Lesersbrief: Die president stel ʼn voorbeeld vir Lesufi

Dr. Dionē Prinsloo, hoof uitvoerende beampte van SA Akademie. Foto: YouTube/Skermskoot uit ‘n Dagbreek-video

Dr. Dioné Prinsloo, uitvoerende hoof van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, skryf:

Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, se uitsprake oor onderwys in Afrikaans en sy opmerking dat ‘n mens aan leerlinge ‘n onguns bewys deur hulle in Afrikaans te laat studeer, getuig van onkunde oor skolestelsels en moedertaalonderrig.

Lesufi se vooroordeel teen Afrikaans kom al van ver en is strydig met die uitspraak van die nuutverkose president Cyril Ramaphosa, se toespraak Woensdag in die parlement waarin hy beklemtoon dat die regering daar is om die belange van álle Suid-Afrikaners te bevorder en dus nie net die belange van een politieke party, die ANC, nie.

Dat meer as sewe miljoen Suid-Afrikaners Afrikaanse moedertaalsprekers is of Afrikaans as tweede-taalsprekers elders en in die werksplek besig, is blykbaar nie vir Lesufi belangrik nie.

Hy heg belang aan ‘n koloniale taal wat vir ‘n handjievol Suid-Afrikaners ‘n moedertaal is en wat hoogs waarskynlik ook vir Lesufi ‘n aangeleerde taal en nie sy moedertaal is nie.

Die belangrike posisie wat hy beklee, moet Lesufi eerder gebruik om gehalte-onderrig te bevorder, ongeag die taal waarin dit geskied. Die skreiende tekort aan skole behoort vir hom ‘n prioriteit te wees, eerder as om politiek en die belange van sy eie politieke party te bevorder.

Dat Afrikaans ‘n belangrike bydrae lewer tot gehalte-onderrig en die land se intellektuele kapitaal is bewys deur ‘n onlangse studie van prof. Flip Smit, bekende demograaf, wat aangetoon het dat Afrikaanse onderwys slegs 10,6% van die nasionale onderwyssektor uitmaak, maar dat hierdie klein sektor 31,9% gelewer het van die totale aantal leerlinge wat wiskunde in 2016 met onderskeiding geslaag het.

Lesufi moet ook seker maak van sy ongenuanseerde stelling dat daar nie meer Afrikaanse universiteite bestaan nie. Die Afrikaanse tersiêre sektor is nie dood nie. Die inisiatiewe rondom die stigting van private Afrikaanse tersiêre instellings, byvoorbeeld, ‘n geakkrediteerde instelling soos Akademia, neem die plek in van die huidige bedeling waarin die tradisionele universiteite ‘n kniebuiging vir Engels as onderrig- en wetenskapstaal gemaak het.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Andreas ·

Nou is my vraag Dr Prinsloo, kan julle, die ATR en alle ander instansies wat nie nét Afrikaans nie, maar moedertaal goedgesind is, nie saamstaan en plan beraam om hierdie man in die hof te pak nie. Die saak kan nie jaar na jaar so aangaan nie, erns moet iets tot ‘n punt kom. Die ander opsie sou wees dat julle met die minister gaan gesels, maar dit lyk my dié staan uit die water uit.

Trojaanse Donkie ·

QAndreas, van watter hof praat jy? Zuma se saak gaan al 13jaar aan.
Die prosedure wat hier gevolg word klink soos hulle in engels verwys na “reverse engineering” met ander woorde jy begin by die sg. aanvaarde uitspraak (x jare later)en dan werk jy terug na die oorspronklike klagte.

Keelvol ·

Mnr Lesufi is soos ‘n grammafoonplaat wat vasgehak het op “Afrikaans”.
Los ons skole en universiteite. Dit is koloniale instellings en dalk net met Afrikaanse geld gebou.
Het nog niks bereik nie en wil al die mislukkings op Afrikaans sit.
Moet daar nou weer met Afrikaanse geld nuwe plekke gebou word sodat hulle weer daaroor kan bly kerm en netnou netnou nie die kwalifikasies in SA wil erken nie.
Is nou heeltemal keelvol vir die houding.
Die paar % wat Afrikaans besig kan mos nie ‘n bedreiging inhou nie.
Ek is ook nie kortsigtig nie en weet my kind moet Engels magtig wees anders gaan hulle op Universiteit sukkel want alle handboeke is nie in Afrikaans beskikbaar nie.
Magtig man as ek 6 jaar oud is en hulle verduidelik vir my iets in my eie taal verstaan ek dit mos baie beter as wat ek skielik na vreemde klanke moet luister.

