Balans tussen vryheid en regte

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Dit gebeur nie dikwels dat ek met ’n standpunt van AfriForum verskil nie, maar vandag moet ek. Dit gaan om ’n uitspraak van Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, wat luidens berigte gesê het verpligte inenting teen die koronavirus sal op mense se regte inbreuk maak. Dit na aanleiding van die vinnige verspreiding van die Omikron-variant.

Hy het president Cyril Ramaphosa laat weet dat verpligte inenting “’n onregverdige skending van persoonlike vryhede” is en dat AfriForum dit dus teenstaan. Dít nadat Ramaphosa tevore aangekondig het ’n taakspan raadpleeg tans wyd oor dié moontlikheid.

Die debat in Suid-Afrika is grotendeels ’n weerspieëling van die debat wat in talle lande gevoer word. Helaas gaan die debat dikwels met enorme emosie gepaard en is dit moeilik om die temperatuur tot rasionele vlakke te laat daal.

Dit is dus die doel van my bydrae: Kom ons los die (begryplike) emosie, konsentreer op die feite wat bekend is, asook logika. Ons bekyk die saak eers prinsipieel-teoreties, en pas die insigte wat ons daaruit opdoen dan op die praktyk toe.

Die heel eerste vraag is: Mag ’n owerheid mense in beginsel verplig om sekere dinge te doen of hulle dit juis verbied? Die antwoord is duidelik já. Die owerheid mág my verplig om belasting te betaal, om ’n identiteitsdokument by sekere handelinge te toon, om in noodgevalle bevele van die polisie uit te voer, noem maar op. Terselfdertyd mág die owerheid my verbied om, behoudens sekere streng voorwaardes, ander mense dood te maak of aan te rand, ander se besittings te steel of te beskadig, hulle te bedrieg, spoedbeperkings op die paaie te oorskry, ensovoorts.

As ek dit wel oortree, mag – en moet – die owerheid my ’n gepaste straf gee. Dis die enigste manier waarop ’n ordelike, beskaafde gemeenskap kan optree; die alternatief is chaos en die reg van die sterkste.

In beginsel het Roets dus ongelyk as hy dit “’n onregverdige skending van persoonlike vryhede” noem. Die vraag is of daar uitsonderlike omstandighede is wat sy standpunt in dié spesifieke saak korrek maak.

Onthou, dit gaan hier oor die gesamentlike gesondheid van die gemeenskap. Niemand kan immers ontken dat die koronavirus ’n bedreiging vir die openbare gesondheid is nie.

Toe ek in die vroeë vyftigerjare ’n kind was, is ek teen allerlei siektes soos onder andere pokke en polio ingeënt. Die staat het ouers daartoe verplig, en as brawe burgers het my ouers nie eens daaraan gedínk om dit as ’n “onregverdige skending van persoonlike vryhede” te beskryf nie.

Lede van die SA Weermag wat sowel voor as ná die oorgang van 1990 operasioneel in gebiede ontplooi is waar aansteeklike siektes geheers het (byvoorbeeld die noorde van Suidwes en Angola), is verpligtend daarteen ingeënt. Niemand het daarteen geprotesteer nie; dit was immers in almal se belang.

Waar is die prinsipiële verskil tussen toe en nou? In al dié gevalle gaan dit immers om ’n owerheid wat burgers verplig (of wil verplig) om teen ’n siekte ingeënt te word.

Die antwoord is duidelik: As dit om ’n bedreiging van die openbare gesondheid gaan wat ernstig genoeg is, mág ’n owerheid in beginsel die bevolking verplig om voorkomend behandel te word.

Die vraag wat hieruit voortspruit, is: Is die bedreiging van die koronavirus in al sy variante groot genoeg om só ’n – onbetwiste – beperking van persoonlike vryhede te regverdig?

Al die lede van die Plat Aarde Vereniging (Flat Earth Society) gaan nou ongetwyfeld op my skree, maar die wetenskaplike konsensus is oorweldigend dat dit wel die geval is. Slegs enkele wetenskaplikes betwis dit; ’n baie klein minderheid.

Ek kan uiteraard nie op grond van my eie kennis kategories stel dat die koronavirus só aansteeklik is dat dit ’n ernstige bedreiging vir die openbare gesondheid is nie. Ek is geen viroloog of epidemioloog nie; ek is ʼn historikus.

As historikus het ek diepgaande navorsing oor byvoorbeeld die Anglo-Boereoorlog, die Grensoorlog en die ANC/SAKP in ballingskap gedoen en verskeie boeke en akademiese artikels daaroor gepubliseer. Die aard van die historiese wetenskap is nie sodanig dat ek kan sê ek het álle kennis daaroor in pag of dat my gevolgtrekkings áltyd 100% onbetwisbaar is nie, maar ek weet wel meer daaroor as – sê maar – die gemiddelde viroloog of epidemioloog.

Net soos ek dus nie van hulle verwag om my bevindings op grond van hul (met respek) onvoldoende kennis te bevraagteken nie, kan ek ook nie húl standpunte op grond van my hopeloos gebrekkige insigte betwyfel nie. As daar by hulle ’n oorweldigende konsensus is dat die koronapandemie ’n bedreiging vir die openbare gesondheid inhou, het ek geen reg om dit te ontken nie – en, met alle respek, dan het 99,9% van die lesers dit ook nie.

