Daar ís belangriker goed wat saak maak

pretoria-girls-high-school

Die hek van die Pretoria Girls High School. Foto: Twitter

Aksie lok reaksie uit. Reaksie lok teenreaksie uit. En só kan ’n saak eskaleer totdat niemand meer onthou waaroor die oorspronklike geskilpunt gegaan het nie.

Skoolmeisies se hare by die Pretoria High School for Girls is só ’n saak.

Toe die herrie ontstaan, was my eie – en baie ander se – gevoel: Mense, het ons nie belangriker dinge in ons land om ons oor moeg te maak nie? Soos misdaad, gebrekkige of afwesige dienslewering van die staat se kant, korrupsie, politici en amptenare se onbekwaamheid, omgekeerde apartheid in die vorm van die ANC-weergawe van regstellende aksie, die aktiewe en passiewe miskenning van inheemse tale (waarvan Afrikaans een is), ensovoorts.

Moet ons nie eerder dááraan aandag gee as om te kere te gaan oor skoolmeisies se hare nie?

As ’n mens sien hoe die openlike rassistiese Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, die saak uitgebuit het, is dit duidelik.

Maar nee, eintlik is ek verkeerd. Daar is ’n goeie saak voor uit te maak om die meisies se hare op dieselfde vlak as die miskenning van Afrikaans en Afrikaners se gevoelens te beskou.

Dit gaan naamlik veel dieper as bloot die hare. En, al hou sommige lesers nie daarvan nie, min dinge in die lewe is swart-wit; eerder verskillende skakerings van grys. Want ook dié saak en alles wat daarmee saamhang, kan vanuit verskeie hoeke bekyk word, elk met sy eie waarheid.

Die een waarheid is dat skole eenvoudig die reg het om reëls binne redelike perke voor te skryf, oor kleredrag, oor gedrag, ja, ook oor hare. Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het dit na aanleiding van die herrie bevestig, en verskeie swart skoolhoofde het saamgestem dat die skool se reëls oor hare redelik is, al kan ’n mens opmerkings maak oor die manier waarop dit toegepas word.

Maar ’n mens lees nou dat die skoolmeisies ook minagtend ontmoedig word om swart tale onderling te praat. Daar is na dié tale glo as “foreign languages”, “geraas” en “snaakse geluide” verwys.

Waar het ek soortgelyke dinge gehoor? O ja: Ná die Anglo-Boereoorlog is kinders in Transvaal dikwels verbied om Afrikaans te praat. As hulle dié reël oortree het, is hulle in die hoek van die klas gesit met ’n snaakse kontrêpsie op die kop en ’n kennisgewing om die nek: “I am a donkey”, of “I am a dunce”.

Vir die Engelssprekende onderwysers was Afrikaans gelyk aan die gebalk van ’n donkie. Soos die huidige Engelssprekende onderwysers aan die Pretoria High School for Girls swart tale as “geraas” en “snaakse geluide” bestempel.

’n Eeu gelede was sulke beskouings in die Engelssprekende pers deel van die hoofstroom. Die historikus Paul Zietsman het dié versameling uitsprake van die eerste jare ná 1902 uit die mond van Engelssprekendes oor Afrikaans opgeteken: “Barbarous tongue, mongrel language, hotch potch taal, awkward unidiomatic speech, ox-waggon vernacular, cacophonous jumble, undignified gabble, a dialect degenerate and decaying, mongrel patois.”

Iets soortgelyks geld die hare. Swartes se haartekstuur is nou eenmaal anders as dié van wittes. Dis nie positief óf negatief nie; dis eenvoudig ʼn nugtere, neutrale feit van die lewe.

Swart kinders se haardosse lyk – selfs binne redelike perke van netheid – anders as dié van wit kinders. Raak gewoond daaraan, sou ek sê.

As jy swart mense dwing om – buite normale perke van netheid – hul hare ánders te dra as wat die natuur aan hulle voorskryf, ontken jy daarmee ʼn belangrike aspek van hul menswees, te wete hul kulturele identiteit. Dis identies aan wat die Engelse ná die Anglo-Boereoorlog met my voorouers gedoen het: Die Afrikaanse taal is minderwaardig en eerder ʼn keelaandoening as ʼn taal; die Afrikaneridentiteit is verwerplik en moet verruil word vir die Engelse identiteit.

