VivA ontrafel die tameletjies van vloekwoorde in Afrikaans

VivA se vloeksimposium (Foto: VivA Afrikaans/Facebook)

Hoewel kru taal vir baie Afrikaanssprekendes ʼn doring in die vlees is, is ánder weer van mening dat dit deel is van die Afrikaanse woordeskat.

Hierdie uiteenlopende standpunte oor vloek en vloekwoorde het aan die lig gekom tydens VivA (die Virtuele Instituut vir Afrikaans) se simposium met die tema “Vloek met flair én voorbehoud” wat op 15 November in Pretoria gehou is.

Talle Afrikaanssprekendes het vooraf die nodigheid van so ʼn bespreking bevraagteken en die simposium veroordeel, maar baie ander lede van die publiek en simposiumgangers het die gesonde debatvoering oor dié omstrede kwessie verwelkom.

Oor die simposium

VivA organiseer elke tweede jaar ʼn openbare simposium waar aktuele onderwerpe bestudeer en beredeneer word. By die vorige simposium is haatspraak op sosialemediaplatforms ondersoek en vanjaar is vloektaal, in samewerking met prof. Gerhard van Huyssteen, taalkundige en stigter van vloek.co.za, onder die soeklig geplaas.

“Bestaan vloekwoorde? Gebruik (sommige van) ons vloekwoorde? Word ʼn vloekwoord in die woordeboek opgeneem?” het Marlie Coetzee, uitvoerende direkteur van VivA, tydens die opening van die simposium aan gehoorlede gevra. “Dié onderwerp het om verskeie redes die tonge los gehad op sosiale media. Maar vir my het dit baie meriete,” het sy gesê.

Coetzee het gehoorlede daaraan herinner dat alles wat VivA doen, akademies van aard is en hiermee benadruk dat VivA ʼn navorsingsinstituut is wat die Afrikaanse taalkunde in al sy fasette navors.

Gerhard van Huyssteen aan die woord by VivA Afrikaans se simposium oor vloekwoorde (Foto: VivA Afrikaans/Facebook)

Van Huyssteen het as inleidende spreker opgetree waarna ‘n paneelbespreking gehou is deur Foeta Krige, voormalige uitvoerende regisseur van RSG se nuusaktualiteitsprogramme, Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, Hannes Brümmer, akteur, Lizané Basson, voormalige projekorganiseerder van ATKV-Tienertoneel, en Johan Jack Smith, redakteur van die Taalgenoot en skrywer.

Tydens sy inleiding het Van Huyssteen verduidelik watter karige navorsing tot dusver oor vloekwoorde en kru taal in Afrikaans gedoen is, en waarom hy besluit het om ‘n navorsingsprojek oor die onderwerp van stapel te stuur. Vir die doeleindes van sy navorsing het hy vloekwoorde in ses kategorieë verdeel, naamlik woorde waarmee taalgebruikers sweer, mekaar vervloek en beledig, swets, skel en laster. Die woorde in hierdie laaste kategorie is gewoonlik dié wat die meeste aanstoot gee, omdat dit in verskeie geloofsgroepe as taboe beskou word.

Hy het ook ses domeine geïdentifiseer waaruit vloekwoorde in Afrikaans kom. Dit sluit in seks, religie, skatologie (wat te make het met liggaamsuitwerping), andersheid (byvoorbeeld rassistiese en seksistiese woorde waarmee iemand wat anders is as die spreker daaroor beledig word), die diereryk en die natuur.

Paneel se terugblik op die simposium

Paneelbespreking by VivA Afrikaans se simposium oor vloekwoorde (Foto: VivA Afrikaans/Facebook)

Hoewel die meeste paneellede verbonde is aan ʼn bepaalde instansie, was dit opmerklik dat daar deurgaans  ʼn duidelike onderskeid tussen persoonlike en professionele standpunte oor die onderwerp getref is.

“Dit is vir ons as Maroela belangrik om deel van hierdie gesprek te wees,” het Lombaard oor Maroela Media se deelname aan die simposium gesê. “Ek dink nie ʼn mens kan die feit ontken dat mense sterk taal gebruik en ʼn behoefte het om hulle op ‘n kragtige manier uit te druk nie.”

Sy het hoofsaaklik oor Maroela Media se kommentaarbeleid en die regulering van kommentaar op sosiale media gesels.

