ANC het nog nooit getransformeer

Ondersteuners het Saterdagoggend in groot getalle gestroom na die Moses Mabhida-stadion waar die ANC se verkiesingsmanifes bekendgestel word. Foto: Twitter via @MYANC

Die ANC het pas sy stigting – 8 Januarie 1912 – gevier. Een van die dae vier die party sy eerste kwarteeu aan die bewind. Dis ’n goeie tyd vir ’n bestekopname.

Dat dit nie goed met die ANC gaan nie, is ’n feit. Onder sy leiding is Suid-Afrika aan die uiteenval. Oral hoor of lees ’n mens van gruwelverhale oor gewelddadige misdaad, paaie wat plek-plek vol slaggate val, staatshospitale waar pasiënte selfs weens onderbemanning of onkunde sterf, skole waar die klasse hopeloos oorvol is en die kinders niks leer nie, ’n staatslugdiens wat miljarde opsuig, ’n staatsdiens wat oorwegend in onbekwaamheid uitblink – noem maar op.

Tot betreklik onlangs is die ANC bowendien gelei deur iemand wat hom soos die Mafia se Capo di tutti capa gedra, die skurk aan die bopunt van die misdaadpiramide. Onder sy voorgangers, presidente Nelson Mandela en Thabo Mbeki, het dinge al begin uitrafel, maar met Jacob Zuma se leiding is die regering bevolk deur ’n groep mense wat die staat beskou het as ’n dankbare objek vir persoonlike plundering.

Onder Zuma het Suid-Afrika stadig maar seker die rigting begin inslaan wat ’n mens noord van die Limpopo, in lande soos Zimbabwe en die DRK, sien. ’n Leë dop. ʼn Mislukte staat.

Ons is nog nie daar nie, godsydank. Gelukkig het die ANC – sy dit naelskraap – ontslae geraak van die ergste plunderaar en hom met Cyril Ramaphosa vervang, maar ook dié lyk nie in staat om die agteruitgang om te keer nie.

Op die pas afgelope ANC-viering in Inanda, so lees ’n mens in nuusberigte, was die grootste toejuiging vir Zuma. Dié vir Ramaphosa was “merkbaar meer gedemp”, luidens die berig in Rapport.

Te veel moet ’n mens dalk nie hierin lees nie. Kwazulu-Natal was nog altyd Zuma se hartland, waar hy sy grootste steun het. Ramaphosa is ’n Venda, en daardie soort etniese afkoms speel nog altyd ’n bepaalde rol onder die swartes.

Maar dit beteken ook dat Ramaphosa se beweegruimte taamlik beperk is. Sedert sy bewindsoorname het hy heelparty dinge gedoen wat ’n mens hoop gee, soos om korrupsie aan te pak, maar sommige van sy ander dade wys dat hy minstens gedeeltelik ’n gevangene van die radikale vleuel in die ANC is.

Die grootste bewys hiervan is die feit dat Ramaphosa wil voortgaan met die onteiening van grond sonder vergoeding. Hy het al so tussen die reëls laat blyk hy besef dis ’n rampspoedige rigting, maar hy voel blykbaar hy kan op die meeste die ergste skade probeer beperk.

’n Tweede bewys het juis in die pas gepubliseerde verkiesingsmanifes van die party uitgekom. Dit is dat die party die reg wil verkry om aan pensioenfondse se batebestuurders voor te skryf waar en hoe om die geld onder hul beheer te belê.

Die vrees is dat die staat die geld só na swart gate soos die sukkelende Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en Eskom kan kanaliseer. Nou ja, as dié ondernemings winsgewend is of geloofwaardige regruk-vooruitsigte het, sou dit nog nie so erg wees nie, maar – synde self ’n pensioentrekker – hou ’n mens jou hart vas.

Die kans is te groot dat my pensioengeld eenvoudig onregstreeks in die sakke van ’n vet ANC-kader kan beland.

Dis nie moeilik om strukturele foute in ons land en die regerende party uit te wys nie; hulle lê soos dubbeltjies oor ’n kaal veld besaai. Die vraag is waar dit vandaan kom.

Wel, die wortels van baie – dalk die meerderheid – van die probleme waarmee ons tans te make het, dateer terug na die dae toe die ANC in ballingskap was. Dís waar die probleme begin het.

