Deel I: Koalisiepolitiek in ʼn konstitusionele demokrasie

Inleiding

Prof. André Duvenhage. Foto: NWU

Die Suid-Afrikaanse politieke omgewing verander teen ʼn snelle tempo met verreikende implikasies vir die politieke spektrum (veelpartystelsel) en die onderskeie steunbasisse van politieke partye. As uitkoms van die “politieke kantelpunt” wat Suid-Afrika na veral 2019 bereik het, was ʼn herskikking van die politieke spektrum (die stelsel van politieke partye en hul plasing op grond van die status quo) aan die orde, met aanduidings dat meer verandering kan volg.

Hierdie aspek word beklemtoon deur veranderende stempatrone (veral verhoogde politieke apatie); soms laer steunvlakke vir gevestigde politieke partye; hoër steun vir sommige kleiner (lees nis-) partye; en nuwe politieke rolspelers wat toetree.

Kortliks, Suid-Afrika verander op talle terreine en politieke partye moet aanpas (soms ter wille van oorlewing) in ʼn politieke omgewing wat groot uitdagings stel.

Dit is veral die inploffing van die ANC as die oorheersende, selfs hegemoniese politieke party oor die afgelope bykans drie dekades, wat bydraend is tot die hersamestelling van die politieke spektrum. Op sy hoogtepunt, tydens 1999, het die ANC op nasionale vlak net minder as 70% steun gehad – dit wil sê meer as ʼn twee-derde meerderheid.

Hierdie situasie het egter sedertdien drasties verander. Tydens die 2021-plaaslike verkiesings kon die ANC (op nasionale vlak) slegs sowat 46% steun mobiliseer, met sowat 66 tot 70 “hangrade” as uitkoms. (Hangrade beteken geen party kon ʼn volstrekte meerderheid behaal nie, wat tot vorme van samewerking en/of koalisiesluiting as ʼn noodwendige uitkoms lei.)

Vier van die agt metropole is tans reeds onder opposisie- (lees koalisie-) beheer; in twee ander, naamlik eThekwini- en die Nelson Mandelabaai-metropool, is die ANC-geleide koalisies besig om te verkrummel, en in Mangaung regeer die ANC met ʼn meerderheid van net een setel.

ʼn Steeds verslegtende scenario vir die ANC­-familie (as die oorheersende hegemonie van veral die eerste twee dekades na 1994) skep geleidelik toenemende ruimte vir samewerkende regering tussen partye met verskeie raamwerke van samewerking (alliansies, koalisies en ooreenkomste).

Op nasionale vlak het die ANC se steun tydens die 2019-verkiesing tot 57,5% gedaal, maar onlangse ANC interne meningspeilings dui daarop dat ANC-steun tot selfs onder 40% kan daal. Daarbenewens toon dieselfde verslag ʼn toename van steun vir die DA (27% of 5% meer), asook vir ActionSA (6% tot sowat 4% meer). (IPSOS-Markinor plaas daarteenoor die ANC op sowat 42% nasionale steun, die DA op slegs 11% en die EFF op sowat 9%.)

Mathews Phosa verwys nie sonder rede na die ANC as ʼn “bloeiende dier” nie, terwyl adjunkpresident David Mabuza (by die onlangse ANC-konferensie in Noordwes) gemeld het dat die ANC voor die grootste krisis in sy bestaan te staan gekom het. Dit volg op Thabo Mbeki en andere se skerp kritiek op die leierskap van die ANC, in besonder dié van Cyril Ramaphosa.

In hierdie stadium lyk dit onwaarskynlik dat die ANC ʼn volstrekte meerderheid tydens die komende nasionale en provinsiale verkiesings gaan behaal. Koalisiepolitiek gaan ʼn belangriker en selfs deurslaggewende rol speel in die politieke bestuur van die land, op beide nasionale en provinsiale vlakke.[i]

Hierdie is ʼn werklikheid waarvoor politieke partye en belangegroepe sal moet beplan in ʼn Darwinistiese politieke wêreld, waar net die sterkstes en die slimstes gaan oorleef en min ooreenkomste permanent en volhoubaar gaan wees. Die woorde van Antonio Gramsci is moontlik hier belangrik as hy stel dat: “The old world is dying, and the new world struggles to be born: now is the time of monsters”.

