Lesersbrief: Toiletpapier-histerie: Weet hulle iets wat ons nie weet nie?

Rita Wessels (66) van Boshof skryf:

Rita Wessels

Vanoggend besef ek ek moet gou my nuwe voorskrif vir my nuwe bloeddrukpille gaan haal en op die ingewing van die oomblik spring ek in die kar – Kimberley toe.

Soos altyd, is ek daar toe Checkers se deure oopmaak. Dis altyd 08:00 soggens nog rustig en stil. Maar aikona, nie vandag nie. So ervaar ek toe eerstehands die massahisterie van mense wat koop asof daar môre niks meer gaan wees om te koop nie. En ja, soos almal nou aangaan, sal die winkelrakke waarskynlik môre leeg wees.

Dis ‘n gemaal en samedromming (wonder wat het geword van nie meer as 100 mense op een plek nie?). Jy word sommer met die trollie uit die pad gestamp want die antie wil AL die suiker op die rak hê, die oom laai toiletpapier in sy trollie dat hy soos Mount Everest lyk. Korona laat jou hoes, oom, deur jou mond, nie deur jou exhaust nie – weet jy dit? Hoekom het almal so ‘n ding oor toiletpapier? Weet hulle iets wat ek nie weet nie?

Toe staan ek laaaaaank in ‘n ry om te betaal, en ek is regtig nie goed daarmee om in rye te wag nie, so kort voor lank raak ek geïrriteerd. Die ge-make-upte antie agter my in die ry het my skamel gelaaide trollie op en af bekyk. Seker gedink: “Ag shame. Sy is seker baie arm en kan nie bekostig om meer te koop nie.” Maar antie, ek wil net vir jou sê as jy nie al die bokse melk gevat het nie, kon ek dalk ook gekry het en was my trollie effe voller. Ek wil maar ses boksies hê en kon nie kry nie. Jou trollie staan boep van die bokse melk. En jou man agter jou met al sy pakke toiletpapier laat my nou beter verstaan hoekom hy so baie koop – julle gaan die groot sk*t kry van al daardie melk! En ek verlekker my in hoe swaar party mense gaan dra aan al daardie blikkies kos wat hulle koop!

foto: Pixabay

Betaal en uit die gemaal is ek Dis-Chem toe. Nog erger! Almal soek maskers (een oom beduie in baie duidelike Afrikaans hoe hy vir Dis-Chem gaan dagvaar as hy siek word, want Dis-Chem sorg nie dat hulle genoeg voorraad het vir die aanvraag nie). En ‘hand sanitisers’ – man, was tog net jou hande met seep en water, of as dit jou regtig kwel, hou ‘n ou kommetjie water met Jik daarin byderhand en was jou hande daarin. En omdat daar nie maskers is nie, gryp almal nou weer bokse latex-handskoene. Een van die dae maak die kinders waterbomme met al daai handskoene! Maar skande op skande.

Skielik raak ek ook effe paniekerig. Sê nou daar kom ‘n algehele shut down en ek kan nie my bloeddrukpille kry nie? Dan kry ek nog ‘n beroerte ook saam met die koronagriep. Toe vra ek sommer drie maande se pille, net vir die wis en die onwis. Toe ek in my kar sit, kry ek skaam vir my kortstondige paniek maar troos my daaraan dat ek darem vir die volgende drie maande nie my voete in Kimberley hoef te sit nie. My bloeddruk gaan oukei wees en wat ek verder nodig het, koop ek sommer by die uitlanders hier om die hoek. Ek glo hulle sal selfs genoeg toiletpapier hê, al sou dit dan ook enkellaag wees!

Ons moet nou almal positief wees, die son (kos/kruideniers) oor ander ook sien skyn, onsself oppas en verantwoordelik optree. Korona het gekom en hy sal ook gaan. Ons het mos darem in 1994 al geleer hoe maklik dit is om die bobbejaan agter die berg te gaan haal. En daai bobbejaan vrek gewoonlik voor jy hom by jou huis het, en dan sit jy met ‘n wa-vrag blikkieskos, bokse vol maskers en ‘n helse stapel toiletpapier!

Mooi paniekvrye dag vir al my vriende en vriendinne!

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

charmaine ·

Rita, hoe lekker lag ek vir jou berig. En ek stem 100% saam met jou wat se mallegheid is dit. Gelukkig het so 2 weke terug gaan kruideniers gekoop en n groot pak toilet papier ook by die uitlander. Ons gelukkig om hulle om die hoek te he. Ek is ook nie n baie aangename mens vir n ry nie so my bloeddruk sal dit ook nie maak nie. En wat ek nie kry nie bly ek sonder dit. Mense is meer bang vir die paniek as die virus self.