“In die konteks van Maroela Media, wat op ʼn Christelike fondament gebou is, is daar ʼn aanvaarbare en onaanvaarbare manier om kommentaar te lewer. Respek vir jou medemens en ʼn begrip dat kinders dalk gaan lees wat jy sê, is baie belangrik. Maroela lê waarskynlik aan die meer konserwatiewe kant van die spektrum as dit kom by ‘n omstrede onderwerp soos vloek, maar dis belangrik dat iemand ook dié standpunt inneem,” het sy beklemtoon.

Sy het verduidelik dat Maroela-lesers nie ‘n spesifieke lysie woorde hoef te gebruik om die kommentaarbeleid te oortree nie, maar dat enige kommentaar wat iemand anders beledig of slegsê, wat lasterlik of Godslasterlik is, of wat kru omskrywings bevat, onaanvaarbaar is en uitgevee word, selfs al bevat dit nie woorde wat oor die algemeen as “vloekwoorde” beskou word nie.

Brümmer se bydrae het gefokus op vloektaal binne die vermaaklikheidsbedryf en spesifiek oor ʼn akteur se rol in die gebruik daarvan.

“Dis vir my ʼn baie interessante gesprekspunt. ʼn Mens moet praat oor die rol wat vloekwoorde speel,” het Brümmer oor sy deelname gesê. “Vloek bestaan in elke taal, so ons kan nie net daardie woorde in ons woordeskat wegwens nie.”

Smith was dit ook eens dat vloek regmatig ondersoek moet word. “Dis ʼn onderwerp wat nog behoorlik nagevors behoort te word. Daar is soveel goed wat ons nog nie daaroor weet nie en wat ontrafel moet word,” het hy aan Maroela Media gesê.

Boodskap aan die publiek

Sophia Kapp aan die woord by VivA se simposium oor vloek (Foto: VivA/Facebook)

Brümmer se boodskap aan die publiek is eenvoudig.

“Omdat ek vloek, beteken dit nie jy hoef te vloek nie. Mense hoef nie anders oor vloek te dink nie – ek dink net nie hulle moet ontken dat dit bestaan nie.”

Hy het óók beklemtoon dat vloek voor kinders ʼn taboe in hulle huishouding is.

Lombaard, ook ʼn ouer van twee, bestempel dít as ʼn waardevolle punt van die simposium.

“Dit was vir my interessant dat die opmerking ‘maar nie voor my kinders nie’ gereeld gehoor is. Dit sê tog vir my daar is ʼn behoudendheid in terme van wat ons ons kinders wil leer. Dit sê ook vir my iets van ons waardes en ek is bly om te hoor dat dit oor die algemeen klink na ʼn beginsel wat in Afrikaanssprekendes se huise nog sterk staan,” het sy bygevoeg.

Vanuit Maroela Media se perspektief het Lombaard gesê: “Ons het so ʼn tong-in-die-kies-beleid – ons laat nie toe wat jy nie in jou ouma se sitkamer sal sê nie. Ek dink dis ʼn goeie riglyn, want dit gaan daaroor dat jy weet wie is in jou geselskap en dat jy uit respek vir jou gespreksgenote dink hoe jy jou woorde kies.”

Coetzee meen sy is tevrede met die terugvoer wat VivA ná die simposium ontvang het.

“Die meerderheid van die publiek en simposiumgangers is meer oopkop oor die onderwerp. Mense besef die verskynsel van vloek vind plaas,” verduidelik sy. “Maar een van die belangrikste punte is dat ons nie mense aanmoedig om te vloek nie.”

Sophia Kapp het ter afsluiting ʼn bondige samevatting van die paneel se insette gegee. Lees hier wat sy daaroor geskryf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jacques du Toit ·

Vloek is ‘n fassinerende verskynsel.
Baie mense is daarteen gekant, maar dis juis iets wat kunsmatig deur die mensdom aan die lewe gehou word.
As almal van vandag af ophou om hul kinders te leer dat daar lelike woorde is, sal geen woorde meer lelik wees nie.
As ons ouers bv. vir ons gesê het dat “pers” ‘n vloekwoord is, dan sou baie mense ongemaklik gevoel het met daai woord.
Daar is immers nie ‘n lys van vloekwoorde in die Bybel nie.
Die enigste een is dat jy nie God se naam ydelik mag gebruik nie, wat dus beslis vir my taboe is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.