Die Eksodus-beginsel: NWU en die Gereformeerde kerke se Teologiese skool

puk

NWU Potchefstroomkampus

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is die afgelope paar weke gereeld in die nuus. ʼn Dorpskoshuis se inwoners word uitgesluit van ʼn eerstejaarsverwelkomingseremonie by die NWU se Potchefstroomkampus weens hulle rassesamestelling wat te wit is.

Ek het nêrens soortgelyke berigte gesien oor die rassesamestelling van die eerstejaars by die NWU se Mahikeng-kampus wat net swart is nie. Ook nie oor die Venda- of Limpopo-universiteite met 99% swart studente nie. Daarna word ʼn NWU-studenteleier uit die studenteraad geskop omdat sy blykbaar vir die dorpskoshuise opgekom het in hierdie geveg. Dan lees ek van die skeiding tussen die Potchefstroomse Teologiese skool en die NWU.

By die onlangse algemene sinode van die Gereformeerde kerke in Suid-Afrika (GKSA) het hulle besluit dat hulle samewerking met die Noordwes-Universiteit (NWU) tot ʼn einde kom sovêr dit die opleiding van predikante betref. Dié ingrypende sinode besluit en die koerantberigte illustreer hoe die NWU die afgelope tyd verander het. Dit bevestig ook hoe min van die oorspronklike Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) oor is.

Die Universiteit het sedert sy stigting in 1869 ʼn lang geskiedenis van sukses en mislukking, van voorspoed en swaarkry, wat regstreeks verband hou met die verandering van regerings in Suid-Afrika. Soos die pendulum tussen ʼn goedgesinde en vyandige regering swaai, het dit voorspoedig of sleg met die universiteit gegaan.

Dit laat my aan die Bybel en aan Eksodus 1 dink. In Genesis lees ons hoe Josef as slaaf in Egipte aankom en homself opwerk tot ʼn onderkoning. Uit hierdie magsposisie sorg hy vir sy broers, bring hulle na Egipte en red hy hulle van hongersnood. Dan volg die Bybelboek Eksodus. Die boek begin deur te skryf dat Egipte ʼn nuwe Farao gekry het. ʼn Farao wat nie vir Josef geken het nie. Die nuwe vyandige Farao stel dan slawedrywers aan om die Israeliete te onderdruk. Die nageslag van Josef word vir eeue slawe in Egipte.

Die PU vir CHO se wortels gaan terug na die oprigting van ʼn GKSA-teologiese skool in 1869 in Burgersdorp. In 1904 het die Teologiese skool na Potchefstroom geskuif en ʼn “Literariese departement” bygekry wat ander vakke as teologie gedoseer het. Uit hierdie Literariese departement het die latere universiteit gegroei. As ʼn privaat instelling wat gesteld was daarop dat hulle onderrig Christelik moet wees, het hulle geen finansiële hulp van die destydse regering gekry nie.

Met die Nasionale Party (NP) aan bewind in 1924 het die Potchefstroomse Universiteit-Kollege (PUK) wel ʼn subsidie van die staat begin kry.

Later het die regeringsklimaat weer verander. Ten einde geld van die staat te kon kry, moes die “CHO”, wat vir Christelike Hoër Onderwys staan, weggegooi word. Dit het tot ʼn dekades lange stryd teen hierdie “gewetensklousule” wat dit veroorsaak het, gelei.

Die NP kom weer aan bewind met die 1948 verkiesing. Nou is dit “ons mense” wat regeer, argumenteer goedgesinde ondersteuners van die PUK. Met die hulp van die NP-regering slaag die PUK om in 1950-1951 as ʼn selfstandige universiteit erken te word. Dit span die kroon op amper ʼn eeu se worsteling. Die aanvanklike stigters het na 80 jaar daarin geslaag om ʼn selfstandige, Christelike en Afrikaanse universiteit te vestig. Die PU vir CHO kry hierna jaarliks op ʼn gelyke vlak met alle ander universiteite ʼn groot finansiële bydrae van die staat.

Maar die pendulum swaai terug en die Eksodus-beginsel geld weer as die ANC in 1994 aan bewind kom. Transformasie van die samelewing, wat dit ook al presies beteken, plaas druk op alle instellings.

In ʼn debat met minister Kader Asmal, die destydse verantwoordelike minister, verwys ek na die onbillike druk op Afrikaanse universiteit om te verengels. Die minister argumenteer dat verengelsing nodig is om toeganklikheid vir alle studente te verseker. My teenargument is dat dit dan nie in Johannesburg sal geld waar Wits en die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU vandag UJ) vier kilometer van mekaar is nie. Uitsluiting en toeganklikheid kan nie hier geld nie waar studente tussen die twee universiteite kan kies in watter taal hulle wil studeer. Waarom moet RAU dan ook verengels? En word Afrikaanse studente dan nie ook uitgesluit deur alles te verengels nie?

