Taalbeleid: Vat eerder hande en werk saam

Taalboek_voorbladFINAAL

Prof. Jaap Steyn se seminale werk, ‘Ons gaan ’n taal maak’: Afrikaans sedert die Patriot-Jare. Foto: Verskaf.

Drie nuusberigte het die afgelope dae my aandag getrek.

Die eerste was dat die eerste doktorale proefskrif in die geskiedenis in Zoeloe pas aan die Universiteit van Kwazulu-Natal voltooi is. In die berig verwys dr. Zinhle Nkosi spesifiek na die voorbeeld van Afrikaans.

Luidens die berig is daar sowat 15 studente in die fakulteit onderwys wat hul meestersgade in Zoeloe volg. ’n Woordvoerder sê navorsing het bewys dat studente baie beter vaar as hulle in hul moedertaal studeer.

Die tweede is dat die leier van die EFF, die politieke stormvoël Julius Malema, gesê het Afrikaans moet “op sy plek gesit” en slegs (soos Mandaryns, Frans, Spaans en Swahili) ’n keusevak wees.

Nou ja, ’n mens kan tereg verontwaardig wees oor die jongeheer Juju se arrogansie, veral aangesien hy die inheemse taal Afrikaans indirek tot vreemde taal delegeer.

Nee, kyk ’n mens by jou instinktiewe verontwaardiging verby, is daar in sy woorde nogal iets van waarde. Hy het naamlik gesê dis ongehoord dat vraestelle, wat al klaar moeilik is, aan tersiêre instellings soos Unisa slegs in Engels en Afrikaans is. Dit benadeel die studente wat ander tale as moedertaal het, het hy te kenne gegee.

Daarmee kan geen regdenkende mens fout vind nie. As dit gaan om die opheffing van die swart tale tot akademiese vlak, staan Afrikaanssprekendes se ervaring tot die swartes se beskikking. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het al jare gelede die hand van vriendskap na swart taalsprekers uitgesteek om hul tale te ontwikkel.

Dat dit ’n uiters moeilike taak is, is vanselfsprekend. Dr. Nkosi het byvoorbeeld vertel daar was geen enkele handboek oor navorsingsmetodiek in Zoeloe en ook geen literatuur oor haar onderwerp nie.

Bowendien is Zoeloe ook nog nie ten volle vir akademiese doeleindes ontwikkel nie. “Ek moes nuwe woorde, frases en konsepte skep,” het sy gesê.

Vir Afrikaners wat iets van hul taal se geskiedenis weet, klink dit baie bekend. ’n Eeu gelede was Afrikaans slegs ’n kombuistaal, en die grenslose minagting wat Engelssprekende intellektuele en koerante gereeld oor Afrikaans laat blyk het, was monumentaal. In sover Afrikaners die hoër taalfunksies benut het, het dit in Nederlands of Engels gebeur.

Maar, soos N.P. van Wyk Louw dit gestel het, die doelbewuste ontwikkeling van Afrikaans was ’n “geloofsdaad”. Veral koerante soos Die Burger en Die Volksblad, asook ’n tydskrif soos Die Huisgenoot het destyds baanbrekerswerk gedoen om nuwe woorde en begrippe te skep – oor sport, motors, die ekonomie, die alledaagse lewe, noem maar op. Dit het ’n ongelooflike kraginspanning van ’n leërskare van besielde mense geverg om van Afrikaans ’n volwaardige kultuurtaal te maak.

Dit beteken dat Afrikaans ’n kulturele kapitaal opgebou het wat nie te versmaai is nie. En Juju kan gerus verby sy eie rassisme kyk en hande met Afrikaans vat om swart tale ook te ontwikkel, soos Nkosi tans doen.

Die derde berig is ’n pleidooi van dr. Michael le Cordeur, senior lektor in opvoedkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, dat die Kaapse variant van Afrikaans groter erkenning moet kry, ook op skoolvlak.

Sommige wit Afrikaners reageer negatief en minagtend op Kaaps, onder meer weens die baie Engelse woorde. Le Cordeur erken dat baie bruin mense self “skaam” is vir Kaaps.

