Motorfietsryer-moord: Verdagte in hof terwyl familie rou

Justin de Freitas en sy vrou Vicky. Foto: Verskaf.

Justin de Freitas en sy vrou Vicky. Foto: Verskaf.

Terwyl Justin de Freitas (32) se gesin reëlings moet tref vir dié pa van drie se begrafnis, het sy vermeende moordenaar Dinsdag in die hof verskyn ná ʼn voorval Saterdagoggend voor ʼn motorfietssaamtrek sowat 3 km buite Polokwane in Limpopo.

Maroela Media het Maandag berig De Freitas is by ʼn motorfietssaamtrek by die Soetdorings-buiteklub deur ʼn ander motorfietsryer doodgesteek. Dit het intussen aan die lig gekom dat De Freitas Saterdag in die vroeë oggendure vermoor is, vóór die saamtrek later die dag begin het. Motorfietsryers van ander dorpe het glo Vrydagaand by die oord oornag en De Freitas het as kroegman gaan uithelp. Hy is na bewering doodgesteek nadat die kroeg toegemaak het en hy met sy bakkie wou terugkeer na Polokwane.

Kapt. Mohlaka Mashiane, polisiewoordvoerder, het gesê daar het moontlik ʼn bakleiery tussen die twee mans ontstaan, waarna die verdagte ʼn mes uitgeruk het en De Freitas in sy bors gesteek het. Hy is op die toneel dood. Die omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek.

Die verdagte, Paul Carr (42) van Middelburg in Mpumalanga, is kort daarna in hegtenis geneem en het Dinsdag in die Polokwane-landdroshof verskyn op aanklag van moord. “Hy is nie borgtog toegestaan nie en bly in aanhouding. Hy moet na verwagting Donderdag weer in die hof verskyn,” het Mashiane aan Maroela Media gesê.

Intussen is De Freitas se vrou, Vicky, en hul familie in rou gedompel. “Deur een mens se onsinnige daad is ʼn hele familie ontwrig,” het sy aan Maroela Media gesê. “Daar is ʼn leemte gelaat wat nooit weer gevul sal kan word nie.”

Die familie sal hom onthou as ʼn hegte gesinsman, toegewyde eggenoot en ʼn wonderlike pa.

“Niks was ooit te groot of te veel om vir my en sy kinders te doen nie. Justin het ʼn groot hart gehad en het baie omgegee vir die mense na aan hom. Hy was regverdig, saggeaard, ʼn man van sy woord en hy het vaste beginsels gehad. Hy was partner, lover, bondgenoot en klankbord,” het sy gesê.

Voor sy dood was hy werksaam as ʼn verkoopsverteenwoordiger by SEW Eurodrive en sy werkgewer en kliënte kan net met lof van hom praat.

Vicky het gesê haar man het geglo om die lewe voluit te leef en was mal oor motorfietsry en het met sy motorfiets sy lewenspassie uitgeleef. “Ons kan net met respek praat van die motorfietsklub waarby hou wou aansluit. ‘Respek’ is ook hul leuse. Hy sou die dag van sy dood sy kleure kry om by die klub aan te sluit.”

Sy het gesê die klub het gereël dat De Freitas se gedenkdiens gratis by Soetdorings gehou kan word en dat gaste wat moet oornag teen ʼn goedkoper tarief gehelp kan word.

ʼn Stoet vertrek Vrydag om 13:30 van Martins Funerals in Schoemanstraat na Soetdorings waar sy gedenkdiens om 14:30 gehou sal word.

De Freitas laat sy vrou, Vicky, dogter Loudene (15) en twee seuns, Miguel (11) en Tristan (7), agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Se maar net ·

Wat ‘n sinnelose daad? Baie sterkte aan die familie en gesin.

Peet Schabort ·

Vrou, kinders 15, 11 en 7 jr.
GEEN straf kan vir dit vergoed.
Sterkte . . .

SNEL ·

Dit is soos Vicky sê, deur een man se onsinnige daad is n hele familie in rou gedompel. n Vrou en drie jong kinders, sonder n man, pa en broodwinner. Baie sterkte aan julle almal.

Koos Heymans ·

Twee families is nou ontwrig, die vermoorde se familie en die beskuldigde, waarvan drank waarskynlik die oorsaak was.

Rooijan ·

Ek sien dit ook nou die wille wragtag moes eintlik klaar in die tronk gewees het nou is nog n persoon dood. Hoop hierdie keer bere hulle hom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.