Soos lord Milner dit gestel het: “The South Africa struggle continues. It has changed character; it is no longer a war with bullets, but it is war still. We must knock the bottom out of the Afrikaner nation for ever and ever. Amen.”

Geen wonder nie dat baie swart mense besonder skerp op die skool se dinge gereageer het.

Maar ook daardie reaksies moet liefs nugter bly en nie te ver gaan nie. In Sondag se Rapport is berig dat Trude Gunther, ʼn Kaapse aktrise en kunstenaar wat uitgenooi is om haar kuns by ʼn kultuuraand vir feminisme op Stellenbosch aan te bied, deur swart studente verjaag is.

Die rede? Haar hare was in Afrika-styl gevleg. Die studenteraadslid vir vrouebemagtiging en Afrika-sake, Farai Mubaiwa, het aan die koerant gesê Gunther het “kultuurdiefstal” gepleeg.

Met ander woorde, volgens Mubaiwa mag net swart mense hul hare in Afrika-styl dra. Gunther, ʼn wit vrou, pleeg ʼn kulturele misdaad as sy dit ook doen.

Besef Mubaiwa en dié wat Gunther saam met haar van die byeenkoms verjaag het, wat hulle sê? Besef hulle dat hulle net so kolonialisties en kultuurimperialisties optree as die leiding van die Pretoriase meisieskool? Dat daar bitter min prinsipiële verskil tussen hulle en lord Milner is?

Daar is nou eenmaal verskille tussen volke en rasse. Let wel, nie wat aanleg of intelligensie betref nie, maar wel betreffende voorkoms en kultuur. Die een is nie beter of slegter as die ander nie.

Ek is toevallig ʼn Afrikaner met steil hare (weliswaar nie meer so baie nie, maar tog). As iemand vir my sê die tekstuur van my hare gee hom of haar aanstoot, sê dit níks van my nie en álles van daardie persoon.

As iemand vir my sê my taal is gemors, wys dit eenvoudig dat dié mens ’n gebrek aan beskawing het. En as iemand ’n ander persoon wil verbíed om haar hare soos dié van ’n ander kultuurkring te dra, kom dit gevaarlik na aan openlike rassisme.

In hemelsnaam, kom ons aanvaar mekaar soos God ons gemaak het. Dis net so goed jy dink ek is minderwaardig oor ek ’n korterige outjie is. Pleks van om my te oordeel oor wat tussen my ore aangaan en hoe ek teenoor my medemense optree.

En ja, uiteindelik ís daar inderdaad belangriker dinge om ons oor moeg te maak. Los mekaar se hare en tale uit!

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

16 Kommentare

Popeye ·

Amen! Nou moet almal net op dieselfde bladsy van “besef” kom!

Kobus ·

Goeiedag Leopold. Betreffende kulturele identiteit, bv Oosters, Muslim, Afrikaans, ens. Ons is by die 20 kultuurgroepe in die land, met net soveel tale (11 amptelik). In hoe verre almal in een skool akkomodeer?

Ek neem aan elke skool moet volgens sy kultuurgroepe en streek waar hy geleë is, bv Limpopo, besluite neem?

Dit is soos om Wes Europa in een land te akkomodeer. Ons skole is meestal (buiten vir die Afrikaanse skole) multikultureel en gedwonge geintegreer, sal dit nie beter wees om alles wat na kultuur lyk oorboord te gooi nie?

Die ‘Afrikane’ dit is nou ook die swart kultuurgroepe in SA, het lankal die westerse kleredrag aanvaar, maar westerse norme en standaarde met haredos het hulle ‘n probleem mee?

Wat nou ook van ander kultuurgroepe met hul eiesoortige hooftooisels en bedekkings? Die buitelanders moet maak soos die Afrikane maak? En anders om? Moet ons dan nou maar die westerse skooldrag ook mee wegdoen en kulturele drag in die skole toelaat, of beide toelaat, na keuse?

