Lesersbrief: ’n Halfgeëte pastei en ’n perspektief op honger

Carli Labuschagne (Foto: Verskaf)

Carli Labuschagne van Zwavelpoort, Pretoria skryf:

Ons ry. Al deur die vlaktes van Mpumalanga heen, middagete by ʼn oulike padstal is so kort duskant ʼn uur weg. My kinders begin kerm dat hul mae pyn.

“Julle het dan iets geëet net voor ons by die huis weg is! Hou so bietjie uit,” protesteer ek.

Naderhand bêre hulle alles weg waarmee hulle besig is, totaal verteer deur die honger: “Mamma, ons kan niks doen tot ons nie geëet het nie. Ons gaan sterf.”

Ons begin gesels. Oor hoe ons nie honger ken nie. Ek gaan haal my vriendin Alida, wat skooltjies in plakkerskampe bou sodat die kindertjies eerstens kan kos kry, se woorde: “Ons kan ons op geen manier honger indink nie. Ons het geen verwysingsraamwerk van hoe arm mense kan wees nie.”

Ons spot soms in ons huis, wanneer iemand kwaad is: “Jy is nie dalk net honger nie?” Of hangry: Jy is kwaad, maar eintlik is jy net honger. En dan eet ons maar net iets, wat altyd binne ons bereik is. En dan voel ons sommer dadelik beter.

Ons ry verby die Berg-en-Dal Monument buite Belfast.

“Mamma, watse plek is dit dié?” vra my dogtertjie.

Ek google gou en probeer dan die Anglo-Boereoorlog op kindervlak verduidelik.

Dan sê my man: “En toe die Engelse begin sien dat die Boere die oorhand kry, het hulle die ongeskrewe reël van oorlog verbreek. Hulle het die vrouens en kinders geteiken. Hulle het na die plase gegaan, die vrouens en kinders gevange geneem en in konsentrasiekampe gesit en die plase afgebrand. So het hulle die hart van die Boere swakker gemaak, en so het die Engelse die oorlog gewen.”

Ons stop by einste padstal, kry pasteie en warm koffie. Terug in die kar. My seuntjie verslind sy kos soos net ʼn negejarige kan. My dogtertjie begin haar pastei eet en sit dit voor haar op ʼn servet neer.

“Pappa, wat is konstrasiekampe?”

“Konséntrasiekampe,” sê hy laggend. “Dis plekke waar baie tente opgeslaan is en waarheen die Engelse die vrouens en kinders van die Boere gevat het. Dit was hul nuwe huise. Hulle het baie siek geword daar, baie het doodgegaan as gevolg van honger en siekte en mishandeling, baie het verkluim. Hulle het nie gesonde kos daar gekry nie.”

“Is daar foto’s van die oorlog?” vra my seuntjie.

Ek soek foto’s. Wys vir hulle die foto van die eerste skip vol soldate wat Suid-Afrika toe gestuur is vir die oorlog. Daarna ʼn foto van ʼn perd wat in ʼn harnas van die skip gelig word. Baie snaaks. Toe foto’s van ʼn paar Boerekommando’s – my seuntjie is verwonderd oor al die gewere oor hul skouers. Hier is ʼn foto van Boere wat agter ʼn wal lê met hul gewere gelaai. Daar ʼn foto van ʼn plaasopstal wat afbrand. Toe foto’s van die wit tente in eindelose rye – plekke wat van die mees gruwelike gebeure in ons geskiedenis bevat.

(Foto: Verskaf)

“Mamma, hoe het die kinders gelyk?” vra my dogtertjie.

En toe, ʼn foto van ʼn seuntjie in ʼn tent, vel en been, magie heeltemal buite proporsie van die kwasjiorkor. Die onderskrif lees: “Haunting image from the Second Boer War.”

Hulle kyk na die foto. Neem in. En ek weet dat sommige dinge gesien moet word om begryp te word.

Hulle kyk na my. Hul ogies verlep.

“Mamma ek wil eerder nie meer sien nie. Dis net, dis net… verskriklik.” sê my dogtertjie.

Albei kinders staar by die venster uit en dink aan dinge wat eens was en wat hulle heel moontlik nooit sal begryp nie.

“Mamma, ek is nie meer honger nie,” sê my dogtertjie stilweg en toe rol die trane oor haar wange.

Die pastei voor haar op die servet bly half geëet.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Dries ·

Ja-nee die boere nasie was deur hulle hele bestaan onderdruk. Nou gaan ons kinders dit ook deur onder die ANC

Aikie ·

Ek het ‘n hekel daarin om kos te mors en probeer die gedagte al lank by my kleinkinders oordra. Die artikel het my hart gevang met die hartseer van jou kinders, want die Oorlog was’ n baie slegte tyd in ons Boere se lewens. Ek hoop my kleinkinders kom tot die besef dat daar buite verskriklik baie mense honger ly.

ABDP ·

Dankie vir die deel. Ons eie geskiedenis bring soveel lesse navore in die daaglike lewe. Dit goed om aan die hand van ons eie geskiedenis dit te verduidelik. Wonderlik.

Kirst ·

Baie mooi geskryf, ek het nou sommer saam met jou dogtertjie ‘n traan gepik. Jy raak ook aan ‘n ander baie belangrike punt; hoeveel van ons “middelklas” mense besef werklik hoe swaar die meerderheid van die land se burgers kry? En hoeveel van ons is werklik dankbaar vir die oorvloed seeninge wat ons elke dag ontvang, sonder om dit te verdien? Dis maklik om te dink dat ons hard werk daarvoor, maar dan dink ons in aardse terme. Alles behoort aan God en alles is ‘n genade geskenk van Hom af.
Een dag baie jare gelede wag ons by ‘n rooi verkeerslig by die Mooirivier Mall in Potch. ‘n Wit boemelaar in verslete klere bedel by die verkeerslig. Iemand so drie karre voor ons gee vir hom ‘n pakkie met kos in. Hy stap toe na sy besittings op die verkeerseiland waarop die verkeerslig staan, gaan sit, haal sy hoed af, buig sy hoof om te bid en begin eet. As daardie man in sy omstandighede God kan bedank vir ‘n aalmoes, hoeveel te meer moet ons dankbaar wees?

Jaco ·

Die tye kom weer: onthou die begin van inperking? Toe daar allerhande reëls oor kospakkies was wat basies daarop gemik was om te keer dat arm wit mense kospakkies kry. Die polisie het tot sommige sentrums en organisasies wat kospakkies vir wit mense gee, dopgehou om te keer dat die kos uitgedeel word. Ek weet dis nou nie meer so nie, maar die anti-wit ANC-regering is nog steeds anti-wit. Enige van hulle drakoniese goed teen wit mense kan dus maklik terugkom….

Karlahari ·

Daar was geen waarheids en versoenings kommissie nie.
Geen voete gewas nie en tot vandag toe nog geen publieke “We are so sorry” van die koningshuis nie.
Maar die boere het Queenstown se naam so gelos.
Want dit was deel van ons geskiedenis.

koos ·

Ek is ten gunste van naamsveranderinge a.g.v. die wanbestuur van die huidige onbeholpe dom regime. Dis beter dat die rou riool eerder in Mandela Drive afloop as wat dit byvoorbeeld in Paul Krugerstraat afloop. So eer ‘n nasie sy leiers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.