Die ANC is in 1912 gestig as drukgroep wat sterk deur die Britse liberalisme beïnvloed was. Die bedoeling was om rassediskriminasie te beveg en swart waardigheid te herstel.

As Afrikaner kan ek my in beginsel hiermee vereenselwig.

Maar in 1928 het die Kremlin die Kommunistiese Party van Suid-Afrika die opdrag gegee om die ANC te infiltreer, die leiding oor te neem en terselfdertyd sy eie onafhanklikheid te bewaar. Met Kommuniste onder die leiding van die ANC moes laasgenoemde dan die wit heerskappy breek, waarna ’n tweede fase van die revolusie – die sosialistiese fase – naatloos sou kon geskied.

Dit was dieselfde strategie wat in ander wêrelddele ook gevolg is.

Dinge het hier bietjie anders verloop. Teen die jare tagtig het die kommuniste wel deeglik die leiding van die ANC oorgeneem, maar die Berlynse Muur het voor die wit regering geval.

Daarmee is die kommuniste se magspolitieke mat onder hul voete uitgepluk. Suid-Afrika het ’n “sagte” oorgang beleef na ’n voorbeeldige liberaal-demokratiese stelsel. In teorie.

Wat ons nie besef het nie, was dat die ANC nie deur die gebeure opeens tot ’n voorbeeldige party getransformeer is nie. Dis waar, die inhoudelike sosialistiese ideologie is grotendeels laat vaar, maar die totalitêre politieke kultuur, die strewe om sy hande op alle politieke magshefbome te kry, het nie verander nie.

Tegelykertyd het die swart nasionalistiese ideologie (wat al sedert die jare sestig van die vorige eeu verloor het) opnuut die oorhand begin kry. En dit het gepaard gegaan met die ordinêre grypsug en plundery wat ons deesdae elke dag sien.

In die proses het reg en orde daaronder gely. Die verklaring vir die skrikwekkende voorkoms van geweldsmisdaad is sekerlik ingewikkeld, maar bogenoemde is ’n belangrike deel daarvan.

Uiteindelik is dit die minderheidsgroepe wat vertrap word. En let wel, dit gaan nie nét oor die Afrikaners of wit mense nie; ook die bruin mense en Indiërs word minagtend eenkant toe geskuif.

In sulke tye is goeie organisasie nodig. Gelukkig is daar mense en bewegings wat opstaan om die leiding te neem.

Die breë Solidariteit-familie en Afriforum is waarskynlik die beste voorbeeld. Ek haal my hoed af vir Flip Buys, Kallie Kriel, Alana Bailey en ander wat probeer red wat te redde is.

Soms raak ’n mens maar moedeloos, veral as ons eie mense so onnodig en bitsig onder mekaar oor ondergeskikte sake baklei. Die beste is: Doen elke dag op jou eie terrein wat jou hand vind om te doen, handhaaf sover moontlik goeie betrekkinge met almal wat jou pad kruis, en moet nooit jou geloof versaak nie.

Maklik gesê. Maar dis tog die rigting.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

John ·

… ons lees ook dat Indiers tans in topposte dien en dus nie so uitgedruk word soos aandui nie. En dan is die land leeggetap deur ‘n paar Indiese broers wat juis deur ANC-hogeres ondersteun is. Die inhoudelike Sosialistiese idees is ook ook nog nie laat vaar nie. Lees gerus meer. Die groot gevaar wat die heelal bedreig, veral Nederland se skatkis, is natuurlik Rusland se Putin, en dit word wel deeglik deur CNN en Soros besef, wat weldra tot WO3 sal lei wat die EU/Navo mbv die tjoklits-koning in die Ukraine opgelos sal word vir nog ‘n paar waardevolle skatte in die kluise van Europa. Al hoop vir die wereld is dat migrante die VSA oorvat en daarna hul bote op Europa afvuur. Afrika sal ook help om die min geboortes in die weelderige Europa aan te vul. Hou net moed, regstelling is oppad.

Dirk Breytenbach ·

Hoekom hou die ANC elke jaar verjaarsdag? Organisasies kyk gewoonlik na 10 jaar /20/25/50/100/150/of 200 jaar. Die verjaarsdag houery elke jaar lyk vir my na ‘n gebrek aan iets meer positiefs om te vier.