Hy het geen antwoord op my argumente gehad nie.

In my argument het ek na “ons Afrikaanse Universiteite” verwys. Asmal se onmiddellike reaksie was dat alle staatsuniversiteite sedert 1994 “belong to all the people of South Africa”. Tegnies was hy natuurlik reg. As die PU vir CHO teoreties sy privaat status behou het, sou die argument nie op hom van toepassing gewees het nie.

By die PU vir CHO is ʼn forum gestig wat op 26 Junie 1994, na die 1994-verkiesing, ʼn verklaring uitstuur met onder andere die bewoording: “… that the PU for CHE… accepted and implemented policy which deeply affected fellow South Africans and did not always realise the Christian principles for which the university stood.” 

Dit is ʼn poging om uit te reik en ʼn klimaat te skep om met die nuwe regering, wat vyandig mag wees, saam te werk.

Om ʼn okkerneut te kan eet, moet jy eers sy dop kraak. As die dop nie wil kraak nie, neem jy ʼn ander een. As sy dop begin kraak, kry jy hom nie jammer en sit die neut terug nie. Jy druk harder want jy weet hy kan heeltemal meegee. Dit was my ervaring met die ANC-regering. Hulle plaas meer druk op jou, as dit lyk of jy begin kraak.

In 2002 het dr. Theuns Eloff nuwe rektor geword. Hy vra ʼn komitee van internasionale kundiges van Europese universiteite om aanbevelings oor die PU vir CHO te maak. Hulle beveel aan dat die “Christelike Hoër Onderwys”, as kwalifisering van die Universiteit se naam, weggelaat word. Van hulle argumente is dat deur dit weg te laat ontslae geraak word van ʼn “ʼn stuk apartheidsbagasie”. Die “CHO” is toe verwyder.

Hierna kom die Noordwes Universiteit (NWU) tot stand as die Potchefstroomse Universiteit, Bophuthatswana Universiteit en die Vaaldriehoek saamsmelt om een universiteit te word met Eloff as rektor. Met tolkdienste word ʼn goeie balans tussen Afrikaans en Engels gehandhaaf. Ek verduidelik hoe die tolkdienste werk aan ANC-leiers en ANC-ministers wat vir onderwys verantwoordelik is. Hulle verstaan en stem saam dat ten minste een uit 36 kampusse in Suid-Afrika oorwegend Afrikaans kan wees met sulke tolkdienste.

Na prof. Dan Kgwadi rektor word, word die druk op Afrikaans al groter. Op die oomblik is Engels besig om geleidelik orals Afrikaans op die Potchefstroom-kampus uit te druk. ʼn Opname van watter kursusse tans slegs in Engels aangebied word, sal hierdie stelling bevestig. In verskeie fakulteite word alle klasse reeds net in Engels aangebied. Engels is ook die administratiewe taal van die universiteit. Dit beteken dat alle dokumentasie en vergaderings in Engels alleen plaasvind. Tolkdienste word al hoe minder gebruik.

Met die CHO weg en Afrikaans onder druk is min van die oorspronklike PU vir CHO oor. Tot onlangs het meer as 75% van die Potchefstroomse NWU-studente by ʼn ander universiteit verby gery om by die NWU te kom studeer. Hierdie studente, oorwegend wit en bruin, maar ook swart, het met hulle voete gestem om aan ʼn Afrikaanse Universiteit met ʼn Christelike instelling te studeer. Soos die kampus verander en verengels, raak hierdie uniekheid verlore. Daar is nou geen rede meer waarom so ʼn student by Wits of die Universiteit van Pretoria sal verby ry as sy kursus in elk geval ook net in Engels by die “nuwe” NWU aangebied word nie. Dit lyk of die NWU se bestuur hierdie argument nie wil verstaan nie.

As hulle hiermee volhou, is die eindpunt daarvan dat die NWU net nog ʼn Engelse plattelandse universiteit sal word soos die Universiteit van Venda of Limpopo en andere wat vanweë hulle ligging nie met stedelike universiteite soos Wits en Pretoria kan kompeteer nie. So ʼn universiteit word ʼn “laaste-uitweg-universiteit”. Swakker studente, wat nie by hierdie stedelike universiteite geakkommodeer word nie, val dan as hulle tweede of derde keuse terug op die NWU.

