Deur watter bril kyk jy na die politiek?

Dr. Pieter Mulder

Hoe kyk en beoordeel jy die politiek? Meer spesifiek: Deur watter bril kyk jy na die politiek? Baie mense is tans verward met die Suid-Afrikaanse politiek, omdat hulle deur die verkeerde bril daarna kyk.

Vier voorbeelde:

  1. By die ANC se provinsiale leiersverkiesing-konferensie in KwaZulu-Natal (KZN) is die huidige voorsitter, Sihle Zikalala, uitgestem en met Siboniso Duma vervang. Dit was ʼn konferensie vol hoogspanning en emosie.

As jy deur ʼn polities-korrekte bril daarna kyk, soos die meeste media doen, dan verklaar hulle dit as net ʼn oorwinning vir die RET-faksie in die ANC. Dit is die faksie van Ace Magashule en oud-president Jacob Zuma.

As jy deur ʼn etniese- of kultuurbril kyk, sien jy verdere aspekte. Op vrae van die media kan die lede van die RET-faksie nie werklik die beleidsverskille tussen die RET-faksie en die Ramaphosa-faksie aandui nie. Hulle praat eerder oor die onreg teen Jacob Zuma as vorige president en Zoeloeleier.

Hulle sing tydens die konferensie deurlopend “Wenzeni uZuma awuphendule (Wat het Zuma verkeerd gedoen?) Die Zondo-kommissie se negatiewe bevindings oor Zuma, ignoreer hulle. Hoekom? Omdat hulle trotse Zoeloes is. Hulle voel seergemaak dat Ramaphosa (lid van die onbelangrike Vendas volgens hulle) hulle Zoeloeleier, Jacob Zuma, verneder het deur hom “onregverdig” in die tronk te gooi. Om nog sout in die wond te vryf, het Ramaphosa hulle vorige Zoeloe-premier, Zweli Mkhize, uit die kabinet gegooi. Hulle glo dat daar berekend ʼn veldtog teen die Zoeloes is, want vir die eerste keer in die geskiedenis is daar by die ANC se nasionale konferensie in 2017 geen Zoeloe in die topses ANC-poste verkies nie.

Om die saak reg te stel is hulle eerste doelwit om die pro-Ramaphosa mense uit te stem. Dan gaan hulle na die ANC-kongresse om die opsystaan-klousule te skrap. Daarna gaan hulle Zweli Mkize as nuwe ANC-president en hulle Zoeloe-kandidaat propageer, ten einde vir Ramaphosa in Desember as ANC-president uit te gooi.

Of dit alles so maklik gaan werk, moet nog gesien word. By die onlangse ANC-konferensie kon hulle nie daarin slaag om die opsystaan-klousule geskrap te kry nie.

  1. As jy deur ʼn polities-korrekte bril na die Julie-onluste verlede jaar kyk, dan was dit honger en werklose mense wat by breekpunt gekom het. Hulle het kos gesteel en so skade aangerig as deel van hulle protes.

As jy na die onluste deur ʼn kultuurbril kyk, dan was dit Zoeloes wat opgesweep is as gevolg van Zuma se vernedering om tronk toe gaan. As armoede en werkloosheid die rede was, is die vraag waarom daar geen onluste in Limpopo of die Oos-Kaap was nie? Hierdie provinsies is die armste provinsies in Suid-Afrika. Waar die onluste na Gauteng oorgespoel het, was dit daar waar die Zoeloes in die meerderheid was.

  1. As jy na Bheki Cele se posisie deur ʼn polities-korrekte bril kyk, dan is dit onverklaarbaar dat hy nie as ʼn onbekwame minister afgedank word nie.

As jy deur ʼn kultuurbril kyk, dan kan Ramaphosa nie bekostig om, ná hy Zweli Mkize afgedank het, nog ʼn Zoeloeleier af te dank nie.

  1. Toe Thoko Didiza in 2016 as ANC-burgemeesterskandidaat vir Pretoria-Tshwane voorgestel is, het dit tot onluste in Mamelodi gelei waarin vyf mense dood is. Sy is deur die mense van Mamelodi as ʼn buitestaander beskryf. Deur ʼn polities-korrekte bril was dit onverklaarbaar, want sy woon al bykans 30 jaar in Pretoria.

Deur ʼn kultuurbril is sy ʼn Zoeloe wat van buite op ʼn oorwegend Tswana-Pedi gebied afgedwing is. Op Twitter skryf Emily Batloung daaroor: “This is not Natal, this is Pretoria-Tshwane. Go to hell Didiza or go back to Natal”.

Die voorbeelde hierbo illustreer dat deur gebeure ook deur ʼn kultuurbril te bekyk, dikwels sake verklaar wat andersins verwarrend is. Dit verklaar byvoorbeeld waarom die EFF amptelik die opposisie in Limpopo en Noordwes is, maar nie werklik in KZN vorder nie.

Volgens die ANC en die meeste media is etnisiteit iets uit die apartheidstyd wat tot die verlede behoort en vandag nie meer enige rol in die politiek speel nie. Politiek is ongelukkig nie so eenvoudig nie.

Buthelezi het gesê: “Our ethnicity was not invented by apartheid, — only used by it. I did not create Zuluness. Zuluness created me and it will last long after I am gone…”

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wicus ·

Dis hoekom ek verbaas is dat CR al so lank in die stoel is.

Braam ·

Iets wat ek nog nooit kon verstaan nie is hoe die hiper konserwatiewe en kultuur liewende mense is SA (dit sluit in alle kleure, rasse en stamme) so ‘n drastiese hiper liberale grondwet en nuwe wetgewings kon saamstel en onderstuen nie. Dit strook glad nie met die meerderheid mense in Suid Afrika se siening oor sake nie, maar word doelgerig deur die ANC gepropageer en afgedwing. Was en is daar nie dalk eksterne invloede van buite SA wat die rigting bepaal nie. Anders as wat ek in die internationale media lees, sien ek nerens dat ons lokale rubriek skrywers, politieke analiste en joernaliste daaroor skyf nie. Is dit nie dalk tyd om meer openlik daaroor te begin debateer nie?

Republikein in die Wes Kaap ·

Terwyl ek so lees raak ek net meer bekommerd. Afrikaners en ander minderhede sak daagliks verder af in ‘n onbeheerbare maalkolk.

Heinrich ·

Ek verkies die realiteit sonder ‘n bril: die ANC is die sterkste ekonomie in Afrika (asook beste vervoernetwerk, krag uitvoere ens) op ‘n skinkbord gegee en hulle het elke moontlike staatsdepartement gebreek agv ‘n ideologie wat niemand êrens anders op die planeet kon maak werk nie. Die Nee-stemmers het gesê dat ‘n bevrydingsbeweging nie ‘n land kan regeer nie en tot dusvêr slaag die ANC loshande daarin om hulle reg te bewys.

Republikein in die Wes Kaap ·

Daai referendum was 30 jaar gelede. Tyd om aan te beweeg en nuwe oplossings te vind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.