Dan ook wat taal aanbetref, jy wil in SA nie in jou moedertaal onderrig hê nie, maar in Engels, soos Lesufi najaag, maar dan dring die kinders daarop aan om in hul moedertaal op die instansie se gronde met mekaar te kommunikeer. Wat dan liewer van moedertaal onderrig, dit dis dan die taal waarin jy die beste kommunikeer, wil jy dan nie ook daarin leer nie?

En Mandaryns? Wat dan eerder in elke streek ook ‘n streektaal, of ‘n paar streektale as vak toelaat?

Kobus ·

Dan lees ek so pas die nuuskommentaar van Herman Toerien op Maroela Media vanoggend: “Net te wit, of net te swart?”

Het ons nie dalk te veel tale en kuture in die land om almal se behoetes in een skool of universiteit ter wille te wees nie? Nie werklik een skool of universiteit nie, maar dat alle skole en universiteite soos die regering dit druk en probeer vorm, ook die studente, ge-deKolonialiseer moet word en dat almal dieselde moet lyk soos een skool en een universiteit moet optree, een Afrika kultuur met gemeenskaplike taal’ weerspieël? Almal lyk en is dieselfde?

Leopold Scholtz ·

Beste Kobus, verstaan ek jou nou reg? Sê jy ek self is teen moedertaalonderrig? As ek jou reg verstaan, wil ek jou vriendelik uitnooi om jou stelling met aanhalings uit my geskrifte te staaf, want dit is pertinent nie waar nie. Kinders moet liefs in hul eie moedertaal onderwys ontvang. Maar ons weet almal die skole wat in swart tale doseer, is oorwegend minderwaardig, en dis hoekom sommige swart ouers hul kinders na wit en Engelssprekende skole stuur. Dis aan die een kant jammer, maar dis ‘n feit van die lewe. Terwyl hulle daar is, respekteer hul anderswees en hul anderslyk. Net soos ek as Afrikaner graag gerespekteer wil word op grond van hoe God my gemaak het. Ek hoop ons verstaan mekaar nou reg. Groetnis.

Kobus ·

Goeie more weer Leopold, nee, skuus, ek vra om verskoning, jy verstaan my beslis verkeerd. Dalk het ek my verkeerd uitgedruk, ek lees bykans al jou skrywes, (ook op Netwerk24) so ek weet beslis waar jy staan. My betoog is teen die mense soos Lesufi wat moedertaal onderrig in die land teenstaan.

Ek moes daardie eerste sin van die laaste paragraaf in my eerste kommentaar hier bo beter gestel het, daardie ‘jy’ wat ek gebruik het, was nie op jou gemik nie, dit was op die mense hiér gemik, wat na Engels toe dwing en moedertaal onderrig verguis. Dankie in alle geval vir jou antwoord. Vriendelike groete.

Kobus ·

Goeienaad Leopold, ek voel ek moet darem weer aan jou skryf. Ek het die bogemelde stuk aanvanklik baie langer en sinvol geskryf, toe sien ek dit mag nie meer as 250 woorde wees nie, dus haal ek toe redelik baie uit. Ek was nogal bekommerd dat dit nie die boodskap sou oordra soos ek bedoel het nie, ek het nogal baie gesny, en nou besef ek, ek moes dit nooit gestuur het nie.

Ek het dit geskryf, soorvan, soos hier bo, maar dit was om jou te vertel soos ek dit hier ervaar, soos dit is en die regering en mense in beheer dit hier toepas, nie jou sienswyse nie en is dit nie op jou gemik nie.

Ek wil net een ding vir jou beduie en dit is dat ek jou vir baie jare volg. Dit is altyd verfrissend om te kan lees dat mens se kop nie so verkeerd in denke is nie, as mens jou ontledings en nugtere denke lees. Jy is een van die barometers in mens se lewe.

Dankie vir jou bydrae om rustigheid aan ons denke te gee.