Hierdie artikelreeks fokus op koalisiepolitiek en die toepassing daarvan binne die Suid-­Afrikaanse konteks. Dit is verkennend met ʼn strategiese inslag en perspektief. Laasgenoemde hou verband met die bestuur van verandering en watter rol koalisiepolitiek in hierdie verband kan speel. Die veranderende Suid-Afrikaanse konteks word as vertrekpunt geneem, asook dat die verkiesing (soos beplan vir 2024) wel sal plaasvind ten spyte van verslegtende politieke, ekonomiese en maatskaplike toestande.[ii]

Algemene vertrekpunte

ʼn Volledige strategiese ontleding en omgewingsverkenning van die Suid-Afrikaanse politiek is nie moontlik binne die konteks en fokus van die artikelreeks nie. Daarom word volstaan met ʼn aantal vertrekpunte (en ook aannames) ten opsigte van die Suid-Afrikaanse politieke bestel en wat die toekoms moontlik mag inhou.

Die sentrale doelstelling is om die belangrikheid van koalisiepolitiek te beklemtoon met betrekking tot die voortsetting en funksionering van die Suid-Afrikaanse demokratiese bestel – soos beliggaam in die 1996-grondwet en die toepassing daarvan.

My oorhoofse vertrekpunt is dat die Suid-Afrikaanse politiek rondom 2019 ʼn kantelpunt bereik het. Dat die huidige staatkundige bestel, met inbegrip van die konstitusionele demokrasie, in krisis verkeer – beide funksioneel en uit ʼn legitimiteitsoogpunt. Dat politieke geweld en die eskalering daarvan ʼn sterk moontlikheid is. Dat die dieptepunt van die kantelpunt nog nie gedurende 2022 bereik is nie. En dat die ANC sy posisie as oorheersende politieke mag in die Suid-Afrikaanse politiek tydens die volgende nasionale verkiesing kan verloor.

Die volgende sake verdien verdere vermelding:

Die politieke kantelpunt het as uitkoms die herskikking van die politieke spektrum met nuwe magbalanse (dit is duidelik waargeneem tydens die 2021- plaaslike verkiesings).

Die post-kantelpunt politieke proses kan moontlik selfs op ʼn gewelddadige wyse (dit wil sê nie-konstitusioneel) aan ʼn ander bedeling geboorte skenk, met gepaardgaande groot onsekerheid, onstabiliteit en toenemende geweld. Hiervan getuig die geweld van Julie 2021 in KwaZulu-Natal en Gauteng. Verdere vooruitsigte op geweld word ook vir die toekoms deur sommige analiste en politici voorspel. Dit hang veral saam met die implementering van die bevindinge van die Zondo-kommissie en die moontlike gevolge daarvan vir sekere politieke en ander elite-groepe. ʼn Toename in ernstige gewelddadige misdaad en die ineenstorting van die strafregstelsel in Suid-Afrika moet in hierdie verband verdiskonteer word.

Die huidige polities-staatkundige orde is in sy huidige formaat nie volhoubaar nie, met groeiende sosiale en maatskaplike uitdagings wat kontinuïteit en politieke stabiliteit bedreig (die Arabiese Lente-perspektief; die Tunisië Dag; of “Die nag van die lang messe” is scenario’s wat vir die Suid-Afrikaanse politiek gevisualiseer word. Helen Zille het immers ook reeds verwys na Suid-Afrika se “Kristalnag” na aanleiding van wat in Nazi-Duitsland in 1937 gebeur het).

Die staatkundige bestel verswak toenemend, met ʼn volledige “gevalle staat” as slegte-saak-scenario wat toenemend manifesteer, soos blyk uit die situasie ten opsigte van plaaslike regering, Eeskom, die Landbank, die SANW en die SAPD, om net enkele instellingsomgewings as voorbeelde te beklemtoon.

Hierdie politieke herskikking wat op die tafel is, is die grootste sedert 1994 en hou verreikende implikasies in vir die demokratiese en konstitusionele orde, asook ondersteunende instellings. Laasgenoemde verwys na artikel 9-instellings, asook instellings vanuit die burgerlike samelewing.