Rose ·

Wonder ons almal! As die toiletpapier opraak, kan hulle hand sanitizer gebruik, dan is dit sommer twee vliee met een klap, miskien begin die mensdom dan n nuwe gier.

Vriendelike Frikkie ·

Dis die paniek wat ons gaan doodmaak. Bitter min mense weet egter waaroor die toiletpapier histerie gaan. Daar was lande wat AL hul papier van China af ingevoer het. Dis hulle wat die paniekkopery begin. Hier in SA maak ons omtrent al ons papier self. Dis die probleem met paniek. Niemand stop en vra “Hoekom?” nie. Ons koop want ander doen.

Adam Adriaan ·

Ek sal bly wees as iemand vir my kan verduidelik wat toilet papier met die COVID -19 virus te doen het?
Lyk my almal dink die ding gaan maagwerkings veroorsaak.

Stel voor dat diegene wat so baie toiletpapier koop liewers hulle saak met Liewe jesus reg kry, want dink net hoeveel maagwerkings sal daar nie wees vir diegene wat gaan agterbly, nie.

Patch ·

Ek verstaan ook nie maar een ding weet ek… daar sal genoeg toiletpapier wees vir die wat gaan agterbly ☺

Johan Venter ·

Dankie, ek het dit baie geniet. Ons het self vanoggend hier in Die Laeveld gaan inkopies doen, die normale. Ek was baie nuuskierig, maar sien die plek lewe, karre soos normaal, die winkelsentrum is nog op dieselfde plek, ook die Spar, al die ander winkels en die Apteek. Binne die Spar is als normaal, almal gaan aan met hul besigheid soos week of twee gelede. Rakke vol soos ons gewoond is, groente Sparvars, self aan die toiletpapier sal mens nie sê dat die land ‘n krisis belewe nie.

Die Apteek was die kalmte self, al verskil met die verlede was dat daar ‘n dame by die ingang gestaan het en die klante wat van buite af kom se hande met ‘n vloeistof spuit.

Mens het nie eens snaaks opgekyk nie, so normaal was dit.

Jaco ·

Lol!! Rita jy het my nou lekker laat lag! Jy is n dame met n baie skerp sin vir humor :)

katerinadiekat ·

Briljante artikel Rita:-))))! Jy moet n lekker mens wees om mee saam te kuier. Ek lief mense met so n sin vir humor.

Antoinette ·

Baie dankie Rita het nou lekker giggle by my self.
Dit is erg as jy sien die trollies wat so vol is vernaam met toiletpapier, dalk is hul van plan om erge diarree te kry of erg snotsiekte. En aan die einde sit hulle met al daardie toiletpapier en erge shopping wat hul gedoen het. Hoop hulle gaan dit uitdeel na die tyd anders het hulle vir die volgende paar jaar genoeg papier ens.

Johan ·

My Vrydag is sommer gemaak met die storie, lekker gelag. Dankie vir Rita en Maroela vir die plasing

Marthinus Johannes ·

Op n ligter noot Vir al daai mense wat nie T papier in die hande kan kry nie, maak soos jul oupagrooitjie gemaak het toe die toilette nog kleinhuisies of uithuisies genoem was en buite gestaan het. Skeur n koerant in groot genoeg blokke, sit hulle op mekaar en frommel dit n paar keer sodat dit sag kan word, en SIEDAAR goedkoop en sommer baie T papier.

Cherokee ·

Die bobbejaan ‘agter die bult’ van 1994 het toe nie gevrek nie, maar floreer, Rita.

Marlize ·

Hierdie massa histerie verstaan ek ook nie veral met die toiletpapier. Ons gaan so normaal as moontlik aan was net meer gereeld ons hande en by die werk word ons gespuit met sanitiser en weet nie wat als nie. Daar is seker nog mense wat blikkieskos van 1994 en van 2000 nog oor het wat gedink het met die draai van die eeu gaan alles vergaan. Oor ‘n paar maande sit almal met ‘n muis of rotte plaag wat die toiletpapier gebruik om nes te maak. Al aanpassing wat ons nou gemaak het ons vermy uitgaan plekke en as ons moet dorp toe gaan ons vroeg. Wat nog nie gebeur het van die virus uitgebreek het nie. Verder gaan ons normaal aan.

Danie ·

Ek het al die bydraes gelees en wil ook graag ‘n kort ietsie sê: Ek is ‘n baie positiewe soort van mens. Ek dank die Liewe Here dat hy my so aanmekaar geskroef het. Nou wonder ek so by my sigselwers of die gedoente regtig so erg is of is ons mensies besig met massahistrie. Kom ek wees eerlik as ek sê dat as ek dit moet kry en ek kom te sterwe, dan gaan ek “”huistoe” en wat se winskoop sal dit nie wees nie. Gee virusse en korrupsie nie – net liefde in oormaat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.