Besnoeiing van fondse sny NWO’s se keel af

Deur Bianca Smit

(Foto: Tim Marshall/Unsplash)

ʼn Maatskaplike werker is vir baie ʼn ligdraer, ʼn hoopdraer. Maar wat gebeur wanneer daardie lig uitgedoof word deur ʼn departement wat net sy eie agenda deurdruk?

ʼn Maatskaplike werker by ʼn organisasie sonder winsbejag (NWO) offer so baie van haarself op omdat daar ʼn passie in haar hart brand, maar wat brand deesdae in die hart van ons departement van maatskaplike ontwikkeling? ʼn Politieke agenda of ʼn droom-rehabilitasiesentrum van die Gautengse premier?

My vraag is: Ten koste van wat gebeur dit?

Die impak van hierdie besnoeiing en heraanwending van die NWO-begroting deur die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling is soveel groter as wat besef word. Dit stuur op ʼn maatskaplike ramp af.

Hierdie einste departement sukkel reeds om die basiese dienste waarvoor hulle verantwoordelik is, suksesvol te lewer. Die handjievol personeellede in die departement wat werklik hulle werk doen is net té min om op te maak vir die ander wat ongeërg is in hulle werk. Hierdie einste departement is nie daar wanneer daar in weerlose kinders se gesiggies gekyk moet word en vir hulle gesê moet word: “Jammer, daar is nie geld om julle te help nie.” Hulle is ook nie daar wanneer die bejaarde of gestremde persoon voor hulle huil nie.

Die departement is besig met magspeletjies in hulle ivoortoring, terwyl die mense op grondvlak wonderwerke verrig met min of geen hulpbronne nie.

Die tyd het aangebreek dat almal teen hierdie gebrekkige stelsel opstaan. Die tyd het aangebreek dat werklike konsultasiesessies, eerder as gedikteerde inligtingsessies, plaasvind. Die tyd het aangebreek dat die DMO die regte ding doen en hulle magspeletjies staak. Hulle moet tot die besef kom dat hulle hier met regte mense se lewens speel, nie net met van die weerloostes in ons land nie, maar hulle speel ook met diegene wie se hart brand om die weerloses te ondersteun.

Ek word oorval deur maatskaplike werkers wie se poste by NWO’s in gedrang is – instellings waarvan die teikens vir die diens wat hulle lewer dieselfde bly, maar wat nou ʼn besnoeiing van 61% op subsidies en salarisse wat vanaf die departement ontvang word in die gesig staar.

Sekere instellings se subsidies is nie net gesny nie. Dit is sommer by voorbaat van die hand gewys. ʼn Lekker groot verwerpingsbrief is sommer summier aan baie instellings gestuur, sommige kennisgewings met verskonings soos dat die aansoek afkomstig is van ʼn area waar daar nie groot nood is nie. DMO, as jy die moeite doen om ʼn bietjie op grondvlak te kom kyk wat aangaan, sal jy sien die nood is orals. Suid-Afrika verarm terwyl ons regering meer plunder en bedrog pleeg.

Al wat julle nou noem, is dat konsultasiesessies oor die besnoeiing gehou is. Volgens my is ʼn konsultasiesessie ʼn tweerigtinggesprek, maar julle het meer gefokus op ʼn gedikteerde inligtingsessie. Daar word gereeld genoem dat die NWO’s julle vennote is, maar ook net wanneer hulle mooi by julle agenda inpas. Daarna is hulle beslis nie ʼn vennoot nie, want vennote sny nie mekaar se kele af nie.

Ek kan nie stry dat dié areas wat volgens die DMO meer fokus moet geniet, nie belangrik is nie. Ek kan beslis daarmee saamstem. Om te fokus op rehabilitasie, die verbetering van townships, informele nedersettings en hostelle (TISH) en vaardigheidsontwikkeling is ʼn groot deel daarvan om armoede te verbreek. Die probleem kom egter in wanneer die departement wat hiervoor verantwoordelik is dié wonderlike planne nie altyd korrek uitrol nie. Hierdie planne moet ook nie ten koste van ander belangrike areas uitgevoer word nie. Areas wat veral drasties gesny is, is kindersorg, bejaardesorg en gestremdesorg. Daar is instellings in hierdie areas wat reeds groot en suksesvolle programme in hulle plaaslike gemeenskappe bedryf.

Daar word klem gelê daarop dat staatskapasiteit verhoog gaan word om dienste te lewer. Wat beteken dit? Beteken dit ʼn sentralisering van dienste by die staat ten koste van NWO’s? Dit maak nie saak hoeveel bykomende kapasiteit die departement probeer skep om dienste te probeer lewer indien hy reeds in sy mandaat misluk het nie.

Ek kan nie met ʼn geruste hart in die aand gaan slaap as ek weet die keel van doeltreffende kindersorg, gestremde- en bejaardesorg word afgesny nie. Die vraag is egter: Het die departement ʼn geruste hart?

  • Bianca Smit is die netwerk-koördineerder van die maatskaplikewerkersnetwerk by Solidariteit.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Linda ·

Maar daar is geld sodat “ministers’ nie beurtkrag hoef te he nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.