Die morele verval van plaasmoorde-ontkenning

(Foto: Maroela Media)

Op Dinsdag 29 Augustus breek AfriForum die nuus dat daar ʼn plaasaanval op ʼn egpaar van Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal was. Hulle is ernstig op hul plaas aangerand terwyl hulle aanvallers “Kill the Boer, kill the farmer” geskree het.

Die vroulike slagoffer is met ʼn spies gesteek, maar albei het die aanval gelukkig oorleef. Danksy die plaaslike boeregemeenskap en burgerlike veiligheidstrukture se vinnige reaksie is ses verdagtes, insluitend diegene in die ontsnappingsvoertuig, aangekeer.

Sulke stories rus swaar op jou hart al het party van ons se emosionele reaksie op die brutaliteit wat kenmerkend is van die meeste plaasaanvalle moontlik al na jare se blootstelling begin verflou. Iets anders het egter met hierdie gruwelstorie gepaard gegaan wat my maag laat draai het: Ontkenning. Walglike ontkenning vanaf mense wat hierdie arme slagoffers leuenaars genoem het nog voor die bloed op hul plaashuis se vloer eens droog was.

Dié soort gedrag spreek van iets dieper – meer spesifiek morele verval.

Hoekom is plaasmoorde die enigste geweldsmisdaad waar party mense glo dis aanvaarbaar en lofwaardig om die slagoffers doodeenvoudig leuenaars te noem? Hoekom is plaasmoorde die enigste geweldsmisdaad waaroor joernaliste grappies maak op sosiale media? Hoekom is plaasmoorde die enigste geweldsmisdaad waar diegene wat bewusmaking doen, beledig, bespot en belaster word? Hoekom is plaasmoorde die enigste geweldsmisdaad waar kranksinnige vlakke van bewyse geëis word? Hoekom is plaasmoorde die enigste geweldsmisdaad wat deur politici aangemoedig en verromantiseer word? Hoekom is plaasmoorde die enigste geweldsmisdaad waar party se onmiddellike reaksie is om haastig Suid-Afrika se algemene moordstatistieke aan te haal soos ʼn mantra, in plaas daarvan om simpatie en empatie te betoon?

Al verduideliking wat sin maak, is dat baie mense die slagoffers geword het van morele verval. Morele verval wat verdra en verskoon word. Ek dink een van die mees ooglopende kenmerke van ons tyd is die feit dat diegene wat die hardste oor rassisme of vooroordele skree dikwels die grootste skuldiges is as dit kom by hierdie afskuwelike eienskappe.

Ek het grootgeword in ʼn landbougemeenskap. Die meeste van my vriende het van plase af gekom, wat beteken ek het as kind baie tyd op plase deurgebring. Ek is van kindsbeen af blootgestel aan boerdery as ʼn edele beroep. Soos dr. Dirk Hermann al geskryf het: “[Baie van] hulle bly dalk nie op plase nie, maar daar is ʼn stukkie plaas in elke Afrikaner”. Dr. Wikus Buys sê daar is ʼn rede hoekom Engelssprekendes praat van ʼn “yard”, terwyl Afrikaners ʼn “agterplaas” het. Ons kultuur is só met boerdery verweef dat ons kollektief bekendstaan as die Boere.

Afrikaners wat nie self boer nie, het familie of vriende wat boer. Daar is dus ʼn inherente rede hoekom die kwessie van plaasmoorde so na aan Afrikaners se harte lê. Vandag bloei my Afrikanerhart weereens vir ons boere en ek bid vir hul veiligheid. Ek bid egter ook vir diegene wat so koud en harteloos geword het; ek bid dat God hulle stukkende morele kompasse sal herstel.

NP van Wyk Louw was reg toe hy geskryf het: “Inderdaad is die ‛donker magte’ van die selfsug, die domheid, die onredelikheid sterker by die mens as die redelikheid”.

Organisasies soos AfriForum sal aanhou veg ten spyte van die monsters wat ons teëkom. Ons is nie ontmoedig nie. Nie eens naastenby nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Benjamin ·

AfriForum ek is dankbaar vir alles wat julle doen en lang ure werk terwyl ek en die meeste mense net cuppacinos drink. Ek wou geld skenk vir julle “Kill the Boer” hofsaak maar hoekom n Switserse maatskappy gebruik om dit te doen? So baie vrae en toe hulle my adres wil weet kanselleer ek. In die ou dae kon mens sommer met jou selfoon klik en geld skenk. Ek dink dit sou beter gewerk het as al die vrae.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.