Die Joods-Palestynse konflik, die beloofde land, en die volk van God

Deur dr. Adi Schlebusch

(Foto: Annette Riedl/DPA/AFP)

Die konflik tussen die Joodse en Palestynse volke in die Midde-Ooste duur al langer as die meeste van ons se leeftyd.

Die oorspronge van hierdie konflik lê baie diep in die geskiedenis, maar die hedendaagse oorlog tussen die Jode en Palestyne kan eintlik direk teruggevoer word na ʼn plan wat in 1947 deur die Verenigde Nasies (VN) aanvaar is. Daarvolgens moes daar in hierdie gebied, wat tot op daardie stadium as Palestina bekend gestaan het, twee onafhanklike volkstate gestig word. Jerusalem en omliggende gebiede sou ʼn spesiale internasionale sone word.

Alhoewel daar ook aan die Joodse kant ontevredenheid was, is die plan summier deur die Palestyne verwerp. Die dag nadat die VN die plan aanvaar het, het oorlog uitgebreek en die konflik het sedertdien nog nooit werklik opgehou nie. Vir lang tye het daar wel ʼn wapenstilstand gegeld, maar die laaste een is op 7 Oktober 2023 beëindig toe die terreurorganisasie, Hamas, skielik die grens tussen Israel en Gaza oorgesteek en Israel aangeval het. Sedertdien woed daar weer ʼn volskaalse oorlog waarin bykans 30 000 mense reeds dood is.

ʼn Vraag wat natuurlik dikwels onder veral gelowige Afrikaners ontstaan, is hoe ons onsself ten opsigte van hierdie konflik, wat vir die afgelope paar maande die wêreldnuus oorheers, moet posisioneer.

Wanneer ons wêreldbeskouing deur die Bybel gevorm word, is ons natuurlik geneig om onsself op ʼn besondere wyse verbonde tot die land Israel te sien. Dit is trouens die land wat die Here self aan die Ou Testamentiese volk Israel, ná die uittog uit Egipte, gegee het op grond van sy belofte aan Abraham. En dit is immers die land waar Jesus talle wonderwerke verrig en uit die dood uit opgestaan het.

Dit is ook daarom dat ons amper instinktief die huidige konflik in die lig van die Skrif probeer beskou en veral die profesieë aangaande die tydperk tussen Christus se hemelvaart en sy wederkoms. Soos die apostels in Handelinge 1:6, worstel gelowiges dikwels met die rol wat die Jode as verbondsvolk in hierdie huidige bedeling speel.

Wanneer ons as gelowiges met komplekse kwessies soos hierdie worstel en na ʼn Bybelse antwoord vra, is dit belangrik om te onthou dat ons die Skrif as ʼn geheel moet beskou –  een samehangende openbaring van die onveranderlike raadsplan van God. Dit dwing ons tot die beginsel van analogia scripturae, die standpunt dat teksverse in die Bybel verklaar moet word in die lig van die boodskap van die Bybel as geheel. Hierdie beginsel is wesenlik belangrik vir die regte verstaan van die betekenis van die Beloofde Land en ou Israel as die volk van God met betrekking tot die nuwe verbond waarin ons leef.

Die Bybel noem Israel die volk van God (vgl. Eksodus 6:7; Deuteronomium 27:9; Jeremia 11:4). Dit is duidelik dat daar in hierdie verse van ʼn fisiese volk gepraat word. In Romeine 9:24-25 lees ons egter dat God nou sy volk versamel vanuit beide die Joodse en nie-Joodse volke.

Verder leer Titus 2:14 dat diegene wat deur Christus verlos is, God se volk is. Hierdie geestelike volk van God word dan ook in 1 Petrus 2:9 beskryf as “[…] ʼn heilige volk, ʼn volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig”. Hierdie geestelike volk van God, die Nuwe Testamentiese Israel, bestaan uit alle volke wat ooreenkomstig die groot sendingsopdrag van Mattheus 28:19 tot dissipels van Jesus Christus gemaak is.