Tot dusver het owerhede elders in die wêreld meestal daarvan teruggedeins om inentings verpligtend te maak uit vrees dat dit die polarisering in die samelewing kan verskerp. Daar is steeds mense wat jou werklikwaar ontken dat die koronavirus bestaan, wat bewerings maak dat dit alles ’n sameswering van die farmaseutiese maatskappye is om wins te maak, en van die owerhede om hul mag te vergroot.

Die gekste voorbeeld was toe dr Ronny Jackson, gewese Withuis-geneesheer (en tans lid van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers), beweer het dat die Omikron-variant ’n manier van die Demokrate is om die kongresverkiesing van oor ’n jaar met bedrog te wen. Ja, regtig!

Ek het al deur skade en skande agtergekom dat dit nie regtig help om met samesweringsoortuigdes te probeer redeneer nie. Hulle het rég, ongeag wat die feite en logika sê, en álmal wat met hulle verskil is kommuniste, fasciste, kwaadwillig, dom en agterlik.

Daarmee wil ek bloot sê dat ’n mens onderskeid moet tref tussen die ekstremiste en gematigdes wat op grond van dieselfde feite wat ék hanteer tot ander gevolgtrekkings kom. Ek plaas Ernst Roets en ander AfriForum-woordvoerders wat ek ken in laasgenoemde kategorie. Met húlle is ’n rasionele gesprek moontlik. Ek hoop dat dié gesprek só gevoer sal kan word.

Intussen steun ek die idee van ’n algemene inentingsverpligting. Gee só ʼn persoon ’n bewys dat hy ingeënt is, en maak dit ’n voorwaarde vir toelating tot openbare ruimtes waar ’n oningeënte ander mense se reg om gesond te bly, kan aantas.

In ’n vrye samelewing móét vryheid en regte met pligte gebalanseer word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Treurwilger ·

Dit is doodgewoon oneties van farmaseutiese maatskappye en regerings om geen verantwoordelikheid te neem vir middels wat op gesonde mense afgedwing word nie.
Gevestigde, beproefde inentings is natuurlik ‘n ander saak.
AfriForum maak ‘n mens trots dat gesonde verstand nog bestaan.

Johnny ·

“Die vraag wat hieruit voortspruit, is: Is die bedreiging van die koronavirus in al sy variante groot genoeg om só ’n – onbetwiste – beperking van persoonlike vryhede te regverdig?”

Nee. Die eerste vraag wat gevra moet word is of die inspuiting die opdoen en/of verspreiding van die virus verhoed of verminder. Indien dit nie daardie effek het nie, het dit geen invloed op diegene rondom die oningespuite nie, maar slegs op die een wat die prosedure op homself laat uitvoer.
Volgens alle beskikbare inligting, doen dit NIE. So die afdwing daarvan, hetsy deur verpligting of deur die ontneem van regte, is dus NIE aanvaarbaar nie.

Rupert Ashford ·

Ten beste werk hierdie entstowwe soos die griepentstof. Dit verhoed nie dat mens die virus opdoen of versprei nie. Dit lyk wel of daar ‘n hoer persentasie ingeentes is wat ligte simptome het as by ongeentes. So nee, die ongeentes is nie gevaarlik vir ingeentes nie, dit is eerder andersom.

VaalDonkie ·

Die handves van menseregte verbied die geforseerde toedien van mediese eksperimente. En dit verbied ook die opskorting van daardie reg onder ‘n toestand van ramp of nood. Die res van jou brief is bloot warm lug

Douw Gerbrand ·

Baie dankie vir ‘n gebalanseerde artikel. Eerste keer in ‘n lang tyd dat ek sien iemand gebruik die woord braaf korrek , m.a.w. deugsaam

chris ·

“Intussen ondersteun ek die idee van ‘n algemene inentingsverpligting” Dit is duidelik nie ‘n gebalanseerde artikel geskryf met die doel om die oordeel aan die leser oor te laat nie,maar eerder om ‘n spesifieke standpunt te stel !

Francois Le Cochon ·

Dankie Leopold. Dit is presies wat dit is. Samesweerders verwys graag na Openbaringe, maar ek verwys graag na Spreuke 18:2, en 23:9.

MT ·

Vreemd genoeg stem ek 100% saam met jou. Leopold toon sy onverstandigheid hier vir ‘n tweede keer deur ‘n spoeg-en-plak poging van ‘n vorige poging van hom op die Maroela webwerf.

Terloops, daar is slegs een Openbaring in Die Bybel.

Rupert Ashford ·

As die entstowwe die antwoord was, hoekom lyk dit dan of Europa en ander Noordelike Halfrond streke afstuur op ‘n rampspoedige winter tenspyte van hoe inentingspersentasie? En NEE dit is nie Omikron en Suider Afrika se skuld nie – die syfers is alreeds hoog en hierdie variant kom nou maar eers te voorskyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.