Niks lekkerder as eet, praat in Afrikaans vir RSG se Amore

RSG se Amore Bekker. (Foto: Verskaf)

Op haar oggendprogram, Alhoebekker, snuffel Amore Bekker graag saam met RSG-luisteraars woorde uit, en so word haar liefde vir taal ook die ding waarmee sy mense intrek en lief maak vir Afrikaans.

Toe dr. Willem Botha, voormalige uitvoerende direkteur en hoofredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), haar verlede jaar vra of sy die volgende beskermvrou vir die WAT se Borg ʼn Woord-veldtog sal wees, was dit nie onverwags nie.

“Dit was vir my ʼn voorreg dat Willem my gevra het. Ek was nie heeltemal verras nie, want ek werk in Afrikaans, en woorde is my ding. As ek kan help dat die WAT aangaan, want dit is tog ʼn wonderlike reeks boeke, dan is dit fantasties,” het Amore gesê.

Wanneer sy soggens die mikrofoon aanskakel en op lug gaan, is Amore bewus van haar verantwoordelikheid as omroeper om keurige Afrikaans te gebruik, maar sy voel dat taal nie mense moet intimideer nie.

“Ons omroepers help mekaar reg, want ons gee vir mekaar om. Ek wil nie hê my kollega moet ʼn woord in Afrikaans verkeerd uitspreek, of ʼn anglisisme op lug gebruik nie. Taal is ons ambag, ons gereedskap en ons handhaaf ʼn bepaalde standaard wat vir mense ʼn voorbeeld stel. Daarom moet ons sorg dat dit opgeskerp is.

“Dit is die konteks waarbinne ons werk, en ons het nie ʼn keuse nie, maar buite daardie omgewing dink ek nie ʼn mens moet sommer net ander mense se taal die heeltyd korrigeer nie.”

Vir Amore is dit belangriker dat sprekers van die taal mekaar verstaan en hulle harte uitpraat, eerder as om die heeltyd op korrekte taalgebruik te fokus.

“Afrikaans is so lewendig, en ek voel ons moet die sirkel wyer trek sodat die lekkerte van die taal met ander mense gedeel kan word. ʼn Mens moet dit nie net vir jouself hou nie.”

Sy glo ook dat ʼn mens die genot van kos en samesyn met mense moet deel, en nie noodwendig in die vorm van ʼn formeel gedekte tafel, fênsie kos of duur porselein nie.

Amore glo die grootste lekkerte kom in die eenvoud van ʼn karmenaadjie, of eenvoudig ʼn tjoppie.

“Jy weet, as dit die dag ‘bewolk’ gaan met my, dan maak ek disse wat my ouma gemaak het. My ma het dit nie eens gemaak nie. Daai disse van eenvoud: ʼn tjoppie in ʼn ysterpot met wonderpeper, sout en naeltjies. Dit is al. Jy kan mos nie so dis in Engels aanmekaarslaan nie? En, dit vat my terug na my wortels toe. Taal, kos, liefde … al daai goeters is so ineen.”

Toe sy onlangs ʼn lugbraaier aangeskaf het, het dié tjoppies sowaar net nog lekkerder geword, vertel sy. “Blykbaar is daar ʼn lewe voor en ná die lugbraaier. Ek het in my lewe nog nie sulke lekker tjops geëet nie.”

In 2010 is Amore se liefde vir Afrikaans en kosmaak bymekaar geroer toe haar eerste resepteboek, Tjailaresepte, by Naledi Uitgewers verskyn het.

Sedertdien het hierdie vermenging van haar passies op verskeie ander plekke tot uiting gekom, soos wanneer sy in haar RSG-program resepte met luisteraars deel. Amore het besef dat dit is waarom sy geskape is, en so voel dit ook nooit vir haar asof sy besig is om te werk nie.

“Alles is vir my soos asemhaal. Ek het my hele lewe lank gewonder waarom God my gemaak het en wat my doel is. Op 44 het ek besef dat daar vir my niks lekkerder is as om te eet en te praat nie. So dit is wat ek doen, dit is hoekom God my gemaak het, en ek moet dit net geniet.”

Amore beskou die handeling van eet eintlik as iets wat ʼn dieperliggende betekenis het. Dit vul nie net jou maag nie, maar ook jou gemoed.

“Eet is ʼn manier om mekaar beter te leer ken, en om mekaar te vergewe. As daar kos in jou maag is, lyk die lewe net beter en dan kan jy sommer maklik iemand vergewe as dit moet.