Thinus Erasmus ·

Die ANC is ‘n dinosaurus, wat as ‘n groot lomp organisme wat eendag gaan uitsterf.
Verander, nooit?

kolla ·

Ek sal nie verbaas wees as die ANC beter vaar in die komende verkiesing as in die vorige verkiesing nie. Raar maar waar.

Charles ·

Baie dankie vir die realistiese, eerlike en opregte artikel, dit word baie waardeer.

Andre ·

Kyk maar net weer wat gebeur in Zimbabwe, die regerig is oor gevat met nuwe hoop en lof. Nou word petrol met 150% verhoog, die land is klaar in sy maai maar hulle sal die laaste bietjie geldtjies tap. Die selfde sal hier gebeur, dit is Afrika se mentaliteid.

Hulle gaan weer skree vir hulp van die westerse wereld en sodra dit geoffer word sal hulle dit weer in hulle sakke steek.

Die enigste hoop is China en ek hoop hulle stroom in hulle miljoene na Afrika, hulle soek grond en ons het baie. As Afrika dink die Britte was erg gaan hulle in wees vir `n slegte verrassing as die China eers hier is.

Jerry ·

Ja dit is so dat uit n anti revolusionere perspektief, het die ANC nie getransformeer nie en as staat misluk. Vanuit n revolusionere bevrydingsperspektief (sosialism in our life time) is presies die teenoorgestelde egter waar. Die ANC was uiters suksesvol met Zuma (staatskaping en fees must fall) aan die een kant en die EFF (grondgryp en fees must fall) aan die ander kant om die rand te laat val en die klimaat te skep vir verandering. Die ANC is sterk oppad met CR aan die stuur om die rand weer op te tel en NDR sosialistiese verandering te implementeer. Die massas sien en verstaan dat die ANC sy belofte om die rand te laat val ten einde die houvas van wit monopoliekapitaal op die ekonomie te breek, nagekom het. Die massas weet nou dat hulle vir die ANC moet stem sodat die ANC sy belofte gestand kan doen om die rand weer op te tel en sosialistiese verandering soos onder andere OSV te implementeer tot groot voordeel van die massas. Die ANC is dus in presies die regte posisie waar hy wil wees voor die verkiesing met die massas wat reg staan om hulle kruisies te trek vir die ANC. Dit lyk nie moontlik dat die ANC n twee derde meerderheid kan kry nie, maar die dag wat die ANC dit wel regkry, sal hulle volle politieke beheer en ekonomiese beheer verkry met die parlement en regbank wat afhanklik van ANC ideologie en beleid sal optree.

Paul ·

Geen wonder, soos nou met die Laeskool S-R se geval word Solidariteit en Afriforum verdag gemaak en word hulle vertel om hul neus uit die konflik te hou, ala Lesufi. Die ANC sien Solidariteit en vertakkings, ook sekere stigtings, as die groot struikelblok op hul weg na die verwesenliking van hul oogmerke en ideaal, daarom sal hulle als waarvoor hierdie instansies staan met hand en tand beveg, self al kry hul bloedneus in die hof.

Jerry ·

Paul jy is reg dat die ANC vir Solidariteit/AfriForum gesien het as n struikelblok, maar nou begin die ANC dit te benut as n geleentheid om met AfriForum se betrokkenheid wit en swart verder teen mekaar af te speel en sodoende regverdiging op te bou vir wanneer massa optredes teen Solidariteit/AfriForum geloods moet word. Solidariteit/AfriForum gaan uiters versigtig en met groter omsigtigheid hierdie sakies moet hanteer. Dit is een ding om die ANC bloedneus in die howe te gee, dit is egter n heeltemal ander ball game om dit buite die howe in die strate en op skoolterreine te doen. Cameron wat reken hy het n mandaat om met gemeenskapsbeveiliging wetstoepassing toe te pas gaan homself nog lelik vasloop teen wetstoepassers en teen oproeriges en dan selfs ook in die howe vir oortredings van die wet binne die raamwerke van die wet! As daar nie wetgewing vir vrywaring teen vervolging is vir optrede binne die raamwerk van die wet nie, dan het jy probleme elke keer wat jy optree, veral wanneer jy optree teen oproeriges wat met optrede buite die raamwerk van die wet, as gevolg van verskeie faktore, basies gevrywaar word teen vervolging.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.