Die hart van hierdie politieke herskikking is gevestig in die Breë Kerk van die ANC, wat besig is om (soms op gewelddadige en misdadige wyse) uitmekaar te skeur en in duie te stort. Dit neem die vorm aan van beide inploffings (disfunksionaliteit) en ontploffings (toenemende geweld), wat ʼn groot bedreiging inhou vir politieke en staatkundige stabiliteit in Suid-Afrika.

Die gebrek aan sterk leierskap van binne die regering, asook binne opposisie­geledere, is prominent in die huidige tydsgewrig.

Die leierskapsrol van Cyril Ramaphosa (of die gebrek daaraan), die interne botsings binne die ANC, en die uitspeel daarvan in die lig van die komende verkiesingskonferensie van die ANC, gaan nie net die toekoms van die ANC bepaal nie, maar ook dié van die groter staatkundige bestel.

Hierdie artikelreeks neem as vertrekpunt dat die politieke, ekonomiese en sosiale omstandighede nie sodanig sal verswak dat die bestel die punt van ʼn konstitusionele krisis bereik wat die voortbestaan van demokratiese praktyke in gevaar sal stel nie.[iii]

Die uitgangspunt is dat Suid-Afrika ʼn nie-gekonsolideerde demokrasie is wat nog besig is om te bou aan die grondslae van ʼn bedeling wat drie dekades gelede gekonsepsualiseer is. ʼn Bedeling wat voor reusagtige politieke, ekonomiese en maatskaplike uitdagings staan. Dat die ANC sy absolute meerderheid op nasionale vlak kan verloor en dat koalisiepolitiek dan binne ʼn demokratiese orde toenemend deurslaggewend gaan wees vir die verkryging en/ of behoud van politieke mag.

Die stand van die konstitusionele demokrasie

Waar demokrasie in die algemeen beteken regering vir die volk, van die volk en deur die volk (Abraham Lincoln) beteken konstitusionele demokrasie: “… the authority of the majority is limited by legal and institutional means so that the rights of individuals and minorities are respected”. En verder: “This is the form of democracy practised in Germany, Israel, the United States, and other countries”.

Konstitusionele demokrasie verwys na sake soos beperkte regering (wigte en teenwigte), verantwoordelike regering, skeiding van staatsmagte, die oppergesag en onafhanklikheid van die regbank, asook talle vorme van burgerlike vryhede en die erkenning van die onafhanklikheid van die burgerlike samelewing.

Die feit dat die mag in die volk gesetel is dui op die reg om te kan stem binne ʼn stelsel van gereelde en vrye verkiesings, aan die hand van ʼn bepaalde kiesstelsel onder die toesig van ʼn onafhanklike verkiesingsliggaam.

[i] Hoewel koalisies en alliansies akademies van mekaar in die teks onderskei word, word die konsep “koalisiepolitiek” wel gebruik om te verwys na die makro-omgewing van samewerkende politiek en sluit dit koalisies, alliansies en ander vorme van samewerking in.

[ii] Dit is die skrywer se oordeel dat die Suid-Afrikaanse grondwetlike bedeling voor ernstige uitdagings te staan gekom het en dat vrye en regverdige verkiesings nie ’n noodwendige uitkoms hiervan gaan wees nie!

[iii] Hoewel nie die mees waarskynlike scenario nie, is dit ’n moontlikheid wat ook nie sonder meer van die tafel gevee kan word nie.

Hierdie artikel is die eerste van vier in die artikelsreeks oor Suid-Afrikaanse koalisiepolitiek. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: André Duvenhage

André Duvenhage is politieke ontleder en professor in Politieke Wetenskap aan die Noordwes-Universiteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Groen Ghoen ·

Die vraag is: Waarheen nou? Die land se infrastruktuur en ekonomie is vernietig; Werkloosheid is seker +50%; 18m mense leef van toelaes? Volgens Napoleon is ” ‘n Leier ‘n handelaar in hoop.” Watter hoop bied Ramapromises? Meer vals beloftes, onsinnighede en hersinskimme? Die keiser is kaal maar niemand het die moed om dit vir die goedgelowiges te vertel nie. ..laat hulle eerder rugby kyk en braai!

Republikein in die Wes Kaap ·

Afrikaners se belangstelling in politiek neem af. Dis te betwyfel of daar teen 2030 nog enige belangstelling sal wees, behalwe vir ontleders en studente.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.