“Daar is dinge in die lewe wat jy kan beheer, en dan is daar goed wat jy nie kan beheer nie. Wat jy wel kan beheer, is dit wat jy gaan eet. So, dit maak nie saak watter krisis jy moet hanteer of watter groot besluit jy moet neem nie, eet net eers iets voor jy daardie besluit neem,” vertel Amore met ʼn lag in haar stem.

Amore het in 2003 die omroeperspos vir Brêkfis met Bekker, die ontbytprogram wat Saterdagoggende uitsaai, by RSG aanvaar, en later het Derrick Gardner die leisels by haar oorgeneem. Sy het toe begin om die middagprogram, Tjailatyd, aan te bied, en in 2019 het sy die aanbieder van Alhoebekker geword.

In Alhoebekker, wat sinspeel op die frase “al hoe lekker”, neem Amore luisteraars op allerlei reise. Haar Chappies-insetsel waar sy drie brokkies met luisteraars deel, en dan wil weet wat feite en wat flaters is, is ʼn uiters gewilde deel van die program.

Hoewel sy in die spreekwoordelike sewende hemel is wanneer sy uitsaai, is dit tog vir Amore ʼn taak wat deeglike voorbereiding en energie verg.

“Ek is só tevrede met wat ek nou doen, ek kan jou nie vertel nie, maar dit put jou uit om vir drie uur elke dag mense te vermaak en oulik te wees.”

Vir RSG se Amore Bekker is daar niks lekker as eet en praat in Afrikaans nie. (Foto: Verskaf)

Op die vraag oor wat die toekoms vir haar inhou en wat sy nog graag in haar loopbaan wil bereik, antwoord sy dat daar niks groots vir haar voorlê nie.

“Ek is dankbaar om elke dag drie keer te eet, en ek sal graag meer stemwerk vir advertensies wil doen, maar ek wil beslis geen berg gaan uitklim nie, en ek wil ook nie vir ʼn doktorsgraad gaan studeer nie. Eintlik wil ek so min as moontlik doen, want die lewe beweeg teen ʼn verbysterende spoed.”

Oor die veldtog

Die Borg ʼn Woord-veldtog is begin uit nood wat ontstaan het toe die staatsubsidie vir woordeboeke drasties ingekort is. Dit is een van die suksesvolle geldinsamelingsinisiatiewe wat die WAT in 2010 van stapel gestuur het, met David Kramer as beskermheer. Kramer is opgevolg deur Charlene Truter (Lackay), Marita van der Vyver, Nataniël, Dave Pepler, Deon Meyer, Karen Zoid, Hemelbesem, Tracey Lange, Laurika Rauch en Hannes van Wyk.

Die doel van hierdie veldtog is om mense bewus te maak van die waarde van woorde, en die rykdom, kleurrykheid en verskeidenheid van die Afrikaanse taal. Dit laat mense dink oor wat hul gunstelingwoorde is, en watter woorde net eenvoudig vir hulle mooi is. Oor die vraag of slegs bestaande woorde geborg kan word, verduidelik Willem: “Jy kan enige denkbare woord borg. Dit hoef in geen woordeboek te wees nie.” Enige nuutskeppings wat dus tussen familie, vriende en sosiale omgewings ontstaan, kan ook geborg word.

Hoe om ʼn woord te borg

Woorde kan teen R100 per woord geborg word, en elke deelnemer ontvang ʼn sertifikaat met sy of haar naam, en die woord of woorde wat hy of sy borg. Jy kan ook ʼn woord vir R5 000 koop, en niemand anders mag dan daardie woord borg of koop nie, en jy ontvang boonop ʼn 18A-belastingsertifikaat. Alle deelnemers wat woorde borg, kry ook ses maande gratis toegang tot die aanlyn weergawe van die WAT. Indien jy ʼn woord koop, kry jy gratis toegang vir vyf jaar.

Een prys, ter waarde van R25 000 en geborg deur Sanlam, kan gewen word. Almal wat woorde borg of koop, kom vanselfsprekend vir hierdie prystrekking in aanmerking.

Dit is ʼn gewilde geskenk aan geliefdes, familielede en vriende. Indien jy ʼn woord wil borg, gaan na www.wat.co.za en klik op “Borg ʼn Woord”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Hierdie is regtig ‘n merkwaardige vrou vol lewenslus en positiewe uitkyk,ek luister gereeld na haar op radio sonder mense en geniet elke oomblik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.