Die realiteit van ʼn geestelike Israel bestaande uit ʼn verskeidenheid volke, word dan ook uitdruklik in tekste soos Openbaring 7:9 en 11:15 bevestig. Laasgenoemde teks beklemtoon dat al die koninkryke van die wêreld die eiendom van Jesus Christus word. Wanneer die evangelie oor die hele wêreld uitgaan, word die hele wêreld in ʼn sin die “beloofde land”. In Psalm 37:12 en Mattheus 5:5 word God se belofte van ʼn grondgebied vir verbondsgehoorsaamheid immers op die hele aarde van toepassing gemaak. Romeine 4:13 verwys dan ook in soveel woorde na die verbondsbelofte van die Beloofde Land aan Abraham as “die belofte dat hy erfgenaam van die wêreld sou wees”.

In die nuwe verbond is die hele wêreld die beloofde land en is God se uitverkore volk nie ʼn enkele etniese groep of volk nie, maar ʼn geestelike volk wat deur die band van geloof in Christus deur sy Gees verenig is (vgl. Romeine 9:6-13). Daarom sou geen volk op aarde, hetsy die Jode of die Palestyne of die Afrikaners of die Amerikaners, aanspraak daarop kon maak dat hulle op die een of ander unieke wyse God se uitverkore volk is nie. Wanneer ons dan die konflik tussen die Jode en Palestyne in die lig van die Skrif beskou, behels dit geensins blote vooroordeel teen ʼn Arabiese volk ten gunste van die volk waaruit Jesus gebore is nie. Nee, ons moet dit meer objektief beskou as ʼn stryd tussen twee volke wat beide geroep word om hulleself aan die heerskappy van die Koning van alle konings en volke, Jesus Christus, te onderwerp.

Hamas se terreurdade behoort daarom verwerp te word nie omdat die Palestynse volk as sodanig vyande van God se volk sou wees nie, maar omdat hierdie organisasie onskuldige mense, wat na die beeld van God geskape is, vermoor. En alhoewel Hamas ʼn verwerplike terroriste-organisasie is, moet ons altyd onthou dat daar gelowige kinders van die Here onder beide die Joodse en Palestynse volk is.

Wanneer ons die konflik in Israel en Gaza in die lig van die Bybelse beginsels van geregtigheid en naasteliefde beskou, kan ons nie anders as om voorstanders van die totstandkoming en internasionale erkenning van twee soewereine volkstate te wees nie: ʼn Palestynse staat en ʼn Joodse staat. Dit sal die heel beste oplossing wees om vrede in die streek te bewerkstellig en menselewens te spaar.

Laat ons daarom nie meegesleur word deur allerhande eindtydprofesieë in die lig van die tragiese gebeurtenisse aldaar nie. Laat ons eerder, wanneer dit kom by ons posisionering ten opsigte van die Joods-Palestynse konflik, onsself sonder skroom by die vredemakers skaar (vgl. Matteus 5:9).

  • Dr. Adi Schlebusch is lidmaat van die APK Lichtenburg.

Hierdie artikel is met vergunning van die APK gepubliseer. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Highlander ·

Ongelukkig is die oorspronklike eienaars van die gebied uitgemoor. Mans. vrouens, kinders en al hul diere.

Anton ·

Ek glo nie daar was al ooit ‘n oomblik in die wêreld waar daar nie êrens oorlog gevoer word nie. Oorlog was en sal alyd wees. Maar in verband met die huidige konflik in Israel en hoe ‘n Christen van buite sy oordeel kan maak, stem ek saam met die skrywer. Objektief en met die Bybel as kompas, maak dit sin.

Johan ·

So die skrifgeleerde reken daar is ‘n “geestelike Ys’rael” en vertel ‘n lang storie om sy onkunde te regverdig. Ek het nuus vir hom…………..