Therese van Schalkwyk ·

Ja wat, los die hare en taal eers en takel die belangriker dinge soos Europese leerplanne, die óórverteenwoordiging van wittes op die personeel en moenie die koloniale gewoonte om te betaal vir onderwys vergeet nie.

Sarie ·

Die beste artikel wat ek oor die hare kwessie gelees het. Alles word vandag tot raskwessies gereduseer. Leef en laat leef en moet jou nie bo ander stel nie. Die Engelse hovaardigheid waarmee ons sedert Milner struggle het duidelik na vore gekom:)). Rhodes het gesê die Engelse is Gods gift to the nations of iets in daardie lyne. Snaaks in die Afrikaanse skole was hierdie harekwessie nie ter sprake nie.

Theuns ·

Dr. Leopold, ek stem saam met van jou lesers! In jou het die Afrikaner die wysheid van Salamo. Jy moes ons President gewees het. Ek hoop daar is van die jonges wat eendag by jou kan oorvat. Ek hou van jou manier wat jy net die waarheid, reguit kan praat sonder dat iemand dit bevraagteken of wat jy se betwis kan word! Amen.

Nico K ·

Dit is ongelukkig so dat rassisme van twee kante afkom. Toe daar in die vroeg 90’s vir die eerste keer swartes by ons in die staatsdiens begin werk het, kla een vrou ook dat die swartes kan skinder oor ons en ons moet hulle verbied om hulle taal te praat. Toe onthou ek my ouma wat vertel het hoe hulle nie eers pouses by die skool Afrikaans mag gepraat het nie en hoe die Afrikaner daaroor gevoel het.

Emile ·

Die kulturele-diefstal insident by Stellenbosch is slegs ‘n na-apery van ‘n Amerikaanse insident. In die Amerikaanse media is die swart dame, wat die aggressiewe aantygings gemaak het, egter duidelik daarop uitgewys dat hierdie haarlokke geensins eie aan die swart Afrika-kultuur is nie en vir duisende jare deur Egiptenarie, Indiers, Mesopotamiers edm gedra is.

Hoop die Stellenbosch-kunstenaar verkla die swart SR lid by menseregte komissie.

Theresa ·

Die samelewing in ons land het besonders verander. Nie noodwendig altyd ten goede nie. Mense kla dat hul in ‘n rigting gedwing word, maar wil dit self graag uitoefen. Bv. mense moet aanvaar as ‘n sekere hooftaal gebrekkig gepraat word. Uitspraak totaal en al verkrag en die respek om so ‘n taal korrek te praat, kort. Maar, dan word n taal wat vir hierdie wanuitsprekers afgebreek tot niks en die poging om die kamstige minderwaardige taal tot niks waarde te kry, is aanhoudend en volgehoue. Laat elkeen sy eie taal geniet. Dit pla nie om in moedertale te studier nie. Dit pla om daar sonder te moet wees. Gaan na die kerk waar jou taal gepreek word. Los die kerke uit wat nie jou taal preek nie. Skoolhare moet netjies wees. Dis nie die plek om die langste pruike denkbaar te dra nie – maak nie saak wat jou velkleur is nie. En, ons velkleure verskil. Ons haarsamestellings verskil. Ons tale verskil. Ons maniere verskil. Ons denke verskil. Ons leefwyses verskil. Daar is slegs een ding tussen al die verskille wat ons kan laat saamstaan en ‘n land laat vooruitgaan en dis verdraagsaamheid met die afwesigheid van haat.

Santjie stoof ·

Nou ja…
Laat ons maar ophou hare kloof en derms ryg…..

barend ·

dit is hoekom elke groep [nasie] in sy eie taal [moedertaal]onderig moet kry .swart by swart ,wit by wit dit werk net ,ek het geen proebleem met inspeksies op hare en skool klere nie dit is n moet .dit wys en leer net self repsek

Leopold Scholtz ·

Beste Kobus, Jammer dat ek nou eers reageer; dit gaan bietjie dol hier by my en ek kon nie vroeer hierby uitkom nie. Is reg so, vriend, ek dink ons verstaan mekaar. Dankie vir die reaksie. Lekker naweek.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.