30 jaar later: regering faal, gemeenskapsfeer floreer

ANC en Nelson Mandela-ondersteuners neem deel aan ‘n massaverkiesingsveldtog in Mahwelereng buite Potgietersrus voor die algemene verkiesing van 27 April 1994. (Foto: WALTER DHLADHLA / AFP)

Noudat presies dertig jaar verloop het sedert die nuwe politieke bedeling tot stand gekom het, is dit gepas om ʼn eerlike bestekopname te doen van die stand van die huidige bedeling, en nog belangriker, om te kyk na alternatiewe oplossings.

Elkeen van ons kan sien dat die staat besig is om op vele terreine te misluk. Hierdie mislukkings raak ons selfs in ons eie huise, gegewe die water-, elektrisiteit- en misdaadkrisis. Dit is nou duideliker as ooit dat Suid-Afrika se Grondwet en bedeling, wat deur sommige as ʼn wonderwerk en die beste in die wêreld beskryf is, nie die positiewe uitkomste gelewer het waarop baie gehoop het nie. Om die waarheid te sê, behalwe vir die politieke elite, pluk die meeste van ons nou die wrang vrugte van die huidige sentralistiese bedeling.

Die oorsaak van die mislukking van die staat is na my mening tweeledig, nl. ʼn regeringsprobleem en ʼn bedelingsprobleem.

Regeringsprobleem

Die land se regering kan tans ten beste beskryf word as ʼn kakistokrasie en kleptokrasie. Dit beteken letterlik dat ons tans deur onderskeidelik die slegstes en diewe regeer word. Daarom moedig AfriForum sy lede aan om op 29 Mei vir die party van hulle keuse te gaan stem.

Ons besef wel ook deeglik dat al die land se probleme nie opgelos kan word deur net een of twee keer elke vyf jaar te stem nie. Ons is realisties daaroor dat selfs in die gevalle waar koalisieregerings verkies word, hulle steeds korrupte en onbekwame amptenare erf wat weens die ANC se kaderontplooiingsbeleid die staatsmasjienerie lamlê. Uiteraard bly enige verandering van die huidige regering ʼn verbetering.

Kiesers wag in ‘n tou om by ‘n stemlokaal geregistreer te word vir die 2024 algemene verkiesing. (Foto: RAJESH JANTILAL / AFP)

Bedelingsprobleem

ʼn Groter probleem as die regeringsprobleem waarmee ons sit, is dat ons ʼn diepliggende bedelingsprobleem het. Die laaste dertig jaar het gewys dat die sentralistiese bedeling, gegewe die uitgestrektheid van die land en die diversiteit van gemeenskappe, misluk. Die negatiewe effek van sentralisme word nog erger as onbekwame korruptes aan die stuur van sake staan.

Sentralisme misluk

Die mislukking van die sentralistiese bedeling is ook onafwendbaar weens die volgende faktore:

Die nasionale en provinsiale regerings is te ver verwyderd van plaaslike gemeenskappe. Suid-Afrika is te groot om sentraal bestuur te word. Dit word beklemtoon deur die feit dat die afstand tussen Kaapstad en Musina min of meer dieselfde is as wat Londen van Rome af is. Verskeie van Suid-Afrika se provinsies beslaan ook ʼn groter geografiese gebied as sommige lande in die wêreld en gevolglik is dit onmoontlik vir ʼn provinsiale regering om presies in voeling te wees met die behoeftes van elke plaaslike gemeenskap.

Kaapstad na Musina (Foto: Google Maps)

Londen na Rome (Foto: Google Maps)

ʼn Baie sterk sentralistiese provinsiale regering sal nadeliger vir plaaslike gemeenskappe wees as wat die sentralistiese nasionale regering is, veral indien die regering van ʼn provinsie onder die bestuur van ʼn korrupte en onbekwame regerende party val.