Jacob ·

Die feit dat Israel as ’n volk deur God uitverkies is, beteken nie dat elke indiwiduele Jood noodwendig gered is nie. Elke mens – beide Jood én nie-Jood – moet die evangelie van Christus glo. As Paulus skryf dat “hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie” (Rom 9:6b), dan verwys die apostel na die oorblyfsel van Jode wat glo, want slegs die gelowige nageslag van Jakob is die “Israel van God”. As dieselfde apostel in Romeine 9:25-25 uit Hosea 2:23 en 1:10 (respektiewelik) aanhaal, is sy hoofpunt God se verlossingswerk (soteriologie). In die verse net daarná, en veral hoofstuk 11, wys Paulus tog duidelik dat Israel steeds deel van God se raadsplan is; trouens, uiteindelik sal die “hele Israel” gered word (Rom 11:25-27). Paulus het dus nie die konsep van Israel herdefinieer, die Kerk as ’n geestelike Israel beskryf, of die volk Israel herinterpreteer sodat gelowiges uit verskillende volke van die aarde ewe skielik nou die volk “Israel” is nie. Wat wel sedert Pinkster gebeur, is dat gelowiges uit alle volke deur die Heilige Gees in Christus, en in die liggaam van Christus, gedoop word. Die Kerk is egter nie Israel nie. Verder, God het nog steeds ’n plan met nasies (of volke) as nasies (volke), met Israel die hoofnasie. Jesaja 19:23-25 beskryf “daardie dag” wanneer selfs Egipte tot redding sal kom en God se volk sal wees – en so óók Assirië, maar dieselfde teks sê Israel is steeds ’n nasie en steeds God se eiendom. En in die ewige bestel? As verskillende nasies hulle heerlikheid in die Nuwe Jerusalem bring, sekerlik sal die hoofnasie – ’n gelowige Israel – nie uitgesluit wees nie (vgl. Op 21:24)!

Romeine 4:13 sê dat Abraham die erfgenaam van die “wêreld” (κόσμος) sou wees, maar die “wêreld” in hierdie teks verwys meer waarskynlik na die beërwing van geregtigheid, lewe, en veral gelowige mense – en nie noodwendig na “land” nie. Romeine 4:13 verwys na Abraham se “beërwe van baie nasies”, die idee dat Abraham ’n baie groot geestelike nageslag uit al die nasies gaan erf. So gesien gaan Romeine 4:13 nie oor Ou-Testamentiese landbeloftes wat uitgebrei word of ‘n fisiese land wat vergeestelik moet word nie. Israel het hulle land en ander volke het hulle land.

Indien Israel se rol in God se raadsplan nie reg verstaan word, dan wil ek my verstout om te sê dat die eindtye nie reg verstaan “kan” word nie. Vergelyk gerus Joël 3:1-3 met Matteus 25:31-46. Een van die redes vir die uiteindelike skape-en-bokke oordeel is: “Hulle het my land verdeel” (Joël 3:2b). Wat gebeur siender-oë vandag? Israel is onder druk om hulle land te verdeel, asof dit ewe skielik “vrede en veiligheid” bring. Wat sê dit vir die sogenaamnde “twee-staat”-oplossing? Dalk staan profesieë oor Israel se land jou nie aan nie. Wat dan van Jerusalem? Raak die nasies nie alreeds bedwelm as sus-of-so in Jerusalem plaasvind nie (vgl. Sag 12:3). En die blote feit dat (tans oorwegend ongelowige) Jode teruggaan na hulle land toe, is dit nie presies waaror Esegiël 37:4-8 geprofeteer het nie? Indien teologie nie rekening met Israel kan hou nie, dalk is dit tyd dat (aspekte van) daardie teologie dringend sal verander.

Laastens, as lede van die liggaam van Christus leef elke gelowige vandag in en deur Christus (in Hom, in Jesus, in die Here) inderdaad onder die Nuwe Verbond. Maar lees gerus wat sê Jeremia 31:35-37 oor Israel in hierdie Nuwe verbond: “So sê die Here, wat die son bedags as ‘n lig gee, die vaste voorskrifte vir die maan en sterre as ligte snags, Hy wat die see in beweging bring, sodat sy golwe dreun; die Here, Heerser oor alle magte is sy naam: “As hierdie vaste voorskrifte voor My verdwyn,” is die uitspraak van die Here, “sal ook die nageslag van Israel ophou om vir altyd ‘n nasie te wees voor My.” So sê die Here, “As die hemelruim daar bo gemeet kan word, en die fondamente van die aarde daar onder vasgestel kan word, sal Ek ook die hele nageslag van Israel verwerp oor alles wat hulle gedoen het,” is die uitspraak van die Here.” Die Nuwe verbond sal ook met Israel as ’n volk/nasie gesluit word, sodra hulle as ’n kollektiewe groep uiteindelik Christus as die Messias aanvaar (Mt 23:39; Hand 3:19-21; Rom 11:25-27). En hulle sal (Hos 5:15-6:3; Sag 12:10)!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.