Woord:
skrander
Betekenis:
Wat oor ʼn bogemiddelde intelligensie beskik asook oor die vermoë beskik om bogemiddeld te presteer, of wat van hierdie eienskappe getuig: ʼn Skrander leerder, meisie, onderwyser, student, vrou, wetenskaplike. ʼn Skrander brein, gesig, voorkoms. Skrander insig, oë. ≈ Hy was weliswaar nie so skrander soos Valie en Lappies nie, en hoewel hy ruim so hard gewerk het soos die twee het hy nie sulke goeie rapporte gekry… nie (C. Wilke: Rossburg, 1943, 4). Die middelmatige kind kry dalk ses of sewe reg en die skrander kind kan kyk of hy volpunte kan behaal (H.A. Prozesky: Opvoedk.2, s.j., 63).
Waar kom dit vandaan?
Uit Ndl. schrander (1610 in die bet. ‘skerp, bytend’, 1621 in die bet. ‘slim, skerpsinnig’), ʼn afleiding met -er van schrand ‘suuragtig, wrang, skrander’, met lg. van die stam van Mnl. schrinden ‘splits, skeur’. Die bet. ‘skerp, bytend’ nog gewestelik in Drente. Eerste optekening in Afr. in Patriotwoordeboek (1902).
Bronne: Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA), Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT)
- Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red