Vir 150 jaar was die Teologiese skool die simboliese hart van die universiteit. Die ooreenkoms wat die NWU aan die Teologiese skool voorgehou het, was nie vir die GKSA aanvaarbaar nie. Simbolies verloor die NWU nou hierdie hart. Die ooreenkoms het bepaal dat die NWU alleen die inhoud van die Teologiese kurrikulum wil saamstel en die reg sou hê om die Teologiese dosente aan te stel. So ʼn situasie maak dit onmoontlik om Teologiese studente vir die GKSA op te lei.

Die sinodebesluit het ingrypende finansiële implikasies vir die GKSA se Teologiese skool, maar soos een dosent aan my gesê het: “Ons het met niks in Burgersdorp begin nie en het oorleef – ons kan dit weer doen.”

Onder die ANC se regeringsdruk herhaal hierdie patroon hom steeds meer in Suid-Afrika soos wat verskillende instellings gedwing word om hulle los van staatsinstellings te maak en na hulleself te begin omsien.

Die troos is dat in Eksodus die pendulum soos altyd wel terugswaai het en die Israeliete na ʼn tydperk uit Egipte verlos is deur te trek!

Dr. Pieter Mulder is ʼn Gereformeerde lidmaat en was vir 15 jaar ʼn dosent en professor aan die PU vir CHO voor hy tot die parlement verkies is.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Hoekom het Eloff nie ‘n proses begin om die PUK te privatiseer nie? Die kerk kon gehelp het.

Johannes ·

Eloff was deel van die groep wat met die ANC begin onderhandel het toe hulle nog ń verbande organisasie was. In “89 is hy uit die kerk uit, juis oor sy geheime ontmoetings met die ANC. Hy was deel van die Kodesa onderhandelings met die ANC. Hy was ook hoof van administrasie vir die veel party onderhandeling proses in 93/94. Saam met dit was hy hoof van die FW de Klerk stigting gewees ook.
Maak nie saak hoe jy daarna kyk nie, Eloff is nie ń friend van die Afrikaner nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

So, PUK se probleme het by hom begin.

ABDP ·

Ek kan getuig ek was een van vele studente wat verby vele universiteite gery het sodat ek in Afrikaans kon studeer in die heel eerste jare van die nuwe “NWU”. Die ou PUK kultuur en trasdisies was darm nog duidelik en aktief en Afrikaans was warm op kampus. My bande is het ek nooit verbeek met die NWU nadat ek af studeer het nie, en het nog altyd my kennis probeer terugploeg in van die studente. Dit was duidelike die laaste paar jaar hoe die NWU verander het. Die studente wat voor my deur kom staan het was nie Afrikaans nie, was nie deel van die kultuur soos wat ek die ou PUKKE onthou het nie en was dit so moeilik as ou Allumni om met hulle te kon vereenselwig. Die verandering van die NWU was so drasties sodat ons die opleiding gestaak het einde laasjaar.

Republikein in die Wes Kaap ·

Jy het seker toe besef die land het ook verander. Vir ons generasie wat diensplig gedoen het is dit ‘n pynlike gedoente.

Matmiet ·

My alma mater, die PU vir CHO is nie meer nie, ook nie meer die PUK kultuur wat so uniek was nie, als deel van die geskiedenis. Maar ons as Afrikaners sal aanhou vorentoe kyk en planne maak. En as ek so besin oor my kinders wat oor ‘n paar jaar ‘n universiteit moet kies, begin ek wonder of plekke soos Akademia nie dalk die nuwe PUK is nie.

Flemming ·

Miskien sal hy die matroosgemeenskap te wit maak as hy aan boord sou wees.

Johannes ·

Mense, hou op om geld te gee aan organisasies wat jou haat.

Sterling ·

Die verskil tussen die Eksodus pendulum en ons huidige situasie is dat ons nie ‘n beloofde land het nie. Warheen kan ons trek?

Akademies, kan die volgende generasie na ‘n ander alma mater gaan, maar die samalewing onder ‘n onderdrukkende regering…nie almal kan trek / emmigreer nie.

Selfs al trek / semigreer mens na die Kaap, die Polisie en ander nationale dienste val of eerder faal steeds onder die ANC regering.

Die kern oplossing moet wees dat ons ten spyte van die regering ons eie toekoms in ons hande neem. Die oplossing gaan nie van die regering af kom nie. Dit gaan van onsself, uit onsself en ons samewerking in gemeenskappe kom.

Die verlede is vas. Wat help dit om blaam te plaas? Leer uit die foute en skep ‘n nuwe toekoms vir onsself en die volgende nageslag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.