Plaaslike regerings is nie meer plaaslik nie. In 2000 het die nuwe munisipale bedeling plaaslike regerings tot stand gebring wat groot gebiede beslaan en verskeie dorpe in een regering en in een bestuurstruktuur saamgevoeg het. Dit is gedoen ten spyte daarvan dat dorpe se omstandighede en behoeftes kan verskil. In metrorade word plaaslike gemeenskappe wat geografies ver van mekaar verwyderd is deur mense bestuur wat nie direk in voeling met die spesifieke omstandighede van elke spesifieke gemeenskap is nie.

“Ons sal self”-federalisme 

AfriForum glo daarom die oplossing is dat weggedoen moet word met die sentralistiese bedeling en dat dit vervang moet word met ʼn federale bedeling, waar gemeenskappe die toekoms met genade van Bo in hul eie hande kan neem en self magte van onder af kan opeis. Sodoende kan die kundigheid, energie en gebondenheid wat in plaaslike gemeenskappe bestaan optimaal benut word tot voordeel van die gemeenskap self. Ons hoef nie die ANC se toestemming te vra om self in ons onderskeie gemeenskappe te begin om na ons gemeenskappe se veiligheid en welstand om te sien nie.

Gemeenskappe gryp self in

Te midde van die staatsverval, het die noodsaak in gemeenskappe om toe te sien dat hulle nie tot krotbuurte verval nie, die afgelope dekade reeds daartoe gelei dat al hoe meer gemeenskappe self begin ingryp het om hul omgewing te verbeter en hul veiligheid te verseker. Die werk van AfriForum se 165 plaaslike takke, 172 buurtwagte en 10 000 vrywilligers is ʼn toonbeeld hiervan.

De facto-vierde regeringsfeer

Die groeiende “Ons sal self”-ingesteldheid in gemeenskappe het die werklikheid geskep dat georganiseerde gemeenskapsinstellings soos AfriForum toenemend ʼn rol as de facto– vierde regeringsfeer begin speel het. Gemeenskapslede het beter begrip van hul eie gemeenskap se behoeftes en kan dus hulle gemeenskap beter dien as ʼn owerheid wat iewers in die verte gesetel is.

AfriForum se Groter Moot-buurtspan sit ook handjie by om die gemeenskap op te ruim. (Foto: AfriForum/Verskaf)

Die verdere vestiging van georganiseerde gemeenskappe as nie-amptelike vierde regeringsfeer gaan dus nie in die eerste plek deur die “amptelike” afwenteling van mag en die hou van verkiesings ontstaan nie, maar deur georganiseerde gemeenskappe wat op grondvlak praktiese selfdoenwerklikhede skep om gemeenskapsfederalisme van onder af op te bou. Gemeenskappe moet dus die reg vir hulself toeëien om hul gemeenskappe – sover prakties moontlik – self te bestuur.

AfriForum en ons susterorganisasies in die Solidariteit Beweging het reeds goed gevorder om op hierdie wyse ʼn de facto-bedelingsverandering teweeg te bring sonder om bakhand te wag vir enige aalmoese van die sentralistiese ANC-regering. Ons Beweging het met ʼn #OnsSalSelf-ingesteldheid reeds gehelp om nuwe werklikhede te skep. Dit is gedoen met die vestiging van talle volhoubare, sterk en selfstandige plaaslike en kultuurgemeenskapsinstellings soos Akademia, Sol-Tech, die Skoleondersteuningsentrum (SOS), Solidariteit Helpende Hand, Maroela Media, Solidariteit se beroepsnetwerke en die FAK se kultuurnetwerk.

Groeiende selfstandigheid

Dié proses kan op die volgende maniere versnel word:

Selfstandige gemeenskapsinstellings moet op grondvlak dringend hul uitvoerende vermoë verder uitbou om hul gemeenskappe op soveel moontlike terreine self te kan bestuur. Bestaande inisiatiewe van AfriForum se plaaslike strukture (insluitend vullisverwydering, herstel van paaie, herwinnings- en opruimingsinisiatiewe, brandweerdienste, watervoorsieningsnoodplanne, kragvoorsieningsplanne, die vermoë om rioolwerke te bestuur, en die vestiging en versterking van buurtwagte) is alles voorbeelde van gemeenskappe wat reeds de facto die rol as vierde regeringsfeer op hulself geneem het.