Daardie soort sentiment sal jy nie by my hoor nie. Ons Afrikaners se Afrikaans is self steeds minder suiwer, en dalk moet ons eers voor ons eie deur vee voordat ons ’n vinger na Kaaps wys.

Belangriker nog: ’n Eeu gelede het die Engelssprekendes dieselfde soort minagting vir die destydse Afrikaans geopenbaar. Dit laat ’n mens se bloed nou nog kook as jy daardie uitsprake lees.

Gelukkig het die Afrikaners hulle nie daardeur laat onderkry nie. Dit het hulle net nog meer gemotiveer om skouer aan die wiel te sit en Afrikaans behoorlik te ontwikkel.

Daardie proses is egter aangehelp deurdat Nederlands as standaardtaal gefunksioneer het, waaraan Afrikaans homself kon optrek. Só het Afrikaans een van slegs enkele tale geword wat hom in die 20ste eeu tot volwaardige kultuurtaal kon ophef, naas Hebreeus, Hindi en Maleis.

Dus moet die bruines wat Kaaps wil ophef, versigtig wees om nie standaardafrikaans te verwerp nie. As dít gebeur, sal dit hul pogings ten behoewe van Kaaps onmiddellik nek omdraai.

Die ding is natuurlik dat die Afrikaners indertyd genoeg kulturele kapitaal gehad het om hul taal op te hef, al het dit met groot moeite en talle horte en stote gepaardgegaan.

Die vraag is nou natuurlik of die swartes en die bruines voldoende kulturele kapitaal het om die swart tale en Kaaps te ontwikkel. Want moenie die taak onderskat nie; dit gaan ’n langdurige proses wees wat nie met ’n towerstaffie gedoen kan word nie.

Ek kan nie antwoorde op die vraag gee nie, en ek wíl ook liefs nie. Dis nie vir my om aan ander te sê wat hulle wel of nie kan doen nie. Dis iets waaroor hulle self sal moet besluit.

Maar wat ek wel weet, is dat die algemene geskel op Afrikaans en Afrikaanstalige instellings daardie op sigself lofwaardige strewe nie gaan aanhelp nie. Inteendeel, hulle kan eerder gaan oplees oor hoe Afrikaans opgehef is en lesse daaruit leer.

’n Handige bron is prof. Jaap Steyn se seminale werk, ‘Ons gaan ’n taal maak’: Afrikaans sedert die Patriot-Jare. Daarin word die taalkundige, taalsosiologiese, ekonomiese en politieke proses waarmee die Afrikaans-projek gepaardgegaan het, breedvoerig uiteengesit.

Die kernpunt is dat ons in Suid-Afrika nêrens gaan kom as ons téénoor mekaar staan as vyande of teenstanders nie. Dis veel verstandiger om hande te vat en saam te werk.

En dit geld natuurlik nie net vir die taalgebied nie, maar alle lewensterreine.

Helaas moet ’n mens beklemtoon dat die ANC daardie noodsaak steeds minder insien. En, wat des te tragieser is, is dat soveel Afrikaanssprekendes, wit én bruin, hul eie moedertaal so gereeld en met soveel oorgawe in die rug steek.

Om vir die behoud van Afrikaans te veg, is nie rassisties of anti-swart nie. Om téén die behoud van Afrikaans te veg, kom in die praktyk ongelukkig inderdaad te veel op rassisme neer. Dis tragies, maar waar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

HEVW ·

Die dolk vir die veminkink en waardeloosmaking van osn taal sit ongelukkig op hierdie stadium in die Afrikaner se hand. Ons is besig om taalselfmoord te pleeg.

Johannes Comestor ·

‘n Eeu gelede was Afrikaans nie ‘n kombuistaal nie. Die lede van die Genootskap van Regte Afrikaners het reeds in 1875 in Gideon Malherbe se voorhuis vergader en nie in sy kombuis nie. Die kombuisstorie word tot vervelens toe herhaal deur polities korrektes wat wil voorgee dat Afrikaans uit die niet deur slawe en die Khoi-San geskep is.
Dit is om dieselfde rede mode om vir Kaaps te pleit. ‘n Mengeltaal soos Kaaps bestendig die verswelging deur Engels. Daar moet veel eerder veldtogte vir die bevorderring van suiwerder Afrikaans gevoer word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.