Lesersbrief: NGV vanuit ʼn optometris se oogpunt

Janine Naudé skryf:

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Ek sit vandag vir die hoeveelste keer met my hande in my hare en hart in my skoene, omdat ek met nóg een van my pasiënte moet meedeel dat ek nie verder kan help met hulle oogprobleem nie.

Ek is net ʼn optometris en hulle het ʼn oogspesialis nodig, maar waarheen kan ek die lae-inkomste, SASSA-afhanklike stuur? Ons bly in die mooie, maar koue Oos-Vrystaat waar ons vir die afgelope sewe maande geen dienste van ʼn oogspesialis by ʼn staatshospitaal of kliniek in ons nabye omgewing kan geniet nie.

Ek het al te doen gehad met gevorderde katarakte, keratokonus en gloukoom net in die afgelope paar maande, maar skarrel om hulp in die publieke sektor vir hierdie pasiënte te kry. Die katarak-verwyderingslys by Bloemfontein se Nasionale Hospitaal is bitter lank en indien ek iemand daarheen wil verwys is die wagtydperk vir slegs ʼn konsultasie meer as ʼn jaar lank.

Dan hoop ons ook dat op die dag van die afspraak, die pasiënte nie weggewys sal word nie, as gevolg van die elle lange lys van beperkings wat huidiglik ons publieke gesondheidsektor pootjie. Ons het fantastiese privaat oogspesialiste in die omgewing, waarvan sommiges ook al aangebied het om hulle dienste te verskaf aan en by die staatshospitaal, maar hul loop om elke hoek en draai in een of ander interne politiese deur vas.

Die doel van my brief is nie om blaam voor enigeen se deur te lê nie, maar om eenvoudig te vra: Is hierdie die toekoms wat vir elke Suid-Afrikaanse burger voorlê indien die NGV totaal goedgekeur word?

In beginsel, is dit ook my wens dat elke mens toegang tot die beste mediese sorg teen ʼn bekostigbare prys kan geniet, maar is die droom van die huidige voorgestelde NGV ten koste van ander landsburgers? Is dit nie elke landsburger se reg om te kies waar, wanneer en hoe hulle gesondheidsorg wil geniet nie?

Is dit dan so verregaande om die politici en regering te smeek om eerder daarna te streef om te verseker dat die belastingbetaler se geld reg aangewend word, sodat almal voordeel daaruit kan trek? Ek is nie een vir negatief wees nie en probeer altyd die positiewe in elke situasie vind.

My bekommernis is wel dat op hierdie stadium die publieke gesondheidsektor se infrastruktuur, hulpbronne en personeel alreeds onder ongelooflike druk is en ek nie seker is dat die vooruitsig van NGV enigsins die probleme wat nou op grondvlak is, sal kan aanspreek nie.

Daarom sal ek steeds ʼn prioriteit daarvan maak om my stem te laat tel by elke verkiesing. Ek sal aanhou om elke aand te bid vir al die lae inkomste-pasiënte wat net só graag weer wil sien. Ek sal aanhou om lief te wees vir my land (met al sy probleme ook) en ek sal aanhou streef daarna om te veg vir die wat ook hoë gehalte oogsorg verdien.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nettie ·

Dankie vir jou pragtige brief en omgee-hart. Mens kan net wens om so ‘n optometris te hê. Dis goed om opinies vanuit hierdie agtergrond ook te lees. Sterkte, ek is seker daarvan jou pasiente waardeur jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.