Kallie Kriel en Pretoria-burgemeester Cilliers Brink na die onlangse ooreenkoms tussen die partye. (Foto: AfriForum/Verskaf)

Georganiseerde gemeenskappe en gemeenskapsinstellings moet, waar moontlik, poog om samewerkingsooreenkomste met plaaslike regerings aan te gaan. Ooreenkomste van dié aard sal dit makliker maak om sonder teenstand self diensleweringsaksies te kan verrig en in sommige gevalle ʼn ondersteunende rol te speel om die plaaslike regerings te help om gemeenskappe te verbeter.

AfriForum se plaaslike strukture is tans besig met die finalisering van verskeie sulke ooreenkomste, terwyl AfriForum reeds so ʼn ooreenkoms met die Tshwane-metroraad gesluit het. Sodanige ooreenkomste is nie ʼn voorvereiste vir gemeenskappe om hul toekoms in hul eie hande te neem nie, maar kan dit wel vergemaklik.

AfriForum se plaaslike strukture moet georganiseerde gemeenskappe se rol as de facto– vierde regeringsfeer verder uitbou. Dit kan gedoen word deur in samewerking met ander gemeenskapsinstellings gemeenskapsforums tot stand te bring waarbinne die onderskeie gemeenskapsinstellings kan saamwerk. Dié samewerking kan gemeenskapsorganisasies se rol as de facto– vierde regeringsfeer as deel van die Solidariteit Beweging se ankergemeenskapstrategie versterk.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum. (Foto: AfriForum)

Ons sal self!

Die agteruitgang in die land van die afgelope 30 jaar maak baie mense moedeloos. Veral mense wat nog glo hulle toekoms hang van die regering af. Vir diegene wat ʼn kopskuif gemaak het weg van staatsafhanklikheid, en besluit om met genade van Bo saam met hulle gemeenskappe die hande aan die einde van hulle eie arms te gebruik om self ʼn toekoms te bou, bestaan daar nuwe hoop vir die toekoms. Kom ons bou self as gemeenskappe aan die toekoms wat ons vir ons kinders wil hê. #OnsSalSelf

  • Hou Maroela Media gedurende Aprilmaand dop vir meer artikels oor Suid-Afrika 30 jaar sedert bedelingsverandering. Waarom het dit wat in 1994 in die vooruitsig gestel is nié gerealiseer vir die man op die straat nie? Hoe beoordeel ʼn mens ʼn steierende bedeling in dit wat beloof om ʼn waterskeidingsverkiesingsjaar te wees? Wat maak ʼn mens met die gewig van ʼn mislukkende regering en bedeling terwyl die werklikheid onverpoosd voortstoom? Hoe stel jy ʼn beter toekoms in die vooruitsig sonder om terug te gryp na die verlede?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wicus ·

Ek dink die kiesers wat teen die ANC stem ontmoedig sal word om ooit weer te stem as die ANC en meelopers met hierdie verkiesing nie onder 50% gedwing word nie.

Behoede ons!

Republikein in die Wes Kaap ·

Wicus, die EFF sal seker maak die ANC bly in beheer. Malema word adjunk president met Floyd as minister van finansies. Niehaus word dalk ook ‘n minister.

Republikein in die Wes Kaap ·

Afriforum se planne is indrukwekkend en prysenswaardig, maar ongelukkig onvolhoubaar oor die langtermyn. Hul lede en borge sal die sak toenemend dieper moet skud. Én nog steeds belastings betaal vir dienste wat nie deur die owerheid gelewer word nie. Met emigrasie wat toeneem sal ‘n kleinwordende groepie burgers wat bars om werk te kry harder moet werk en betaal om die wiele te laat rol, terwyl die meerdeheid toenemend op hul rûe ry. Dis ‘n beter opsie om landswyd nog hordes Oranias en kleiner sateliete soos Kleinfontein te stig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.