Beïnvloed beurtkrag regtig vleispryse?

Deur Maarten Kruger

Speenkalfpryse is tans die laagste wat dit in drie jaar was en die rede is dat minder mense weens die verhoogde rentekoerse en gepaardgaande dalende persoonlike besteebare inkomste rooivleis kan bekostig. Die noodwendige gevolg is dat die pryse daal omdat die aanvraag kleiner word.

Almal in die land, tot mense en instansies wat ʼn mens glo beter behoort te weet, wil beurtkrag die skuld gee vir die dalende vleispryse. Kan beurtkrag alleen die skuld kry vir dié daling?

Ek is nou al ses jaar op sonkrag alleen aangewese en my vrieskas is op ʼn tydskakelaar wat vir so sewe uur per dag aankom. Dit is minder as wat baie Eskom-gebruikers daagliks tot hulle beskikking het. My vleis bly darem gevries, maar ons moet aanvaar dat die meerderheid van die lae-inkomste verbruikers nie vrieskaste het nie.

Eskom het onregstreeks bygedra tot die daling in vleisverbruik deurdat ʼn hele klomp ondernemings hul deure moes sluit en ons gevolglik moet aanvaar dat dié werknemers nou sonder inkomste sit en gevolglik nie vleis kan bekostig nie.

Dit is egter nie al nie.

Lê die werklike probleem nie by ons ekonomie wat nou ook al vir ʼn hele paar jaar onder druk is weens die ANC se wanbestuur nie? Hul slimmighede sorg deurlopend dat die rand verswak, wat veroorsaak dat produkte wat ingevoer word, wat kos insluit, nou duurder is.

ʼn Werker kry net een maal ʼn jaar, as hy gelukkig is, ʼn verhoging. Ons sit egter met die situasie dat die brandstofprys in ʼn kort tyd met baie meer gestyg het as wat dit die afgelope paar jaar gestyg het.

As dit gebeur styg die voedselpryse en die werknemers se brandstofbegroting om by die werk te kom, maar wanneer die brandstofprys die maand nie styg nie, daal voedselpryse nie.

Ons het verder nou al verskeie verhogings in die rentekoers gehad wat veroorsaak dat werknemers wat huise met ʼn lening gekoop het en wat oortrokke bankrekenings het, nou meer aan hul premies moet betaal, maar die salarisse styg nie maandeliks nie, so waar knyp hy geld af om daarvoor te betaal – by sy voedselbegroting. Vleis is ʼn artikel waarop ʼn mens maklik kan sny, want daar is ʼn verskil in die prys van die verskillende snitte.

Die beurtkragsituasie gaan nie vinnig opgelos word nie en die ekonomie gaan ook nie vinnig herstel nie.

Moet ʼn mens dan tot die gevolgtrekking kom dat vleispryse nie vinnig gaan herstel nie? Indien dit egter vinnig herstel gaan mens die probleem op ʼn ander plek moet gaan soek.

Ek vrees ook die dag wanneer enige van die opposisiepartye wat ons het aan bewind moet kom, want my gevolgtrekking is dat hulle maar op dieselfde trant as die ANC gaan voortgaan as hulle nie self dit kon insien wat ek as ʼn leek hier probeer verduidelik nie.

  • Maarten Kruger is ʼn veeboer tussen Senekal en Ventersburg.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Produksie, Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Miskruier ·

Slagpale kan nie meer n oormaat slag nie, die verkoeling van warm na koud vat te lank tydens beurtkrag

Kobus ·

Daar is egter die “grypdiewe” wat pryse verhoog en steeds Covid as rede / verskoning gee. Dan voeg hulle die brandstofpryse en beurtkrag by. Verbruikers is vuisvoos agv die pryse wat so styg. Aartappels het skielik van R12/kg na R18/kg gestyg. Ek aanvaar markkragte speel ‘n rol,maar ons word regtig uitgebuit. Wanneer brandstofprys daal, bly die prys dieselfde. Vra ek eendag die bestuurder van ‘n bekende groep hoekom pryse nie dienooreenkomstg verlaag word nie…sy antwoord – dit is voorraad wat afgelewer is toe brandstof duurder was.

SwartBees ·

Dit word genoem die dry hump method om jou verder van jou hard verdiende lone te beroof.

Michael ·

Nou wonder ek wanneer word die voorraad wat afgelewer is toe die brandstofprys laer was dan die rakke teen ‘n verlaagde prys gaan bereik? Klaarblyklik nooit nie. Talle handelaars gee glad nie om dat die brandstofprys so lekker wissel nie-hulle maak lekker wins daaruit

Oom ·

Die Suid-Afrikaanse verbruiker sal moet leer planne maak. Deur groente op een van die Nasionale Varsproduktemarkte (NVPM) te koop is die antwoord. Aartappel se gemiddelde nasionale prys (10kg sakkie) is tussen R5.50 en R6.00 per kg. ‘n Mens kan ver ry met die verskil (R12.00 x 10 = R120.00) tussen die NVPM en die supermark prys veral as ‘n paar huishoudings saamspan. Die markte skrik baie mense af weens die omvang, maar daar is geen verpligting om grootmaat te koop nie. Selfs een is reg.

Oom ·

En as mens begin gewoond raak aan die proses, raak dit ‘n lekker uitstappie op ‘n Saterdagoggend. ‘n Mens moet net vroeg (nie later as 08:00 nie) arriveer. DIe markagente is vriendelik en hulpvaardig. En as die agente ‘n mens begin ken, verhoed niks jou om vooraf die produkte te bestel nie. Ek het gereeld vanaf 1999 tot 2018 op die Pretoriamark ons groente/vrugte gekoop. Ons woon nou-al meer as 5 jaar in die buiteland en ek mis nogsteeds die koopgeleenthede op die markte in SA.

MARELIZE ·

Ek soek na ‘n duimpie merkie.

Want juis, ons wat self boer stem saam. Dis nie beurtkrag alleen nie, inteendeel ek dink beurtkrag maak ‘n baie bitterklein deeltjie van die vleispryse uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.