Tel jou woorde: Die bykomende bywoord

Argieffoto

In ʼn vorige blog, Die aangrypende adjektief, het ek oor adjektiewe (ook: byvoeglike naamwoorde) geskryf. Hierdie blog handel oor die adjektief se flambojante neef, die bywoord, wat dikwels as nagedagte by die partytjie opdaag, maar dan die hele geaardheid van die byeenkoms kan verander.

Voor ek wegspring, let net daarop dat die bywoord volledig beskryf word in die Afrikaanse Skoolgrammatika (ASG) wat gratis via ons webblad (www.viva-afrikaans.org) toeganklik is. ʼn Oorsig oor al die woordsoorte is in Taalonderrigportaal beskikbaar, en gebruikers wat meer oor woordsoorte te wete wil kom, moet beslis daar gaan naslaan. ʼn Blog soos hierdie kan die belangrikste eienskappe van ʼn woordsoort aanraak, maar dit kan nie alles dek wat daar oor ʼn woordsoort te sê is nie.

Die bywoord veroorsaak vir leerders en onderwysers hoofbrekens, juis omdat dit soveel verskillende dinge in ʼn sin kan doen. So lui die definisie vir die bywoord in ASG:

Die bywoord word gebruik om:

  • die (semantiese) drakrag van ‘n ander woord of sinsdeel in die sin te beperk, versterk of vereng;
  • die sin negatief/ontkennend te maak;
  • tyd, wyse, rigting en/of plek in die sin aan te dui;
  • die spreker/skrywer se houding/opvatting oor die gedagte wat in die sin (hoofsin) as geheel gestel word, weer te gee; of
  • sinne sintakties te skakel, hetsy as voegwoordelike bywoord of as betreklike bywoord.

Die tradisionele opvatting oor bywoorde is dat dit werkwoorde beskryf. Dit is waar, maar kyk na die woorde wat in die onderstaande voorbeelde deur bywoorde beskryf word. Meer as net werkwoorde word deur bywoorde uitgebrei:

  • Ek het nou lekker gelag. (bywoord + werkwoord)
  • Ella het vanoggend ʼn baie seer (bywoord + adjektief)
  • Ons woon reg langs (bywoord + voorsetsel)
  • Hy sit doer agter. (bywoord + bywoord)

Daarbenewens maak bywoorde sinne ontkennend:

  • My hond is nie bang nie.
  • My hond is vir niks bang nie.
  • My hond is nooit bang nie.

ʼn Voetnoot hier: Die tweede nie in bostaande sinne is ʼn ontkenningspartikel, nie ʼn bywoord nie. Ons kom nog in hierdie blogreeks by partikels, maar kyk solank na die afdeling oor partikels as jy nou reeds meer daaroor wil weet.

Bywoorde kan ook tyd, wyse, plek, rigting, ens. in ʼn sin aandui:

  • Soggens is sy ʼn regte grompot.
  • Hy wil opsluit daar
  • Sy kan nog nie agteruit ry nie.

Nog ʼn voetnoot: Let hier op dat veral bywoorde wat tyd aandui baie gemaklik in die sinsaanvang staan.

Dan is daar ʼn klompie bywoorde wat ʼn mens nie maklik met ʼn ander woord in die sin verbind nie. Hulle beskryf eerder die sin as geheel, en hulle sê vir ons meer oor die persoon wat die sin uiter as oor ʼn bepaalde woord in die sin. Ons noem hierdie woorde bywoorde van modaliteit:

  • Ek het jou mos gesê.
  • Hy is verdomp al weer laat.
  • Hantie is eintlik baie oulik.

Bywoorde kan ook gebruik word om sinne te skakel, bv.:

  • Hy het laat gaan slaap, nietemin is hy vroeg op.
  • Hy is ʼn goeie sportman, daarbenewens is hy akademies sterk.

Die klassifikasie van hierdie sogenaamde voegwoordelike bywoorde is moontlik problematies, omdat baie skoolhandboeke dit as voegwoorde klassifiseer. Dit is nie korrek nie. Voegwoorde is nie deel van een van die twee sinne as dit uitmekaar gehaal word nie. Bywoorde bly deel van een van die twee sinne:

  • Hy slaap laat, want hy is moeg. (Hy slaap laat. Hy is moeg. want = voegwoord)
  • Hy het laat gaan slaap, nietemin is hy vroeg op. (Hy het laat gaan slaap. Hy is nietemin vroeg op. nietemin = bywoord)

Hieroor ook ʼn voetnoot: Verwys na AWS 13.42 vir die gebruik van die komma, en nie die kommapunt nie, voor voegwoordelike bywoorde.

Dan is daar ʼn laaste groep, naamlik betreklike bywoorde. Ek vermoed hierdie woorde word in skoolwerk as betreklike voornaamwoorde geklassifiseer, maar dit is in der waarheid bywoorde:

  • Die karretjies waarmee hy speel, was my pa sʼn.
  • Die huis waarin hulle bly, is baie luuks.

Die beginsel wat hier geld, is dat betreklike bywoorde telkens ʼn bywoordelike bepaling in die bysin vervang (Hy speel met die karretjies; Hulle bly in die huis) en dat die woord wat daardie bywoordelike konstruksie in die bysin vervang, eweneens ʼn bywoord is. Wenk: Die enigste betreklike voornaamwoorde is wie en wat, die ander betreklike woorde is almal betreklike bywoorde. As dit onduidelik is, kyk in die afdeling oor bywoorde en die afdeling oor voornaamwoorde in ASG vir ʼn volledige bespreking.

ʼn Laaste woord: Hierdie blog bied ʼn oorsig oor die woordsoort. Dit is ʼn hulpmiddel en ʼn bewusmaking van die navorsingswerk wat oor die woordsoort gedoen is, maar dit is nie ʼn volledige bespreking nie. Verwys gerus na Taalonderrigportaal, en veral die afdeling oor bywoorde, vir ʼn breedvoerige bespreking en toeligting van die navorsing oor bywoorde.

VivA-groete

Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Taalgebruik

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae