Lesersbrief: Wie is die eienaars van dié pensioenfonds?

pensioenfondse

Foto: Westerninvestor.com

Hercules van Centurion skryf:

In die staatsrede van 2020 het die president verwys na die samesprekings (met die regering, sakelui, vakbonde, raadgewers en dies meer) oor die verwagte pad van die ekonomie. Hy het gesê dat die finansies van die staat beroerd is en dat die briek ten opsigte van uitgawes aangedraai moet word. Daar is egter ’n berg van uitgawes wat op een of ander wyse gefinansier moet word.

Een van daardie “wyses” is om die pensioenfonds vir staatsamptenare (PFSA, oftewel GEPF) se leë beursie nog verder leeg te maak. Ten spyte van die president se opmerking dat die pensioenarisse nie bekommerd hoef te wees oor hul pensioene nie, moet hulle met reg redelik beswaard wees.

Tydens bogenoemde samesprekings het Cosatu, asof hy die eienaar van die PFSA is, voorgestel dat die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) en dus die PFSA, amper die helfte van Eskom se skuldlas moet delg – wat ’n enorme hulppakket! Dit is waarskynlik ernstig (?) gedebatteer en ook nogal goed ontvang, want selfs die minister van openbare ondernemings “dink dit is ’n goeie plan”

Die staat sal pa staan vir dié “lening”, want hy het as minister van finansies gesê niemand hoef slapelose nagte oor die pensioene te hê nie, die staat sal betaal. Ek wonder waarmee.

Die vraag is: wie is eintlik die eienaar(-s) van die Pensioenfonds – die pensionarisse of die vakbonde? Laasgenoemde sal vinnig op hul perdjie spring en staak en toi-toi as hulle nie geraadpleeg word nie – soos tans die geval met die SAL se sakereddingspogings en moontlikheid dat werkers afgelê kan word. Cosatu het ook, as deel van genoemde hulppakket, geen afleggings as voorwaarde gestel nie.

Ongelukkig is die honderdduisende pensioenarisse oor die hele land versprei en het nie die geld om byeen te kom nie, want anders kon ons (die pensionarisse) voor die kantoor van die uitvoerende hoof van die PFSA gaan plak het totdat daar op ons pleidooie ag geslaan is.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

David ·

Daar is mootlik ‘n misverstand in hierdie artikel.
Die OBK (‘n staatsinstansie) het twee rolle:
a. Die bedryf van referingsprogramme met belastingsfondse
b. Belegging van die GEPF lede se fondse teen einde die beste voordeel van fondslede
Die GEPF is onafhanklk van die OBK
Die Raad van Trustees (RvT) is verantwoordelik en aanspreeklik om te verseker dat GEPF lede se fondse teen einde die beste voordeel van fondslede, belê word.
Die OBK is een instansie wat GEPF se beleggings behartig.
Nou die vraag oor die eienaarskap van die GEPF fonds – dit behoort aan die lede alleen.
Ongelukkig word unies toegelaat om namens lede te praat.
Sekere unies blyk om kop in mus met die ANC regime se korrupsie te wees.
Die samestelling van die GEPF RvT is ‘n onding en moet verander word!

FM ·

Daar is geen manier dat die pensionarisse se geld skielik ook bankrot staatsgeld word nie. Ek is dankbaar dat ek nie een van daardie pensionarisse is nie, nogtans is hulle belang vir my belangrik

Leon ·

Iewers in die wet is ‘n klosule wat sê dat die maatskappy mag die werkers se pensioenfonds gebruik om skielike finasiële probleme op te los. Die staat is die maatskappy en die staatsamptenare die werkers. Ongelukkig is die wet aan die Staat se kant en kan hulle doen wat hulle wil. Daar is baie mense wie se maatskappy hulle pensioengeld gebruik het en hulle sit sonder pensioen en die maatskappy het toegemaak.

Fluisterwind ·

Ek hou van die woorde “…skielike finasiële probleme…” want ESKOM en SAL is duidelik nie ‘n skielike probleme nie, WAT sê die WET NOU?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.