, die inisiatief se uitvoerende hoof. Hy verduidelik dat die regering slegs voorsiening maak vir fisieke skole en dan tuisskole waar die ouer die verantwoordelikheid aanvaar om hulle skoolpligtige kind(ers) te onderrig.

Van der Westhuizen voer aan dat die meeste tuisskole leermateriaal verskaf, maar dat die ouer steeds alleen verantwoordelik is vir die kind se vordering en sukses. Dit is juis wat dié aanlyn tuisskool so uniek maak.

“Die ouer se las word ligter gemaak deur eerstens nie van hom of haar te verwag om ʼn vakkundige te word nie,” sê Van der Westhuizen. “Ons het kundiges in elke vak wat die leerders gedurende hul leerproses ondersteun. Daar is ook ʼn leerbestuurder wat elke kind se vordering bestuur en seker maak die nodige hulpbronne is tot die kind se beskikking.” Ouers word dus in staat gestel om beter ondersteuning aan kinders te bied.

MOS Wêreldwyd se onderrigmodel bestaan nie soos ander aanlyn skole uit ʼn reeks video’s of onderwysers wat probeer om aanlyn klasse aan te bied nie. Die MOS-stelsel is ʼn landskap van leergeleenthede waar ʼn kind self kan besluit hoe en teen watter spoed hy of sy vorder.

Die KABV-kurrikulum (bekend as CAPS in Engels) word steeds as grondslag gebruik om belangrike vaardighede vas te lê. Hiermee saam word inhoud verpak sodat kinders daarby aanklank sal vind. Die onderrigmodel het ook ʼn sterk entrepreneuriese fokus wat leerders vir die toekoms voorberei.

“Die manier waarop tegnologie ingespan word, is daarop gemik om kinders vasgenael te hou,” sê Van der Westhuizen.

“By MOS Wêreldwyd leer kinders nie datums vir geskiedenis nie. ʼn Datum is elke gebeurtenis se adres en net soos wat daar nie net een adres in ʼn straat is nie, leer kinders dat alle gebeurtenisse binne ʼn bepaalde konteks plaasvind. As kinders die sleutel tot daardie konteks het, kan hulle ʼn stem ontwikkel oor dit wat hulle leer.”

Van der Westhuizen, ʼn 38-jarige geoktrooieerde rekenmeester, is ʼn oudleerder van Laerskool Garsfontein en Afrikaans Hoër Seunskool. Hy het sy studies aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus voltooi. Van der Westhuizen het na universiteit vir ʼn paar jaar oorsee gaan werk.

Hy vertel dat sy oorsese werksondervinding hom die waarde van moedertaalonderrig laat besef het. “Sonder dat ek dit geweet het of my ouers dit dalk beplan het, het hulle vir my die beste geskenk denkbaar gegee en dit is dat ek in my moedertaal kon ontwikkel,” sê hy.

“Dit stel my in staat om ʼn wêreldburger te wees wat ʼn verskil maak. Ek gun die geskenk vir my eie kind en alle kinders in ons pragtige land.”

Van der Westhuizen is aan die stuur van sake en word bygestaan deur Alta Greeff, hoof- operasionele bestuurder, Wikus Breetzke, die hoof van innovasie, tegnologie en bemarking, Johan van Lill as onderwyshoof vir navorsing en ontwikkeling, Aylin Botha, wat die digitale koördinering hanteer, Yolandé de Nysschen, kantoorbestuurder, Chris de Beer, leierskap- en besigheidsafrigter, en Ian Fourie, finansiële en kommersiële bestuurder.

Wil jy meer oor MOS Wêreldwyd uitvind? Besoek dié nuwe aanlyn tuisskool se webwerf, die MOS-inisiatief se webwerf of volg die inisiatief op Facebook. Kyk ook na die video waarin die MOS-span dit in ʼn neutedop verduidelik:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.