Die arbeidsverhoudinge-bedeling ná Covid-19

Gideon du Plessis.

As ʼn pandemie het Covid-19 wêreldwyd ʼn impak op die wêreld van werk, en die virus sal ook wêreldwyd ʼn invloed op die arbeidsverhoudinge-bedeling ná Covid-19 hê. Die verskil is net dat Suid-Afrika reeds voor die Covid-19-pandemie met abnormale arbeidsverhoudinge-uitdagings gekonfronteer is wat ons herstelfase gaan bemoeilik.

Die bykomende arbeidsverhoudinge-uitdagings is veral die Eskom-kragkrisis, regulatoriese onsekerheid, ʼn verswakkende staat en rommelstatus – uitdagings wat die ander lande waarmee ons op ekonomiese terrein meeding, nie gaan ondervind nie.

Post-Covid-19 en werkverliese

Trae ekonomiese herstel en ʼn “beleggerstaking” gaan vir ʼn geruime tyd steeds hoë werkverliese beteken. Die gevolg van voortdurende afleggingsprosesse is verhoogde spanning en konflik binne die arbeidsverhoudinge-veld.

Wat die spanning verder verhoog, is Covid-19 wat aan die vierde nywerheidsrevolusie (4NR) momentum gegee het. Aan die positiewe kant bied ʼn 4NR-werkomgewing verhoogde vergoeding en werksekerheid vir vaardige werknemers, maar daarteenoor beteken meganisering, outomatisering en die daarstelling van ʼn virtuele werkplek ’n laer indiensname en werkverliese vir semi- en ongeskoolde werknemers.

Omrede regstellende aksie nie toegepas kan word in omstandighede waar spesialisvaardighede benodig word nie, sal politieke weerstand vanuit regeringskringe en populistiese vakbonde tot gevolg hê dat die 4NR se momentum sal afneem, met die gevolg dat die vervaardiging- en mynbousektore se internasionale markaandeel ʼn knou gaan kry, wat verdere werkverliese tot gevolg kan hê.

Post-Covid-19 se negatiewe en positiewe verwikkelinge

Met voorgenoemde ter agtergrond behoort die arbeidsverhoudinge-bedeling in die post-Covid-19-tyd aanvanklik deur ʼn negatiewe fase te beweeg, wat deur ʼn meer positiewe fase gevolg sal word.

Negatiewe fase:

  • In reaksie op afleggings behoort daar meer stakings in plaas van regsaksies te volg omrede veral geaffekteerde blouboordjiewerknemers kan redeneer dat hul kanse om ná ʼn aflegging ander werk te kry, baie skraal sal wees en dat radikale optrede dus vereis word. Die Clicks-situasie dien ook as bevestiging vir populistiese vakbonde dat radikale optrede tot ’n gunstige skikking kan lei.
  • Vakbondwedywering behoort ook te verhoog soos vakbonde uit desperaatheid lede by ander vakbonde sal wil afrokkel of noodgedwonge buite hul tradisionele ekonomiese sektore sal begin organiseer.
  • Laastens behoort daar ook ʼn toename in konflik oor die botsing van idees binne die ANC/SAKP/Cosatu-alliansie te wees waar Marxisme deur Realisme uitgedaag gaan word.

Positiewe-fase:

  • Omdat vakbonde en vakbondfederasies soveel lede gaan verloor weens afleggings, kan dit tot samesmelting van vakbondgroeperinge lei. Byvoorbeeld SAFV (Suid-Afrikaanse Federasie van Vakbonde) en Cosatu as federasies, en die Num en Numsa as vakbonde, kan saamsmelt aangesien hulle dieselfde sosialistiese ideologiese onderbou het en destyds deur ’n pro- en anti-Zuma-sentiment uitmekaar gedryf is. Minder fragmentering in vakbondwese sal intervakbondkonflik verlaag.
  • Die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad(NEOAR) behoort ook meer inklusief te word weens te veel prominente, onafhanklike vakbonde wie se stem en insette nie by NEOAR gehoor word nie, wat tans die instelling se diepte en geloofwaardigheid onder verdenking plaas.
  • Tydens toekomstige salarisonderhandelinge behoort die fokus ook na werkbeskerming te skuif en groter klem sal geplaas word op die maatskaplike loon wat aspekte soos opleiding, pensioenfonds, en beroepsgesondheid en veiligheid insluit.
  • Die posisionele salarisonderhandelingsmodel wat op die wen-verloor-beginsel geskoei is, behoort ook vervang te word deur ʼn belange-gebaseerde onderhandelingsmodel wat op wen-wen en samewerking geskoei is.

Die uitdagings van die rolspelers in arbeidsverhoudinge

Laastens sal die vier arbeidsverhoudinge-rolspelers die volgende uitdagings in die post-Covid-19-fase die hoof moet bied:

Regering: Daar sal baie druk op die regering wees vir die liberalisering van arbeidswetgewing en belegger-onvriendelike regulasies. Die regering sal ook, soos die geval met Russiese president Wladimir Poetin tydens sy bewindsoorname in 2000, tot die besef moet kom dat slegs markekonomie-beginsels ’n land se ekonomie van totale ineenstorting kan red. Enige toegewings sal tot konflik binne die drieparty-alliansie lei, wat die skeuring van die alliansie tot gevolg kan hê.

Werkgewers: Werkgewers sal meer kragdadig moet optree om hul volhoubaarheid te verseker, dus sal hulle minder toegewend teenoor vakbonde se eise moet wees. Hulle behoort ook ʼn teenprestasie te eis in ruil vir ʼn salarisverhoging wat toegestaan word.

Werknemers: Dit gaan ʼn ongemaklike tyd vir die meeste werknemers wees en vrees, onsekerheid en woede sal die emosies wees waaraan werknemers geken word, maar daar sal ook gevalle wees waar werknemers hul werkplek positief sal beleef.

Vakbonde en Solidariteit se Werkherstelprogram: Vakbonde se ideologiese begronding gaan bepaal hoe daar op voorgenoemde emosies en ingesteldheid van werknemers gereageer gaan word en watter suksesse daaruit gaan voortspruit.

Solidariteit se Werkherstelprogram wat pas van stapel gestuur is, is ʼn bloudruk om op voorgenoemde behoeftes van werknemers te reageer.

Verder sal die relevansie en effektiwiteit van vakbonde binne die nuwe arbeidsverhoudinge-bedeling bepaal word deur die wyse waarop vakbonde die oorgang na die sogenaamde gemeenskapsvakbondwese-model kan maak. Hiervolgens word werknemerkwessies deur die gemeenskap waaruit hul afkomstig is, gesteun, terwyl die gemeenskapskwessies ook as werknemerkwessies geag word.

Solidariteit funksioneer reeds as ’n gemeenskapsvakbond en sy Werkherstelprogram sal ook hierdie beginsel verder versterk.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jack ·

Vakbonde kan ‘n opbouende maar ongelukkig ook ‘n destruktiewe rol speel. Solidariteit is ‘n voorbeeld van eersgenoemde en die COSATU geaffilieerdes van laasgenoemde.
Tweedens behoort vakbonde nie deel te wees van die regering nie maar hulle toespits om wen-wen situasies met werkgewers organisasies te bewerkstellig. Cosatu invloed in die regering het die SA ekeonomie geknou met beleide soos regstelende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en demografiese verteenwoordiging. Daarenteen het hulle meriete, kwalifikasies en ondervinding afgekraak. Die gevolge was grootskaalse onbevoegdheid en onderprestasie.

Ek is dankbaar vir die gesindheid en ingesteldheid wat Solidariteit uitstraal. Doe zo voort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.