JG ·

Engels is beslis nie hierdie skepsel se moedertaal nie…ek wonder egter of hy wel weet wie is sy moeder…

JohanL ·

Ek lees in ‘n boek wat ek onlangs gelees het, dat die ANC slegs Engels as amptelike taal voorgestel het tydens Codesa, maar uiteindelik toegegee het aan die opsie van 11 amptelike tale. Dit laat my wonder wat Ramaphosa (en die ANC) se standpunt tans (na 25 jaar) regtig is. Ramaphosa se stilte en gebrek aan optrede teen Lesufi is kommerwekkend.

Alles, alles ek herhaal alles wat Lesufi kwytraak is teen internasionale aanvaarde navorsing waar moedertaalonderrig as die beste voorgehou word. Let wel, moedertaal onderrig – ek sonder nie Afrikaans uit nie. Maar Lesufi wil die raskaart speel en haak vas soos ‘n grammafoonplaat oor die kwessie van “Afrikaans wat sekere mense uitsluit”.

Natuurlik sal ENIGE taal bepaalde mense “uitsluit” wat nie die taal kan praat nie. Net so sluit alle Engelse skole en universiteite ‘n persoon uit wat nie Engels kan praat nie. Lesufi moet regtig vir ‘n slag gaan kyk wat in ‘n land soos Switserland aangaan waar mense verskillende taalopsies het en mekaar respekteer.

Die sleutelkwessies vir my is respek vir mekaar se taal en ‘n erns onder elke taalgroep om sy taal te bevorder. Ongelukkig ontbreek daardie wil om sekere swart tale te bevorder onder die regering en die sprekers van sulke tale. Vir 25 jaar het vele swart tale niks ontwikkel nie en Lesufi wil Afrikaans nou straf daarvoor.

Dit is tyd dat Ramaphosa iets doen en aan ons wys wat sy standpunt is. Sy stilte is kommerwekkend.

Sandy ·

Lesufi is so gekant teen Afrikaans, en dit het ek agtergekom nie net oor sy uitlatings wat onderwys en afrikaans aanbetref nie, maar ook met die hele debakel waarin hy vir die selfoonreus MTN aangespoor het om van Afrikaans is groot te onttrek omdat Steve daarin gaan optree. Ek se dit weer, skoenmaker hou jou by jou leus.

Boerboel ·

Lesufi het geen benul waarvan by praat nie. My jongste is in n Afrikaanse skool. Daar is swart en Bruin kinders in die skool. Hulle will graag daar wees want hulle ouers weet dat hulle baie goeie onderig kry net in Afrikaans en dit kom uit die monde van die Swart en bruin ouers. Daardie kinders will nie in Engels onderig word nie. Almal vaar ook uitstekend in die skool en daar is geen rasse konflik nie.

Pim ·

Ek stem saam met jou Boerboel. Ek het endag met ‘n ‘Business Manager’ by FNB gepraat. Sy weier om haar kinders in Engelse skole in Pretoria Oos te sit, sy se daar is geen disipline nieen die onderrig is swak. Haar kinders is in Afrikaanse skole.

humor ·

JG ek dink hy weet wie sy moeder is maar met vadersdag kan daar verwarring wees.

Leon ·

Lesufi se aanvalle is eenvoudig om te verklaar: Dien as perfekte afleier van sy onvermoe om die oorweldigende patetiese swart skole suksesvol te bestuur. Wanneer sal die massas se oe oop gaan.

Jaap ·

Hulle sal als doen om Afrikaaners te vernietig.
Daai Lesufi weet nie of dit Maandag of Vrydag is nie.
Almal gee net om vir sy eie vet tjek en de hel met die res.
Cheers SA en Afrikaans.
Gaan en sal nooit weer beter raak nie.

lewies ·

As onderwys en opleiding nie volgens ‘n duidelike onderhandelde en ooreengekome opvoekundige beginsels of filosofiee plaasvind nie, is die einbestemming van die onderwys in SA gedoem.
Keer terug na die drie grondbeginsels in onderwys of verhoudingstrukture wat altyd in onderwys en opleiding bekendgestaan het as GESAG, VERTROUE en KEN.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.